Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
“Ons glo in die toekoms van Afrikaanse film en televisie, in die belangrikheid van ’n wye verskeidenheid stemme, en in die krag van stories om lewens te verander. Daarom doen die Sliwerskermfees alles moontlik om nuwe storievertellers te vind, talent kans te gee om te skitter, en die bedryf ’n praat-, wys- en bymekaarkomplek te gee waar Afrikaans die gom is wat ons bind.” – Waldimar Pelser, direkteur van M-Net se Premium-kanale (citizen.co.za)
Die kykNET Silwerskermfees is sinoniem met blinknuwe films en die ontwikkeling van die plaaslike rolprentbedryf, maar vanjaar skyn die kollig vir die tweede opeenvolgende jaar ook op televisievermaak.
Loodsepisodes
Loodsepisodes van vier puik nuwe TV-reekse wat kykNET- en Showmax-kykers binnekort in vervoering gaan hê, word by die fees vertoon.
Klein paradys: Klein spasie, groot idees (kykNET-werklikheidsreeks) is ’n werklikheidsreeks waar mikro-wooneenhede in vyfster-gasteverblyf omskep moet word. Dié reeks word by Old Mac Daddy in die Elgin-vallei verfilm. David Enright (Stella Murders, Devilsdorp, Survivor SA: Return of the outcasts) is in die regisseurstoel. David is bekend vir sy passiegedrewe benadering en onverstoorbare betroubaarheid. Sy omvangryke begrip van sielkunde en menslike gedrag stel hom in staat om boeiende vertellings te ontknoop in onder meer werklikheidsreekse en dokumentêre produksies.
Handrie Basson, ’n gesoute uitvoerende vervaardiger, het sy merk gemaak as ’n finansiële verslaggewer by Media24 en hy het later floreer by M-Net met bemarking en publisiteit onder sy wakende oog. In 2006 het hy sy passie vir storievertel nagevolg en die produksiemaatskappy Afrokaans tot stand gebring.
Voorskou: Woensdag, 28 Augustus, 17:00
Brasse Vannie Kaap: Die onvertelde storie (Showmax-dokumentêr). Dit is ’n boeiende en emosionele dokumentêre rolprent oor die ikoniese Suid-Afrikaanse hip-hop-groep Brasse Vannie Kaap (BVK) wat tydens die vroeë jare van die nuwe Suid-Afrika op die musiektoneel ontplof het. Groeplede en ’n magdom plaaslike bekendes (Early B, Jack Parow en meer), besin oor BVK se merkwaardige loopbaan en hul onmiskenbare impak op die plaaslike musiekbedryf. Die film loer ook agter die skerms na Grandmaster Ready D en DJ Azuhl se aangrypende huldeblykvertoning ter ere van BVK se oorlede frontman, Ashley Titus aka Mr Fat. Hierdie nostalgiese reis kulmineer in ’n spesiale reünie-optrede wat dié groep se besonderse nalatenskap vier en terugkyk op ’n unieke era in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Dit is gedeeltelik in Kaapstad en Johannesburg verfilm.
Regisseur en vervaardiger Lauren Scholtz is ’n skrywer, aktrise en opkomende onafhanklike rolprentmaker met ’n BA Honneurs in Filmstudies (UK), en sy het meer as 15 jaar ondervinding as ’n vervaardiger van televisie-advertensies. Lauren het ’n paar jaar gelede van produksie na draaiboekskryf oorgeskakel, en het as ’n storielyner op drie kykNET-telenovelas gewerk: Arendsvlei, Diepe Waters en Skemergrond.
Voorskou: Vrydag, 30 Augustus, 17:00
The Station Strangler: The haunting of the Cape Flats (Showmax-dokumentêr) is ’n dokumentêr wat die feite agter die verdagte reeksmoordenaar met dieselfde bynaam ondersoek. Daar word beweer dat hy 21 jong seuns en een volwassene vanaf die laat 80’s tot middel 90’s vermoor het.
Die moorde het paniek op die Kaapse Vlakte in Suid-Afrika veroorsaak. Terwyl die res van die land besig was om vir die eerste demokratiese verkiesing voor te berei, is veral Mitchells Plain in vrees gedompel met ’n moordenaar wat die gemeenskap in twee geskeur het.
In 2023 is Norman Simons, die man wat verdink word vir die moorde, op parool vrygelaat. Hy is egter net vir een van die moorde skuldig bevind en daarvoor gevonnis. Sy vrylating op parool het vars wonde oopgekrap en woede ontketen in ’n gemeenskap waar geregtigheid te lank reeds ontbreek.
Die film bevat indringende onderhoude met familielede van slagoffers, leidende speurders en die bekende forensiese profielskepper, Micki Pistorius. Die regisseur, Nadine Cloete, is van Kaapstad. Haar werk fokus op temas van sosiale geregtigheid, geskiedenis en identiteit. Van haar bekendste werke sluit die SAFTA-bekroonde Address Unknown en Action Kommandant, aangewys as die beste dokumentêr by die Encounters internasionale dokumentêre rolprentfees, in. Onder haar onlangse dokumentêre tel The Last Speaker (vir Al Jazeera) en Teater na die mense (vir die Silwerskermfees).
Die dokumentêre film is deur IdeaCandy vervaardig. Dié maatskappy se reis het in 2020 met Devilsdorp afgeskop. Sedertdien onder leiding van Wim Steyn, Clorinda Koert en Elle Oosthuizen het IdeaCandy talle vollengte dokumentêre vervaardig wat unieke en uitdagende Suid-Afrikaanse stories vertel.
