Skrywer: Dr. Cecilia Klopper, CURAparent
Dié tyd van die jaar loop die gemoedere maar soms hoog, want dit is eksamentyd en voorbereiding en hersiening is aan die orde van die dag.
Gelukkig is daar opvoeders soos dr Cecilia Klopper van CURAparent en een van Afrikaans.com se medewerkers, om ons leerders touwys te maak en toe te rus met handige wenke en riglyne om die eksamen sonder te veel stres aan te pak.
Ons het met dr Klopper gesels en gevra wat ouers kan doen om hulle kinders in die voorbereiding vir eksamen te ondersteun.
Dr Klopper gee die volgende riglyne:
- Die heel belangrikste is natuurlik dat ouers hul bes moet doen om ten alle tye ’n rustige leerklimaat by die huis te skep.
- Kinders moet ’n stil plekkie hê waar hulle ongestoord kan studeer.
- Koop asseblief riglyne en hulpbronne vir alle vakke. Dit is baie belangrik aangesien dit hulle insig in die kurrikulum gee. Die 3-in-1- Vraag-en-Antwoord-reeks het uitstekende boeke met baie goeie vrae.
- Stel die internet tot jou kinders se beskikking sodat hulle ook die gratis hulpbronne wat beskikbaar is, kan aflaai.
- Laai vir hulle vraestelle met memoranda van die laaste drie jaar af in al hulle vakke. Dit gee hulle ’n geweldige voorsprong. Ek wil amper sê dit is die groot geheim van sukses in enige graad 12-eksamen.
- Hou maar ’n ogie dat hulle genoeg slaap en gesonde kos uit al vyf die voedselgroepe inkry.
- Dit is ook nodig dat leerders genoeg moet ontspan en oefening Selfs net ’n gereelde stappie om die blok is beter as om heeltyd passief te wees.
- Gee vitamienaanvullings as jy sien jou kind het min energie. Dit sal hom ook help om beter te fokus.
- Laastens, maar baie belangrik: Identifiseer angs en depressie betyds en doen iets daaromtrent. Gewone asemhalingsoefeninge (5 asemteue deur die neus wat vir 5 tellings ingehou word en dan by die mond uitgeblaas word) help vir die angstige oomblikke.
- Indien daar is iets is wat jou kind pla, soos ’n probleem by die huis of ’n verhoudingsprobleem, ondersteun hom deur met hom daaroor te gesels. Daarna moet hy dit op ’n papier skryf en dit in ’n laai “parkeer” tot na die vraestel. Dan kan hy dit weer hanteer.
- Jou kind kan nie sy beste lewer as sy gemoedstoestand nie reg is nie. Ernstiger angs en depressie moet natuurlik op ’n deurlopende basis behandel word sodat dit nie tydens die ekstra spanning van die eksamen sy konsentrasievermoë benadeel nie.
- Indien leerders enigsins probleme ondervind met skoolwerk, reël onmiddellik ekstra akademiese hulp.
Wanneer moet voorbereiding vir die eindeksamen begin?
- As jy die nuwe jaar in Januarie aanpak, moet jy vooruit beplan en op dag EEN jou werk begin organiseer en daagliks in klein porsies bemeester.
- Die jaar gaan ongelooflik vinnig verby, aangesien jy eintlik al teen 1 Augustus al jou werk moet ken.
- Moenie uitstel nie.
- Sorg dat jou ouers weet waar jy staan met jou kennis. Stel hulle dadelik in kennis as jy ekstra hulp benodig veral in vakke soos Wiskunde, Fisiese Wetenskappe en Rekeningkunde.
Beplanning is noodsaaklik
Graad 12-leerders moet hul akademiese voorbereiding goed beplan. Begin sommer dadelik en druk of koop ’n jaarplan wat in dae/maande ingedeel is. Plak dit iewers op sodat jy met een oogopslag die hele maand/kwartaal se aktiwiteite kan sien. Skryf nou alle belangrike datums daarop. Dit sluit in: Toetse, eksamens, sperdatums, toere, partytjies, kerk asook buitemuurse oefeninge, wedstryde en kampe.
Beplan nou jou studierooster om jou belangrike datums sodat jy genoeg tyd het om al jou werk te leer.
Organiseer jou los blaai in afsonderlike leers – een vir elke vak.
Hou alle notas en opsommings bymekaar.
Laai vraestelle van die laaste drie jaar af, beantwoord dit en vergelyk jou antwoorde met die memorandums op dieselfde webtuistes. Dit is gratis.
Hier is nuttige webtuistes:
Jy kan ook bloot ’n spesifieke vraestel en meomorandum op die internet soek, bv. graad 12, Afrikaans huistaal, vraestel 1, November 2022. Daar behoort verskeie opsies van verskaffers te wees. Dit is gratis aflaaibaar.
Beantwoord die vraestelle en vergelyk die memorandums met jou antwoorde. Kyk wat het jy verkeerd gedoen en leer so uit jou foute.
