Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Datum: 20 Augustus 2024
Chareldine van der Merwe is deel van die ATKV waar sy die projekbestuurder van Vriende van Afrikaans (VVA) is. Chareldine het ons meer oor die VVA se werksaamhede vertel en uitgebrei oor hoekom leesbegrip so belangrik is.
Oor die kwessie van leesbegrip sê Chareldine dat kinders sonder begrip baie stadig lees en juis daarom het hulle dan ’n negatiewe houding teenoor lees.
Hierdie probleem kring egter verder uit en lei tot beperkte woordeskat, logiese denke wat ontbreek, uitdagings met spelling en skryf, ’n lae selfbeeld en selfvertroue, swak kommunikasievaardighede, dissiplinêre uitdagings, probleme met geheue en so meer.
Ons almal lees met die doel om te verstaan wat ons lees. Indien kinders egter sonder begrip lees, weet hulle nie wat van hulle verwag word nie en kan hulle nie optimaal presteer nie. Kom ons kyk na die statistiek. Dit bevestig net weereens hoekom kinders uitdagings ten opsigte van lees het, omdat ’n leeskultuur in baie huishoudings en skole ontbreek. Tog, as daar aan hierdie kinders voorgelees word en die regte metodes toegepas word, sal hulle en kan hulle gehelp word.
- Net 14% Suid-Afrikaners lees aktief.
- 58% van huishoudings het nie ’n enkele boek nie.
- ’n Derde van alle ouers vertel nie vir hul kinders stories nie.
- 50% van ouers het nog nooit vir hul kinders ’n boek voorgelees nie.
- Selfs leerders in graad 11 en 12 kan nie met begrip lees nie.
Hoekom is voorlees so belangrik?
“Elke mens beskik oor die verstandelike vermoë om feitlik enigiets te leer. Natuurlik leer sommiges makliker as ander, maar dit is nie die punt nie. Die feit is: Almal kan eintlik reg en vinnig lees as dit op die korrekte manier vir hulle geleer is,” aldus dr Jan Strydom – Audiblox.
Wat kan ouers doen? Stel jou kind reeds van babatyd af aan ’n uitgebreide woordeskat bloot. Praat met jou kind. Praat en praat en praat. Vanaf 4 jaar oud behoort jou kind tussen links en regs te kan onderskei, groot en klein, bo en onder – want ons lees van links na regs en dit is ook vaardighede wat nodig is om wiskunde te kan doen. Hierdie boublokke is uiters belangrik vir die kind se ontwikkeling en om te verseker dat hulle uiteindelik gereed sal wees vir akademiese prestasies.
Verder moet kinders weet dat enige leesstuk uit ’n begin en einde bestaan, vertelvaardighede, fonologiese vaardighede, fyn- en grootmotoriesevaardighede – al hierdie goed kan met voorlees van stories gedoen word. Uitgebreide woordeskat word deur middel van voorlees verbreed en terselfdertyd word empatie ontwikkel.
Waarom is lees vir so baie kinders ’n uitdaging?
Chareldine noem dat die brein bedraad is om gesproke taal te ontwikkel (dit is hoekom babas taal van vroeg af kan aanleer). Maar daar is geen outomatiese bedrading vir lees en spel nie (hierdie vaardighede word stelselmatig onderrig). Kinders is baie meer visueel ingestel – blootstelling aan skerms.
In ons digitale eeu praat ons minder met mekaar. Baie van ons verbale kommunikasie bestaan uit opdragte: “Dis badtyd. Tel jou klere op.” Fokus daarop om gesprekke aan die gang te kry. Praat byvoorbeeld oor die hoogte- en laagtepunt van die dag, vra vrae soos: “Sê nou jy kon enigiets doen – wat sou dit wees, en hoekom?” of “Wat was die mooiste ding wat jy vandag gesien het?” Lok jou kind uit om gesprekke te voer en verlei hulle om lief te word vir lees deur hulle so vroeg as moontlik aan lekker leesboeke en stories bloot te stel.
Raad aan ouers: Maak altyd oogkontak – laat sak jou foon! Gee aandag aan wat jou kind sê en stel so ’n goeie voorbeeld. Raak opgewonde oor jou kind se ontwikkelende taalvaardighede.