Skrywer: Lizette Murray
Pouse-geselsie met: Elmien Thom, musiekonderwyseres, Hoër Meisieskool
La Rochelle, Paarl
Wat inspireer jou as onderwyseres?
Rick Warren se woorde: “Living for the glory of God is the greatest achievement I can accomplish with my life.” Dis vir my ’n inspirasie in die lewe en ook in die onderwys.
Wat gee jou vreugde in jou beroep?
Die feit dat ek kinders se lewe aanraak, is vir my ’n baie groot vreugde, voorreg en natuurlik verantwoordelikheid.
Hoe glo jy kan jy ’n verskil maak in ’n kind se lewe?
Omdat ek hoofsaaklik individuele lesse gee, ontwikkel daar redelik spontaan ’n persoonlike verhouding tussen my en my leerders. ’n Leerder neem my dan makliker in haar vertroue. Dit het al dikwels gebeur dat ek probleme kan help oplos of dit ten minste aan die regte mense kan deurgee om te help. En omdat ek in ’n meisieskool werk, is die spesiale vertrouensverhouding dalk nog meer voor die hand liggend. Ek kom agter dat ek al meer vertroue by die dogters inboesem hoe ouer ek word!
Hoe sien jy die verantwoordelikheid van ’n opvoeder?
Ek kan nie na afgeleë plekke gaan om daar ’n verskil te maak nie, maar ek kan van my eie omgewing ’n beter plek maak. As ek die beste onderwyser is wat ek kan wees, glo ek dat ek só die grootste verskil in my leerders se lewe maak. Ons kan die kinders baie meer as die akademie (of die klavier) leer. Ons moet hulle van die lewe leer. Die vrug van die Gees is liefde, vrede en vreugde, maar ook elkedagse dog moeilike dinge soos geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.
“Die wêreld het dromers nodig. Die wêreld het doeners nodig. Maar bo alles het die wêreld dromers nodig wat kan doen.” Sarah Ban Breathnach
Juffrou, my diepste wens vir jou is…
◆ dat die geur van vergenoegdheid en vrede om jou sal hang
◆ jy met passie sal leef en onvoorwaardelik sal liefhê
◆ jy sal onthou dat klein dingetjies sin aan die lewe gee
◆ jy met warmte en liefde ’n verskil sal maak.
– Sonja Holtzhausen, bemarker, Laerskool Laeveld, Nelspruit
’n Rooiappel-oomblik
Elize Coetzee, skoolhoof by Parow Voorbereidingskool, vertel:
Om by die skool te verjaar, bly ’n belewenis. Almal sing vir my en sê die mooiste woorde, ons druk mekaar, eet koek en gooi papierlinte. Dan gaan sit ek op ’n groot ou stoel voor in die saal en elke kind bring vir my ’n tuisgemaakte kaartjie, geskenkie of verlepte blommetjie wat op pad skool toe gepluk is. Só beland Akum voor my. ’n Vlugtelingkind uit die Kongo.
In die begin so wild en ongepoets dat ek op ’n dag sy pa ingeroep het en vir hom gesê het hy moet ’n ander skool soek. Ons sien nie meer kans vir Akum nie. Maar toe verander Akum. Onder sy juffrouens se liefdevolle hande het die wilde Kongo-kind in ’n wenner verander! Akum kyk diep in my oë. “Principal,” sê hy, “I have no money for a present, so I brought you this!” Hy haal ’n groot, ryp lemoen uit sy sak. “Principal, I made a few scratches in the skin, so that you can smell it properly. Happy birthday, Principal! Thank you, Principal!”
Die kinders kom verby. As die kaartjies en geskenkies te veel word, vat Juffrou Jackie dit by my en sit dit op die tafel sodat die ander kinders weer ietsie in my hande kan sit. Ek gee alles vir haar aan, maar ek klou verbete aan die lemoen. Later kyk ek weer na die lemoen met die letsels in die skil. Ek bid: “Here, dankie vir die vreugde van Akum se lemoen. Help my om ook so ’n lieflike geur te versprei!”
Hierdie verkorte artikel is geskryf deur Lizette Murray en het oorspronklik in Maart 2014 Lééf-tydskrif verskyn onder die afdeling: Carpe Diem! Wat sou die wêreld wees sonder onderwysers wat ons leer om die lewe met albei hande aan te gryp …
Afrikaans.com bedank Lééf vir die vergunning om die artikel te plaas.