Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
“Dit is besonder lekker om die Jan H Maraisprys te ontvang en iets wat ek nie verwag het nie. Ek kan dit amper nie glo nie. Dit is veral ’n voorreg om te besef daar is mense daarbuite wat dink ek is goed genoeg en het genoeg gedoen om sodanig vereer te word. Dit is die grootste erkenning wat ‘n akademikus in Afrikaans kan ontvang.” – Prof WAM Carstens
Prof Wannie Carstens het so pas die Jan H Maraisprys vir 2024 ontvang as erkenning vir die uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal deur wetenskaplike werk en publikasies op hoë vlak en van hoë gehalte en spesifiek sy vakkundige bydrae ten bate van die Afrikaanse taalkunde. Met die prys in sy sak, skuur prof Wannie skouers met groot name. Mense soos onder andere prof Herman Giliomee, Jaap Steyn, Christo van Rensburg, Rufus Gouws en prof Louise Viljoen wat die afgelope 10 jaar vereer is.
Tydens die oorhandiging van die prys het prof Carstens beklemtoon dat dit harde werk en moeite geverg het om strukture in plek te stel en stelsels vir die taal te vestig. Daarom sê hy dat “ons ‘n gesonde en goed funksionerende taalinfrastruktuur nodig het om Afrikaans se volle potensiaal te ontwikkel. ‘n Infrastruktuur wat ingespan kan word om Afrikaans in al sy funksies te behou en selfs verder uit te bou, een wat die natuurlike diversiteit van Afrikaans weerspieël.”
Prof Wannie het nie veel bekendstelling nodig nie. Deur die jare het hy behoorlik skouer aan die wiel gesit en wyd en syd die pad saam met Afrikaans gestap. Hierdie boorling van Namibië waar hulle destyds “Engels deur Afrikaans geleer het”, vertel dat sy Afrikaansonderwyser, mnr Hennie Brand, die vak Afrikaans sodanig aangebied het, dat dit hom nuuskierig gemaak het om meer te leer en as’t ware die vuur in sy binneste aangesteek het om Afrikaans sy loopbaan te maak. Nog ’n rede, sê prof Wannie, was natuurlik geld of dan ‘n gebrek daaraan. “In daardie jare het Suid-Wes-Afrika onderwysbeurse toegeken en ek is Stellenbosch toe om in die onderwys te gaan studeer.” Prof Wannie het begin by BA Tale en in 1985 verwerf hy sy doktorsgraad in Afrikaanse taalkunde – ‘n loopbaan wat oor dekades strek en wat hierdie kampvegter vir Afrikaans goed besig gehou het en steeds hou.
Ofskoon prof Wannie afgetree is, bly hy aan die gang en deel hy steeds sy kundigheid, maar sê tog dat hy nou meer tyd saam met die familie en kleinkinders wil spandeer en ’n “beter” oupa vir hulle sewe kleinkinders wil wees. “Ek was deur die jare so baie weg van die huis af en het baie spesiale gesinstye gemis – soos byvoorbeeld 15 van my vrou se verjaarsdae! Dan is daar ook twee goed op my kluitklaplys wat ek graag by wil uitkom. Die een is ‘n bootvaart saam met my vrou op die Franse kanale en die ander om die Camino te gaan stap, maar eers … daar is ’n boek wat moet klaarkom!”
’n Loopbaan wat tel
In 1991 word hy aangestel as dosent in Afrikaanse taalkunde by die voormalige PU vir CHO en vanaf 2014 aan die Noordwes-Universiteit (NWU) tot met sy aftrede aan die einde van 2017. In 1995 word hy professor in Afrikaanse taalkunde en was 16 jaar lank direkteur van die Skool vir Tale op die Potchefstroomkampus. Nog ‘n hoogtepunt van prof Wannie se loopbaan is sy verbintenis met die Lae Lande en Europa waar hy dikwels as gasdosent optree en ook in 2018 die tweede bekleër van die leerstoel “Zuid-Afrika: Talen, literaturen, cultuur en maarschappij” aan die Universiteit Gent in België, word. Deur die jare het hy ook gaslesings gelewer aan universiteite in Texas, Kalifornië, Noord-Carolina, Nevada en Pennsylvania.
Almal wat prof Wannie ken, weet hy praat nie net nie, maar doen. Daarom was hy die inisieerder van verskeie samewerkingsooreenkomste tussen universteite en instansies in die Lae Lande en in Suid-Afrika. Prof Wannie was ook die mede-oprigter van die Ernst van Heerden-versameling van Afrikaanse poësie in die Poëziecentrum in Gent asook van die Festival voor het Afrikaans in Nederland.
Hy was lid van etlike nasionale en internasionale vakbewegings. Hy het by verskeie organisasies die leiding geneem, onder meer as voorsitter van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns (2011-2014), stigter en eerste voorsitter van die Afrikaanse Taalraad (ATR, 2008-2011), die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (2011-2014); as ondervoorsitter van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT) van 2014-2016.
