Skrywer: Nicolette Kritzinger
Fotograaf: Gizela Conradie.
Jy lyk soos ’n polonie. Ingeprop in die styfste skakering van pienk wat Mr Price aanhou. Dis nou eers kwart voor nege en die skoonma het die toekomstige bruid al drie keer “vet” genoem, twee partytjiefrikkadelle is al oor die vertrek geslinger en iemand se kind (wat nie genooi was nie), suig tans aan die pienk organza op die tafel.
Is jy in die hel? Nee, dis erger. Jy is by ’n kombuistee.
Ek kan nie glo Mercia trou nie. Ons is al van laerskool af vriende. Op 14 het Mercia haar eerste trouman ontmoet – Pieter. Pieter was niks meer as ’n lopende puberteitspuisie nie, maar vir Mercia was hy die tipe man waaroor films gemaak word. Twee weke later het Pieter haar gelos vir Petro van Biologie. Mercia was ten gronde.
Nadat Mercia se ma uitgevind het sy het ’n kwart van haar maagdelikheid aan Pieter afgestaan, mag Mercia net langbroeke in twee skakerings van grys gedra het en is sy verbied om ooit weer haar lippe aan geprosesseerde vleis te sit.
“Dis van al die hormone wat hulle in daardie viennas prop dat ons nou is waar ons is!” het haar ma een middag vanuit die kombuis geskree.
En toe, op 29, ontmoet sy die sesde liefde van haar lewe. Kobus. Kobus is nou nie wat ek sal noem die skoonouers-tipe nie.
Hy het my nog altyd getref as effens … galsterig.
Na ’n kortstondige twee maande het hy egter ’n ring aan haar vinger gesit en die koeël was deur die kerk. Ek het gaan kyk, en daar is ’n drie weke oue iceberg-blaarslaai in my yskas wat meer potensiaal toon as hierdie huwelik.
Maar, nou ja, hier is ons vandag … by Mercia se kombuistee.
Nou, as jy nog nooit by ’n kombuistee was nie, is daar iets wat jy moet weet. Ongeag wie jy is, met watter intensies jy dit benader, of hoe hard jy ook al probeer … daar sál áltyd drama wees. Skryf dit neer. En nog iets … jy vertrou nooit ’n glimlag by ’n kombuistee nie. Dis ’n manier om pyn weg te steek. Niks kan die oorlog wat verlede week op die WhatsApp-groepie uitgebreek het, minder traumaties maak nie.
Hoekom die bogenoemde, sou jy vra. Want in die meeste vrouens se oë is dit nie ’n bruidstee nie. Nee. Dis ’n kroningsgeleentheid. Die inhuldiging van ’n prinses. En die volgende mense is áltyd deel daarvan.
Die skoonma. Teresa. Jy kan ’n tweeverdiepinghuis pleister met die hoeveelheid onderlaag wat sy vir die geleentheid aangesit het. Haar totale bydrae tot die kombuistee is ’n rolkoek wat sy by Spar gekoop het. Nietemin glo sy dat dit haar seggenskap gee oor die kleur van die balonne, die bruid se uitrusting en oor hoe die servette gevou moet word.
Chrizanne. Chrizanne leef slegs op gebottelde water, Kauai-smoothies en selfies in die gym se badkamerspieëls. Sy het aangedring daarop dat die kombuistee ’n high tea by ’n vyfster-hotel moet wees. As elkeen van ons die helfte van ons pensioen neersit, behoort ons die deposito te kan betaal.
Loeloe. Loeloe glo in meerminne, die helende eienskappe van badsout en dat al die gaste sélf vir die kombuistee moet betaal.
En dan is daar Marinda. Marinda is hier vir baie dinge, maar koek en tee is nie een daarvan nie. Sy is 31, in haar derde huwelik en tans op haar vyfde drankie vir die dag. Ons moes reeds seweuur die oggend twee bottels vodka konfiskeer wat sy wou gebruik om die lemoensap ’n bietjie persoonlikheid te gee. Die bruid is nog nie eers hier nie en sy het al twee keer op die koektafel gedans en oor die balkon geskree dat sy presies weet hoe lekker Kobus vry.
En dan is dit tyd vir die geskenke.
Dit is ’n baie belangrike deel van enige bruidstee. Grotendeels omdat niemand op hierdie stadium meer weet wat om vir mekaar te sê nie. Elkeen se geskenk kompeteer in grootte en prys.
“Ah! Dis só mooi!” Dit is om en by die vyftigste keer wat ek vandag daardie woorde hoor. Ek neem nie vir Mercia kwalik nie. Mens kan net soveel keer opgewonde lyk oor ’n afdroogdoek.
Mercia ontvang haar derde klitser vir die dag. Maar hierdie is nie enige klitser nie. Dis ’n privaatskool-klitser. Tannie Belinda gloei van trots. Sy het ’n kwart van hulle huisverband gebruik vir hierdie geskenk. Haar man sal dit oor drie jaar uitvind as hy agterkom hy kan nie meer op 65 aftree nie.
Marinda se geskenk is volgende. Soos vroeër genoem, het Marinda die kombuistee met die bachelorette verwar. Mercia skeur met groot opwinding die geskenkpapier oop. Skielik is daar ’n ongemaklike stilte. ’n Tannie twee stoele van my af gee ’n benoude gilletjie en verloor haar bewussyn. In haar tyd het hulle meer materiaal gebruik om onderklere te maak. Drie asynlappies en twee glase suikerwater later, is almal weer met ons.
Fotograaf: Gizela Conradie.
Dis tyd vir my geskenk. Ek het gisteraand skaamteloos die Pep Stores-prysetiket van hierdie oondbak afgehaal en dit toegedraai dat dit lyk soos ’n Le Creuset-nommertjie. Ek sal alles ontken as iemand my vra.
Daardie middag laai ek die laaste van Mercia se geskenke in haar kattebak. Ek weet eerlikwaar nie wat sy met al hierdie goed gaan doen nie. Mercia kan nie eers water kook nie.
Ek is ontnugter na vandag. Mense wonder waarom oorloë uitbreek. Ek het ’n teorie. Dis oor die kombuistee. As ons nie eers kan saamstem oor die skakering van pienk, die vulsel van ’n pavlova of die vorm van ’n servet op ’n tafel nie, oor wat anders kan ons baklei?
Vir die eerste keer maak die stelling All is fair in love and war vir my sin. Dit is toe geen toeval dat ’n bruidstee albei hierdie dinge kombineer nie.
Tog is daar een ding aan ’n bruidstee wat vir my mooi is. Die feit dat die bruid in die meeste gevalle salig onbewus is van al die drama wat óór haar en óm haar ontvou.
En is dit nie maar hoe dit hoort nie? Die lewe gee so min prinses-oomblikke. Waar die lig net op jou skyn. Waar jy uitgedos in jou mooi-moois soos die spesiaalste mens op Aarde voel.
Sou ek dan nou iemand van daardie gevoel wou ontneem?
So, dan kners ek maar op my tande, brom onderlangs en trek maar weer vir die soveelste keer my sash aan … “Team bride”.