Persverklaring: 23 Julie 2024
Vir meer inligting, kontak vir Wilmer Müller: wilmer@wmmedia.co.za
Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) het hande geneem met die Proscenium-dramakompetisie wat vanjaar vir hoërskoolleerders van graad 8 tot 12 aangebied is. Die departement brei die kompetisie uit met ’n projek wat drama-onderwysers se lewens in die klaskamer maklik en gerieflik sal maak.
Onderwysers sal gratis toegang op die WKOD se aanlyn hulpportaal tot kort dialoogtekste hê, asook video’s van die opgevoerde dialoë. Vir dié demonstrasievideo’s is 15 skrywers deur die departement genader om dialoogtekste te lewer, wat onder leiding van professionele regisseurs opgevoer word. Belowende leerders wat as finaliste in die Proscenium-kompetisie gekeur is, speel in die produksies.
Die tekste en video’s sal vanaf November 2024 in Afrikaans beskikbaar wees, asook in Engels en Xhosa.
“Met hierdie samewerkingsprojek wil die WKOD drama- en taalonderwysers wat ’n behoefte aan hulpmiddels het, ondersteun,” sê Anina Lundie van die departement se kurrikulumdirektoraat. “Opvoeders sit dikwels met hul hande in die hare wanneer hulle na geskikte tekste soek waarmee leerders kan identifiseer. Die tekste op die e-portaal word aangevul deur riglyne en advies vir opvoeders, en die video’s dien as inspirasie en voorbeeld vir leerders.”
Die WKOD werk saam met die Proscenium-dramakompetisie wat verlede jaar in die lewe geroep is, en drie Wes-Kaapse kunstefeeste: Suidoosterfees, KKNK en die Toyota Stellenbosch Woordfees. Dié veeltalige kompetisie het vanjaar 647 inskrywings van hoërskoolleerders ontvang, en ná ’n nasionale uitdunronde het 70 kandidate aan die finale rondes in Kaapstad deelgeneem.
“Die projek is ’n toonvenster vir opwindende nuwe tekste en die akteurs van die toekoms,” sê Herman van der Westhuizen, ’n organiseerder van die Proscenium-dramakompetisie. “Jong deelnemers kry nie net die geleentheid om hul kreatiwiteit op nasionale vlak uit te leef nie; hulle word tydens die kompetisie op opwindende maniere bekend gestel aan die wêreld van die uitvoerende kunste.”
Anina Lundie verduidelik dat die projek opvoeders en leerders in staat stel om direk met die professionele teateromgewing in aanraking te kom. “Die WKOD streef daarna om opvoeders in die Skeppende Kunste te ondersteun met opvoedkundige materiaal van hoë gehalte, en waarmee leerders van ons inheemse taalgroepe gemaklik voel.
“In die senior fase is die voorgeskrewe dialoogwerk ’n ideale medium om leerders se kommunikasievaardighede en kreatiewe ontwikkeling te verskerp. Die samewerking met Proscenium en die kunstefeeste help ons om die aanbod van geskikte dramatekste uit te brei, opvoeders van handige demonstrasiemateriaal te voorsien en om leerders se lewensvaardighede te verryk.”
Die dialoë sal saam met die tekste in Afrikaans, Engels en Xhosa vanaf November 2024 op die WKOD se ePortal (https://wcedeportal.co.za/) beskikbaar wees.
Gratis opvoerings van die dialoë, met die jong akteurs wat ook in die video’s gaan verskyn, word tydens die Toyota Stellenbosch Woordfees vanaf 30 September tot 2 Oktober by Hoër Meisieskool Bloemhof op die planke gebring. Meer inligting hieroor is beskikbaar by woordfees.co.za.
Die Proscenium-dramakompetisie is ’n Tribuo-projek en word moontlik gemaak deur die ondersteuning van NATi, die Atterbury Trust, die Wes-Kaapse regering, RSG, Artscape, die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans, Lift, Overklank, kykNET, die ATKV, Northlink Kollege, WOW, die Toyota Stellenbosch Woordfees, Suidoosterfees, KKNK en KFilms.
EINDE