Dit is baie belangrik dat jy sien HOE die vrae gestel word en wat die eksaminator as antwoord verwag.
Kyk ook na die puntetellings. Daar behoort twee – drie stelle vraestelle vir elke jaar te wees – Mei/Junie, wat die aanvullingseksamens is, asook dan die rekord- en eindeksamenvraestelle in November
Spesifieke voorbereiding: Afrikaans, vraestel 1
Dit is die vraestel waarin taal-, leesbegrip- en opsommingsvaardighede geassesseer word.
Soos reeds genoem:
BEANTWOORD OU VRAESTELLE
- Hersien afbytgrootte (net wat jy per dag kan baasraak in 15-30 minute).
- Daar is so baie wat ’n mens deurlopend kan doen om jou taalkennis te verbeter. As jy graag ’n onderskeiding wil kry, beveel ek aan dat jy op ’n weeklikse basis regdeur die jaar aan die moeilike aspekte van Taalstudie aandag gee.
BAIE BELANGRIK: Koop so nou en dan ’n goeie Afrikaanse tydskrif en ’n koerant en lees dit.
Hoe meer jy vertroud raak met die lees van koerante en tydskrifte, aanlyn of gedrukte kopieë, hoe makliker gaan die interpretasie van vraestel 1 vir jou word – want die vraestelle bestaan letterlik uit advertensies, artikels, berigte, onderhoude, weerkaarte, spotprente, strokiesprente en infografiese materiaal, soos bv. grafieke.
Hersien AL die taalkonvensies, soos die reëls vir ontkenning, lydende vorm, indirekte rede en dies meer. Let ook op jou woordorde – so baie van ons plaas die bywoord/bywoordelike bepaling in die verkeerde posisie in die sin.
Voorbereiding vir vraestel 2 – letterkunde
- Weereens, BEANTWOORD OU VRAESTELLE.
Eerstens: Jou drama, kortverhaal of roman:
Goeie raad is om jou voorgeskrewe letterkundeboeke dadelik te lees en op te som. Later is dit ’n geval van hoe later hoe kwater en soms bly die lees van die roman of drama agterweë. Dan gooi jy sommer ’n klomp punte weg in die eksamen.
Begin jou drama opsom sodra jy dit die eerste dag in jou hand het. Gebruik die volgende hoofde vir jou opsomming:
- Karakters, intrige, ruimte (milieu of omgewing), tema, boodskap, gebeure, progressie. Volgorde van gebeure (chronologies /a- chronologies), konflik (innerlik en uiterlik) toon en stemming/atmosfeer,
- Bou van die drama: eksposisie, motoriese element, ontwikkeling, krisis, klimaks of hoogtepunt, afwikkeling, afloop of denouement en die slot.
- Maak seker dat jy weet waar elke aspek in die drama voorkom.
- Leer die vrae en antwoorde wat jy deur die jaar gedoen het.
- Maak seker dat jy weet wat die skryf van ‘n literêre opstel behels.
Verder, ken en verstaan elke versreël van al jou gedigte baie goed.
- Ken die definisies en voorbeelde van alle digterlike aspekte, klankverskynsels, beeldspraak en retoriese middele sodat jy dit in die gedigte kan herken.
- Leer die vrae en antwoorde soos deur die jaar gedoen baie goed.
Voorbereiding vir vraestel 3: Stelwerk
VERGELYK OU VRAESTELLE EN MEMORANDUMS OM TE SIEN WAT ELKE OPDRAG BEHELS.
- Hersien die Afrikaans Huistaal Departementele Hersieningsgids. Die afdeling oor vraestel 3 is baie goed uiteengesit.
Afdeling A: Opstelle
Maak seker dat jy die onderwerp reg kan interpreteer om die regte soort opstel te skryf, hetsy ’n verhalende, beskrywende, argumenterende of bespiegelende opstel.
Gee aandag aan STRUKTUUR van jou opstel. In die treffende inleidende paragraaf moet jy sê waaroor jy gaan skryf, in die liggaam skryf jy dan ’n paar paragrawe oor verskeie punte, en in die slot skakel jy dan weer met jou inleiding en titel.
Afdeling B: Korter en langer transaksionele skryfstukke
Hier is struktuur ook baie belangrik.
- Die paragraaf
- Vriendskaplike en formele briewe (Inleiding, liggaam en slot)
- Advertensie
- Boodskap
- Dialoog/ onderhoud
- E-pos
- Uitnodiging
- Gelukwensing
- Huldeblyk
- Resensie
- Koerantberig
- Agenda en notule van ’n vergadering
- Toespraak
- Informele of formele verslag
- Tydskrif- of koerantartikel
Daar is dus regtig baie hulpbronne om naas jou klasnotas te gebruik indien jy erns maak met jou studies.
Onthou: ‘‘’n Mens moet jou swaarkry met lekkerkry klaarkry.” – CJ Langenhoven