Hy is reeds sedert 2008 lid van die direksie van die Buro van die WAT op Stellenbosch.
Tydens sy lang loopbaan was hy ook lid van verskeie redaksiekomitees, onder meer Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Literator, Lexikos, SA Tydskrif vir Taalkunde, Internationale Neerlandistiek. Hy was vroeër tien jaar lank lid van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se Taalkommissie (1992-2002), waar hy ’n medewerker aan die 9de uitgawe van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) was.
Hy het in sy navorsing gefokus op die ontgin van nuwe terreine in die Afrikaanse taalkunde (normatiewe taalkunde, tekswetenskap, teks- en taalredigering) en boeke daaroor gepubliseer, soos Norme vir Afrikaans (1989, 2018 6de uitgawe), Afrikaanse Tekslinguistiek (1997) en Teksredaksie (2010) en Text editing (2012) – laasgenoemde twee saam met prof Kris van de Poel van die Universiteit van Antwerpen. Hierdie boek is reeds in twee Afrikatale verwerk.
Die omvattende boekereeks Die Storie van Afrikaans: uit Europa en van Afrika, deel I (2017) en deel II (2019) is in samewerking met prof. Edith Raidt (Wits) geskryf. Al hierdie publikasies word as standaardbronne op die onderskeie terreine gebruik.
Afgesien hiervan was hy mederedakteur van Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde [2014, 2017; 2024 (3de uitgawe), in samewerking met prof. Nerina Bosman van UP] – die standaardnaslaanwerk oor Afrikaanse taalkunde aan SA universiteite, asook Ons kom van vêr (2016, 2019; in samewerking met prof Michael le Cordeur van US) – ’n boek waarin die unieke bydrae van bruin mense tot die ontwikkeling van Afrikaans gedokumenteer is. Hy is ook mederedakteur van twee nuwe boeke wat die afgelope paar jaar oor die Afrikaanse taalkunde verskyn het: ’n boek oor toegepaste taalkunde in Afrikaans (Toegepaste taalkunde in Afrikaans; 2022; saam met prof Tobie van Dyk van die NWU), asook Afrikaans Linguistics: Contemporary Perspectives (2024; weer eens saam met prof Nerina Bosmanvan UP). In die laasgenoemde boek word die jongste tendense oor die Afrikaanse taalkunde in Engels vir die internasionale mark uiteengesit.
Hy het bykans 50 artikels in vaktydskrifte en 14 hoofstukke in boeke gepubliseer, en het ook ongeveer 90 referate by vakkongresse nasionaal en internasionaal gelewer.
Sy navorsing word gekenmerk deur waagmoed en innovasie, soos blyk uit sy boeke.
Hierdeur is onontginde terreine verken en aan ’n breër publiek bekendgestel. Sy Norme vir Afrikaans is byvoorbeeld een van die Afrikaanse taalkunde se topverkopers.
Erkenning vir sy vakkundige bydraes in Afrikaans blyk uit sy ontvangs van verskeie beurse, pryse en toekennings, wat insluit die CJ Langenhovenprys vir Afrikaanse taalwetenskap (twee keer), die Van Ewijckstigting vir sy werk om kulturele bande tussen Suid-Afrika en Nederland te herstel, ’n ATKV-Woordwyser-toekenning vir die 4de uitgawe van sy boek Norme vir Afrikaans (2003). Onlangs het die SA Vereniging van Neerlandistiek (SAVN) erelidmaatskap van die vereniging aan hom toegeken.
Meer oor die Jan H Maraisprys
Die jaarlikse Jan H Maraisprys is in 2015 geskep deur ’n besluit van Het Jan Marais Nationale Fonds, Naspers en die Universiteit Stellenbosch. Al drie instellings het hulle ontstaan te danke aan die vêrsiende steun van Johannes Henoch Marais (1860-1915) van Stellenbosch wat saam met sy broers in die 1870’s hulle fortuin op die Kimberleyse Diamantveld gemaak het. Jannie Marais was ’n groot ondersteuner van Afrikaans as ’n akademiese en literêre taal.
Keuring vind plaas onder kuratorskap van die Akademie en die keurkomitee van vooraanstaande akademici uit verskillende dissiplines het vanjaar bestaan uit proff. Albert Grundlingh (Stellenbosch), Gerhard Lubbe (Stellenbosch), Ena Jansen (Amsterdam en Johannesburg, Ian Dubery (Johannesburg), Ilse Feinauer (Stellenbosch) en Johan van Zyl (vroëer van Pretoria).
Bronne: Persverklaring en persoonlike gesprek.
Hou ‘infrastruktuur’ van Afrikaans só in stand, sê Carstens | Netwerk24
Lees ook:
2023 se tien hoogtepunte in Afrikaans – Afrikaans.com
Wenke rakende die behoud van Afrikaans – wat om te doen? – Afrikaans.com