Skrywer: Anja van den Berg
Dit knyp my steeds, al het dit in die vorige eeu gebeur. Die deurgangsrite wat die kaf van die koring sou skei. En almal het geweet wie wanneer die uitdaging sou aandurf, want dit was díé ding van Standerd 9. En my tyd het aangebreek. Sou ek uit die staanspoor vir Goliat plattrek? Of sou ek, soos vele ander tydsgenote, die bus mis en mismoedig toekyk hoe my klasmaats hulle nuutgevonde vryheid flits?
Die trappies knerp-knerp tot by die geïnstitusionaliseerde deure se uittande. Blou-boek-in-die-hand is dit mý beurt om gewillig in die gorrel in te stap. Ek vleg tussen die labirint van angstige lessenaartjies deur om ’n duisend treë later my sit te kry. Oë front! Penne op!
Die berugte, gevreesde, maar onvermydelike K-53-toets het begin.
Na meer as twee dekades kyk ek in die truspieël en besef: daai was maar ’n spoedhobbel van die lewe. Maar in daardie koorsige klaskamertjie het ek myself op die skouer geklop: Ek het die papiere!
Nou moes ek net leer bestuur.
Toe die bestuurskool-afrigter wéér die pasgemaakte motor se tweede stuurwiel gryp en skerp na regs draai, besef ek: Almal in die omtrek is nou kniediep in die moeilikheid. Hoenders, eende uit die pad! Ek vee my hare uit my oë. Die randsteen was nou net nog aan dáái kant! Die afrigter haal twee keer diep asem en sê ek moet die patroon van ‘flikkerlig aan-kyk in spieëls-rem-verminder spoed-draai’ in my kop oefen. Hy sê dit help om eenvoudige rympies te maak om patrone te onthou. Dis blykbaar ’n formule vir mense wat nie meganies aangelê is nie.
Oor aandete sê my ouer boeties ek moet dit nie so overthink nie, dis ’n aanvoeling, ’n instink. My ma sê ek doen goed en vat ’n groot sluk wyn. My pa wou nog sy advies aanbied, maar maak ’n gedempte pyngeluid en my ma bied vinnig namens hom aan om te belê in ’n grootmaat-bestuurslespakket.
Vyf-en-twintig lesse later was dit steeds genade as my en die randsteen se paaie nie gekruis het nie. Ook absolute toeval as ek ’n driepuntdraai uit die hoed kon trek. Maar ek was gereed om oë toe te knyp en die dobbelsteen te gooi. Op agttien is die noodlot onoorwinlik! Dit was tyd om die Ware Jakob uit te daag.
Die Kode 8.
Bestuurskoene aan (letterlik, ek het spesifieke skoene sonder veters gehad) glip ek langs die verkeersbeampte in en trek weg. Flikkerlig aan wat tiek, tiek, tiek; kyk in die spieëls voor jy briek, briek, briek. As die dwarsstrepe regs agter jou is, draai die wiel tot jy sis, sis, sis. Stopstrate, links draaie, verskuilde ingange…ek ry op ’n mespunt, maar een-vir-een tik ek hulle af. Ryvoorrang, stywe stang, flikkerlig moet aan, aan, aan (op die wysie van die koorgedeelte van ‘Lekker Boere Mieliepap’). Ek hoor steeds my hart in my ore klop; sover hou die randsteen nog sy afstand. Maar nou het dit tyd geword vir die afgekampte area. Ek en die driepuntdraai kyk mekaar uit soos twee cowboys in outydse Hollywood-films. Een van ons gaan vandag tweede kom. Ek trek my wapen.
Tiek, tiek, tiek! Briek, briek, briek! Sis, sis, sis! Jis, jis, jis! My maagspiere span soos wat ek daai stuurwiel werk. Kyk in die spieël, hou beheer oor die wiel. Ek dink ek gaan dit maak! Stadig maar seker wen altyd die beker. Ek gaan dit maak! Oppas vir die randsteen, oppas wat jy doen. Ek gaan…Ek…
Gggggggg!
Dan, die stilte na die storm.
Jammer, juffrou, dit lyk nie goed nie. Ons kan maar terugry.
Stert tussen die bene klim ek maar by my ma in die kar. Die billike man op straat sal sê die verkeersbeampte het die regte ding gedoen. Om agter ’n stuurwiel in te skuif, beteken jy neem mense se lewens in jou hande.
Nou hóé kon ek twaalf jaar later afgesien word met Geluk, mevrou! Alles lyk goed. Julle kan maar ry?
Hy speel seker! ’n Paar oppervlakkige praatjies later en hy dink ek’s gekwalifiseerd? Wat as ek my veters vastrap? Of die formule verkeerd het? Wat as ek die pap te dun aanmaak?
Ek vra of niemand gaan saamry om seker te maak ek weet wat ek doen nie en hy begin lag. Ek weet nie wat so snaaks is nie, want hoekom moes ek deur hoepels spring om ’n kar te mag bestuur, maar die enigste kwalifikasie om ’n splinternuwe lewe huis toe te vat, is om my broek uit te trek saam met die Ware Jakob?
Miljoene voor my het dit al gedoen en miljoene na my sal seker ook. Maar dit help my net mooi niks, want daai miljoene is al deur die pajama drills of nog salig onbewus van wat op hulle wag. Die baba begin huil nog voordat die parkeerarea se valhek oopmaak. Ek wil haar optel en troos, maar my man sê NEE, SAFETY FIRST! Die tweestryd, o, die tweestryd. Ek het nie ’n rympie vir hierdie scenario reg nie! Die Mediclinic-liggies flikker al hoe dowwer hoe verder ons gaan en ek hoor my hart in my ore klop.
Hier’s nou ’n mensie se lewe in my hande. Kan ek net eers ’n leerlinglisensie kry?!