HOE OM Kekerertjies in die LUGBRAAIER te ROOSTER – in 5 maklike stappe!
Kekerertjies is so ’n lekker bestanddeel om op verskillende maniere by etes in te sluit. Dis ’n gesonde plantaardige proteïen en bevat ook vitamiene en minerale. En gerooster is dit nog lekkerder, want die neuterige smaak maak dit ekstra veelsydig.
Geroosterde kekerertjies in die lugbraaier
1 x 410 g blik kekerertjies
1 klein knoffelhuisie, gekneus
30 ml (2 e) olyfolie
5 ml (1 t) komynsaad
5 ml (1 t) gemaalde komyn of gewone paprika
fyngerasperde suurlemoenskil na smaak
- VOORVERHIT lugbraaier tot 200 °C.
- DREINEER kekerertjies deeglik. (Wenk: vries die vloeistof vir aftreksel vir ’n sop of bredie.)
- DRUK kekerertjies op kombuispapier DROOG.
- MENG olie en geurmiddels in ’n bakkie saam. Roer kekerertjies deeglik deur om dit met mengsel te bedek.
- Plaas kekerertjies in enkellaag in lugbraaier-mandjie en ROOSTER vir 10-12 minute of tot goudbruin en bros. Rooster nog ’n paar minute as jy dit heeltemal bros verkies.
OF rooster die kekerertjies op ’n bakplaat teen 180 °C in die oond, vir 10-15 minute of tot goudbruin en bros.
GEBRUIK dit SO:
As ’n peuselhappie, in plaas van aartappelskyfies; saam met geroosterde groente; op geblansjeerde groen groente; as deel van ’n slaai; of selfs in ’n kosblik.
BEDIEN dit saam met dié heerlike sop op ons webwerf.
Resep deur Heleen Meyer
Taalfokus
Kekerertjies is so ’n mooi Afrikaanse woord vir chickpeas. En weet jy dat komyn die Afrikaans vir cumin is?