Skrywer: Anja van den Berg
“Moenie jou selfwaarde meet aan jou prestasies nie, want prestasie is vlietend. Maak seker jy gee aandag aan jou volle menswees.”
Dié wyse woorde kom van professor Pieter Kruger, hoof van Kliniese Sielkunde vir die 2024 Suid-Afrikaanse Olimpiese Span.
Pieter lei ‘n groep sielkundiges wat ons atlete ondersteun met geestesgesondheid, stresbestuur en sportprestasie. Hy is die Direkteur van die Sentrum vir Gesondheid en Menslike Prestasie (CHHP) by Noordwes-Universiteit en ook ‘n gaslektor by die UCL Mediese Skool in Londen. Verder beklee hy ‘n direkteursposisie in ‘n Londense konsultasiemaatskappy wat spesialiseer in geestesgesondheid en prestasie-optimalisering.
Pieter se werk saam met Span SA fokus op die toepassing van die neuropsigologiese en biochemiese beginsels om atlete te help presteer onder druk. Terwyl ‘n mens dalk sou verwag dat hy atlete aanmoedig om ten alle koste te wen, het hy ‘n holistiese benadering tot sportprestasie. Hy glo dat geestelike welstand die fondament van prestasieoptimalisering is.
Beheer die beheerbare
“‘n Belangrike aspek van ons benadering is die manipulering van faktore wat prestasie onder spanning beïnvloed”, sê Pieter. “Sukses in hoëdruksituasies vereis emosionele regulering. Hoe beter jy dit kan regkry, hoe rustiger sal jy kan bly en sal jy eksterne stimuli kan uitskakel om te fokus op jou vaardighede en vermoëns.”
Daar’s verskeie maniere om dit te bereik. Een manier is fisies-chemies, deur middel van medikasie of substanse. Uit die aard van die saak is dit nie ‘n opsie vir Olimpiese atlete nie. Die beter manier is om deelnemers te leer om self beheer te neem oor hul fisiologiese prosesse deur progressiewe spierontspanning, beheerde asemhaling en fisieke beweging, ‘n proses wat Pieter ‘n bottom-up-benadering noem.
“Ek sê altyd beheer die beheerbare. Dit begin by hoe jy jou liggaam reguleer en hoe jy jou denkpatrone ondersoek. Ons leer ook die atlete vaardighede om hul neurologiese en kognitiewe prosesse te beheer sodat hulle die sielkundige kollig kan rig om nét op prestasie in die oomblik te fokus – dit is die top-down-benadering.
Herstruktureer gedagtepatrone
Pieter en sy span help ook atlete om hul gedagtepatrone onder die loep te neem. Hy gebruik kognitiewe-gedragstrategieë wat die verband tussen gedagtes, emosies en gedrag uitlig. “Ons ervarings van gebeure hang nie af van wat gebeur nie, maar van die persepsie van gebeure. Hoe ons ‘n situasie interpreteer beïnvloed hoe ons dink, wat dan weer ons emosies affekteer. Hierdie emosies dryf ons fisiese prestasies, veral wanneer die druk hoog is.”
Gedagtepatrone sluit aan by elkeen se unieke agtergrondgeraas, of sielkundige white noise, soos Pieter dit noem, wat ons vaardighede kan belemmer. “Kognitiewe reaktiwiteit is net groot woorde vir die stemme in jou kop – maar nie dáái tipe stemme nie,” lag Pieter. “Dis die privaat dialoog wat ons elkeen met onsself voer. Dis die stemme van selfkritiek, selfverwyt en twyfel. Wanneer topatlete skielik eenvoudige foute maak is dit nie omdat hulle oornag hul vernuf verloor het nie, maar omdat hulle spoed van besluitneming en motoriese integrasie geaffekteer word deur emosionele disregulering. Jy kan dus sien hoe emosionele welstand en geestesgesondheid ‘n reuse-effek op sportprestasie het.”
Prestasiedruk strek verder as die sportveld
Pieter het uitgebreide ervaring van samewerking met internasionale sportspanne en atlete, insluitend die Britse spanne tydens die 2012 Olimpiese Spele in Londen en die Suid-Afrikaanse spanne tydens die 2020 Tokio Olimpiese Spele en die 2022 Statebondspele in Birmingham. Hy weet teen dié tyd dat prestasiedruk verder as die sportveld strek.
