Skrywers: Annelie van Jaarsveldt en Felix Spies
Na aanleiding van ons vorige artikel en hoekom kodering so belangrik is, het Afrikaans.com besluit om verder uit te brei oor die opleiding wat Siyafunda by skole aanbied. Felix Spies van Siyafunda vertel ons meer daaroor, onder andere wat die kriteria behels, oor die verskillende programme en wat die hoofdoel van die opleiding is. Felix sê:
Op hierdie stadium verskil dit van skool tot skool. Die grootste drywer van toegang tot robotika en kodering is die vermoë van die skool of ouers om die platforms, sagtewarelisensies, hardeware en ruimtes daarvoor te voorsien. As jy ‘n skool het wat sukkel om skoolgeld in te samel, of nie basiese sanitasiegeriewe het nie, verskyn robotika en kodering nie hoog op die agenda nie, indien dit enigsins verskyn. Verder sal die nuwe kurrikulum eers in 2025 aan graad R tot 3 uitgerol word. Hierdie kurrikulum sal bestaan uit basiese konsepte en dit sal aangeleer kan word deur ongekoppelde metodes, m.a.w. duur toerusting en rekenaars is nie nodig nie.
Beperkte toegang tot hulpbronne
Wanneer leerders vorder na hoër grade, sal hulle toegang tot bogenoemde hulpbronne benodig. Op die oomblik verskil toegang tot hierdie platforms van skool tot skool. Gewoonlik het Q1- tot Q3-skole nie die nodige reserwes of kapasiteit om die nodige hulpbronne aan te skaf en in stand te hou nie, terwyl Q4- en Q5-skole gewoonlik wel het. Dus is daar ‘n groot verskil in die vermoë om toegang tot hierdie hulpbronne te verkry, wat ‘n direkte korrelasie het op die vooruitsigte van tersiêre studie en indiensneembaarheid. Die meeste robotika en kodering bestaan op hierdie stadium as buitemuurse klubs of aktiwiteite. Daar is skole wat die vak aanbied of ten minste variasies daarvan as deel van hul kurrikulum, maar dit is nie die norm nie.
Die belangrikheid van kodering en robotika
Kodering en robotika is belangrik vir leerders omdat dit hulle voorberei op die toekoms deur noodsaaklike vaardighede aan te leer wat in die moderne arbeidsmark in aanvraag is. Hierdie vakke bevorder kritiese denke, probleemoplossing, en kreatiwiteit. Deur kodering leer leerders hoe om logiese stappe te volg om probleme op te los, terwyl robotika hulle ‘n praktiese begrip van ingenieurswese en tegnologie gee. Hierdie vaardighede is nie net relevant vir tegnologie-verwante beroepe nie, maar is ook waardevol in enige veld wat analitiese en innoverende denke vereis. Verder, deur blootstelling aan hierdie vakke op ‘n jong ouderdom, word leerders aangemoedig om ‘n lewenslange belangstelling in wetenskap en tegnologie te ontwikkel, wat hul geleenthede vir toekomstige studies en loopbane vergroot.
Die Departement van Basiese Onderwys (DBO) het die afgelope vyf jaar verskeie loodsprojekte van stapel gestuur, maar die kwaliteit en diepte van hierdie betrokkenheid is ‘n ander saak. Weens die nuutheid van die nuwe kurrikulum, is baie DBO-amptenare op alle vlakke nog nie selfversekerd, bevoegd of in staat/vaardig (SBV) nie.
Dit is waar Siyafunda EF ‘n belangrike rol speel. Ons verskaf die nodige opleiding en leiding aan enige skool om te verseker dat die onderwysers fasiliteerders van kodering en robotika word. Alhoewel ons opleiding in lyn is met die kurrikulum, fokus ons daarop om te verseker dat die fasiliteerders bevoeg is om die vak aan te bied. As gevolg van ons doelbewuste struktuur, is ons in staat om op ‘n skraal en doeltreffende wyse te werk, waar ons opleiding op pragmatiese resultate fokus eerder as om teoretiese uitkomste te bereik.
Mede-outeur-benadering tot opleiding
Belangrik om te onthou, is dat onderwysers nie opgelei is tydens hul studies om hierdie vak te onderrig soos hulle opgelei is om Wiskunde of Engels te onderrig nie. Dit is ‘n nuwe kurrikulum, met geen geskiedenis, geen ‘spiergeheue’ of veerkragtigheid nie. Vir hierdie en ander faktore om gevestig te raak in ons skoolstelsel, sal tyd moet verbygaan, en foute sal gemaak moet word.
Ons gebruik ‘n aangepaste, mede-outeur-benadering tot opleiding. Ons fokus daarop om bekende, vertroude volwassenes aan die leerders op ‘n baie pragmatiese wyse op te lei wat nie net die fasiliteerder ‘n beter opvoeder maak en meer SBV maak nie, maar ook hul vermoë verhoog om met die leerders in verbinding te tree en hulle van die platform en gereedskap te voorsien om nuuskierig te wees. Sodra die leerders in staat is om hierdie nuwe omgewing te verken met behulp van die regte gereedskap, sal hulle in staat wees om te innoveer en werklike wêreldprobleme op te los.
Platforms en programme
Daar is baie platforms, programme en diensverskaffers, juis omdat dit ‘n ontwikkelende mark is waar baie mense probeer om vinnig ‘n vastrapplek te kry. Dit is soos die tablet-woede in 2013. Die probleem is dat hierdie generies is, ‘n een-grootte-pas-alle-benadering, wat nie in ‘n Suid-Afrikaanse skoolkonteks werk nie.
Elke skool in Suid-Afrika is uniek as gevolg van ons hulpbronpolarisasie, kulturele verskille en kontekstuele faktore. Dus, een-grootte-pas-alle-benaderings mag vir sommige tot op verskillende grade werk, maar dit is nie die towermiddel nie. Alhoewel ons benadering aanvanklik meer hulpbron-intensief is, is dit ontwerp om die organiese groei van die robotikakultuur binne die skool te verseker wat oor tyd ‘n selfonderhoudende aktiwiteit sal word.
By Siyafunda is ons benadering gebaseer op ABCDE. Hulpbron-gebaseerde, gemeenskapsgedrewe onderwys.
Dus, wanneer ons by ‘n gemeenskap betrokke raak, ongeag wie die gemeenskap is, evalueer ons eerstens watter hulpbronne hulle het. Almal het hulpbronne. Van openbare biblioteke, kerksale, tot gemeenskapsruimtes en bydraende gemeenskapslede.
Twee hoofplatforms
Die twee hoofplatforms wat ons gebruik, is die Lego Spike Prime Kit en die QuantumCrayon CanDo Creator Kit.
Ons begin met lego, aangesien die meeste mense al lego gesien het en vinnig kan vasstel hoe om die robotte daarmee te bou. Lego is ‘n konstruksiestel wat onderwysers en leerders help om robotte te bou en deur die ingenieursproses te gaan. Omdat dit duursaam is en lank hou, kan dit honderde leerders oor tyd bedien.
Soos die leerders deur die lego-pyplyn vorder en hul areas van belangstelling begin ontdek, stel ons hulle voor aan die CanDo Creator Kit. Dit fokus meer op die kodering van robotte of masjiene en laat die leerder toe om die data wat gegenereer word op ‘n nuttige wyse te manipuleer. Die CanDo-kubus het verskeie werklike toepassings en kan geprogrammeer word deur verskeie programmeertale soos Java en Python.