Dit sluit in: Devilsdorp (wenner van ’n SAFTA vir die beste dokumentêr in 2022), Steinheist (SANLAM Finansiële Verslaggewer van die Jaar in 2023, ook vir ’n SAFTA benoem in 2023), Stella Murders (2023), Rosemary’s Hitlist (2023), Convict Conman (2023), Tracking Thabo Bester (2024) en School Ties (2024).
Voorskou: Donderdag, 29 Augustus, 20:30.
Nêrens, Noord-Kaap Deel II (kykNET-dramareeks). Na afloop van die wankelrige reis terug na hul ouerplaas, Nêrens, probeer drie broers en hul pa mekaar na jare van vervreemding opnuut leer ken. Maar hoe leer jy liefhê as die dolk van ’n Ma se dood steeds diep in almal se harte draai?
Nêrens, Noord-Kaap is in die pragtige dorpie Nieuwoudtville in die Noord-Kaap, asook in en om Kaapstad verfilm. Nico Scheepers is ’n bekroonde skrywer en regisseur van Suid-Afrika. Hy is die skepper van die reeks Nêrens, Noord-Kaap op kykNET en Showmax, wat groot lof ingeoes het. In 2022/2023 is sy riller-reeks Donkerbos (Showmax) gekies vir die 2023 Berlinale Series Market. Donkerbos het sewe SAFTA-benoemings ontvang en Scheepers is as die beste regisseur vir ’n televisiedrama aangewys. In 2023 het hy die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se gesogte Kuns-toekenning vir Donkerbos se draaiboek ontvang.
Die bekroonde Nagvlug Films-produksiemaatskappy fokus op storievertellings wat mense van oral verbind. Hulle streef daarna om karakters, gemeenskappe en ervarings te ontgin wat Suid-Afrika outentiek en met hart uitbeeld. Die maatskappy neem die leiding met verskeie produksies, waaronder Barakat (2021) wat Suid-Afrika se amptelike inskrywing vir die 94ste Oscars was, en Donkerbos (2023) wat die enigste oorspronklike titel uit Afrika was wat deel was van die 16 produksies wat tydens die 2023 Berlinale Selects vertoon is.
Voorskou: Donderdag, 29 Augustus, 17:00
Kortfilm-mentorskapprojek
Hierdie projek is die ideale projek om ’n nuwe generasie rolprentmakers se loopbane ’n wegspringplek te gee. Vanjaar val die kollig op die shotgun-kortfilms nadat die shotgun shorts-idee verlede jaar geloods is en gevestigde rolprentmakers gevra is om voorstelle in te dien. Ses van die shotgun-kortfilms sal in Augustus bekendgestel word. Daar is ook ses speelfilms, agt kortfilms (deur opkomende rolprentmakers) en vyf dokumentêre rolprente wat deel uitmaak van 2024 se debuutwerke. Feesgangers kan ook uitsien na eksklusiewe voorskoue van nuwe televisie- en stroomdiensreekse.
Meesterklasse
Talle kenners gaan soos tevore werkswinkels, paneelbesprekings en meesterklasse aanbied. Onderwerpe wat onder die loep kom, is die hantering van intimiteit op die stel, die proses waardeur boeke vir die skerm verwerk word en hoe koproduksies werk.
Toekenningsaand
Die fees word soos altyd afgesluit met die Silwerskermtoekennings vir Film en TV wanneer die beste films van die fees vereer word. Daar is twee geleenthede, in die oggend en aand. Die aandgeleentheid word op Saterdag 31 Augustus by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (Kiks) aangebied en sal opgeneem word om die volgende aand, Sondag 1 September, op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai te word.
Lewensbydraetoekennings vir drie legendes by Silwerskermfees
Drie film- en TV-legendes word vanjaar vereer: Hans Strydom, Denise Newman en Roberta Durrant.
Hans Strydom, wat sedert 2005 te sien is as At Koster in Binnelanders, en Denise Newman, Suidooster se Bridgette Jacobs sedert 2015, word Saterdagaand 31 Augustus tydens die Silwerskermtoekennings vereer. Die baanbrekerregisseur en vervaardiger Roberta Durrant, die brein agter reekse soos Diepe waters, Arendsvlei en Projek Dina, word Saterdagoggend 31 Augustus tydens die tegniese toekenningsgeleentheid gehuldig.
“Die toekenning kom uit die bloute,” sê Hans. “Dit is ’n groot eer. Dankie aan kykNET en al die aanhangers wat my deur die jare ondersteun het. Sonder hulle sou so ’n toekenning nie moontlik gewees het nie.”
“Ek was regtig verbaas toe ek gehoor het ek word vereer,” sê Denise, wat vroeër vanjaar haar 70ste verjaardag gevier het. “Ek het dit glad nie verwag nie. Wat ’n eer. Baie dankie!”
Hans Strydom
Denise Newman
Roberta Durrant
Gaan kyk op die Silwerskermfees se webtuiste vir vanjaar se aanbod. Klik hier Silwerskermfees – The kykNET Silwerskerm Festival, supporting the outstanding South African Film industry
Lees meer oor die meesterklasse, werkswinkels en paneelbesprekings hier Sessies – Silwerskermfees
Lees meer oor die drie legends Hans Strydom, Denise Newman en Roberta Durrant hier Lewensbydrae-toekennings vir drie legendes by Silwerskermfees – Silwerskermfees
Bron: Silwerskermfees: ‘n Viering van Afrikaanse film en televisie (citizen.co.za)