“Atlete het families by die huis en lewensfaktore het nie ‘n stopknoppie net omdat dit Olimpiese spele is nie. Huweliksmaats en gesinne moet vir weke sonder hulle teenwoordigheid regkom. Dis moeilik om te fokus as jy duisende kilometers ver is en iets by die huis fout gaan.”
Die lewe in die Olimpiese dorpie is ook totaal buite die atlete se gewone roetines, sê Pieter. “Jy kan jouself indink hoe uitdagend dit moet wees om die beste prestasie van jou lewe te moet lewer terwyl jy vir weke van jou mense af weg is, in ‘n ander land op ‘n ander bed moet slaap, ander kos moet eet as waaraan jy gewoond is, ‘n ander skedule moet volg, en vinnig moet aanpas by ander weersomstandighede.”
Die grootsheid van die geleentheid is steeds oorweldigend wanneer hulle tussen items ‘n dag of twee af kry. “Die magnetisme is aanvoelbaar,” sê Pieter. “Jy loop links en regs in sportsterre vas! In die eetsaal skuur jy dan skouers met jou kompetisie – van die beste atlete in die wêreld skep langs jou ontbyt in! Die Olimpiese ringe herinner jou gereeld waar jy is. As jy by die dorpie uitgaan, is jy natuurlik ook in die wêreldstad Parys. Daar is soveel dinge wat jou aandag kan aftrek en jou prestasiedruk verhoog.”
Pieter bring graag sy kundigheid na die korporatiewe omgewing. Hy belyn sy kennis uit die sportwêreld met dié van besighede om hul arbeidsmag te bemagtig tot optimale prestasie. Hy sê enige iemand kan die beginsels toepas wat hy vir topatlete leer:
Werk met ‘n plan:
Atlete spring nie net in en hoop vir die beste nie! Hulle het oefenroetines en deelname-strategieë. Maak seker jý spring nie net in jou dagtaak in en swem om kop bo water te hou nie. Werk met ‘n plan.
Optimaliseer jou sterkpunte:
Topatlete neem hul sterkpunte na die hoogste hoogtes. Hulle identifiseer die toepaslike prestasiegedrag en belyn hul talente en vermoëns met hul sport. Bring jou werk in lyn met jou geestesgawes en ontwikkel dit na die beste van jou vermoë.
Ondersoek jou denkproses:
Medaljewenners het ook selftwyfel, net soos almal van ons. Hulle doen egter moeite om te verstaan waar hulle negatiewe gedagtes vandaan kom om dit uit te daag en te herformuleer.
Maak tyd vir rus en herstel:
Niemand kan nét presteer en die hele tyd op die kruin van die golf wees nie. Topatlete beplan tyd om te herstel en weet ook watter herstelgedrag om toe te pas. Moet egter nie dink jy sal later herstel as jy met vakansie is nie! Herstelgedrag moet daagliks in jou roetine ingesluit wees.
Kry Pieter ooit tyd vir herstel? “Wel,” lag hy, “ja en nee.” Hy het twee dae voor die Spele by die Suid-Afrikaanse span aangesluit na werk by die Hongaarse F1 Grand Prix, waar hy met die leiers en putspanne van die McLaren F1-span gewerk het. Voor dit het hy intensief met die Bath-rugbyspan gewerk, wat ‘n merkbare verbetering in hul prestasie gesien het.
“Ek probeer om daad by woord te voeg en my eie advies te volg. Soms laat my herstelgedrag veel te wense oor, maar dis meestal nie omdat ek oorweldig voel met my werkslading nie. Dis omdat ek my werk so baie geniet dat ek myself moet herinner om ‘n blaaskans in te pas.”
Pieter se lewe weerspieël sy filosofie: Prestasie is belangrik, maar dit is ons volle menswees wat ons definieer. Sy passie vir sy werk en sy vermoë om ander te inspireer, wys dat wanneer jy jou talente inspan om ander te help, jy self ook op die hoogste vlak kan floreer.