Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Datum: 22 Julie 2024
My kind en skermtyd
Dr. Carla Bezuidenhout, ’n opvoedkundige sielkundige verbonde aan die Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch, het bietjie meer vertel rondom die onderwerp van skermtyd en die inligting wat ouers in gedagte kan hou ten opsigte van hul kinders se skermgebruik.
Deesdae is tegnologie en skerms deel van ons lewens en al hoe meer ook deel van ons kinders se leefwêreld. Skermtyd het amper ’n tipe van ’n gonswoord geword, maar wat is skermtyd? Volgens Carla verwys skermtyd na die gebruik van enige elektronika op skerms, soos byvoorbeeld, selfone, tablette, televisie, en selfs witbordskerms in klaskamers wat met projektors werk en dan spesifiek, die hoeveelheid tyd wat kinders op hierdie skerms spandeer.
Die rede hoekom die aspek van tyd wat kinders op skerms spandeer, so belangrik is, is wanneer ons vanuit die standpunt redeneer dat holistiese ontwikkeling, m.a.w. ontwikkeling in verskeie areas, belangrik is vir kinders se gesonder funksionering. Daarom is dit dan belangrik om na te dink hoeveel tyd kinders op skerms spandeer.
Navorsing deur die Apple-maatskappy het ’n paar jaar gelede verwys na kinders as die “i-Generation” juis omdat die gebruik van i-Phones en i-Pads onder kinders en tieners so toegeneem het. Navorsing deur Unicef in 2023, het bevind dat ongeveer 2 biljoen kinders in die wêreld ’n slimfoon besit. Wat navorsing aandui, is dat hierdie toename in skermgebruik onder kinders verskeie areas van ontwikkeling kan beperk, bv. breinontwikkeling, fisiese, emosionele en sosiale ontwikkeling. Ontwikkeling, veral van jong kinders, maak staat op perseptuele ontwikkeling, soos beweging – oorkruisbewegings wat later leesvaardighede beïnvloed; ruimtelike prosessering en oriëntasie wat wiskundige vaardighede beïnvloed; en dan ook interaksie met hul omgewings en hul mense vir die ontwikkeling van sosiale en emosionele vaardighede. Omdat skermgebruik daardie tyd in beslag kan neem, ly holistiese ontwikkeling daaronder.
Carla gee die volgende riglyne vir die hoeveelheid tyd wat kinders op skerms moet spandeer:
- Onder die ouderdom van twee jaar word geen skermtyd aanbeveel nie – dit sluit tekenprente op televisie in. Indien daar wel blootstelling is, moet dit beeldmateriaal wees met stadig bewegende beelde.
- Dan vir kinders tussen twee en ongeveer vyf jaar, slegs ’n uur per dag.
- Kinders tussen die ouderdom van 5 en 13, ongeveer twee ure per dag.
- Tieners, afgesien van tyd spandeer op skerms vir skoolwerk en huiswerk, ook ongeveer twee ure per dag.
Carla sluit af met raad aan ouers hoe hulle hierdie riglyne kan implementeer. Sy sê dat kinders leer deur dít wat hulle sien. ’n Beginpunt sal dus wees vir ouers om te besin oor hul eie skermtyd. Is gesinstyd werklik ’n tyd waar ouers fisies en emosioneel teenwoordig is, of word dit onderbreek deur skermgebruik, hetsy aan tafel tydens etenstyd; of tydens ’n gesinsaktiwiteit?
’n Baie belangrike aspek rondom skermtyd, is die aspek van grense. Grense vir jonger kinders skep juis geborgenheid en om grense vir skermtyd te stel, is deel van ouerskap. Dis dan ook belangrik dat ouers konsekwent by hierdie grense sal hou en dit nie noodwendig sal vermeerder as ’n beloning in ’n sekere situasie nie.
Vir ouers waar kinders al middel-laerskool is, beveel sy aan dat ouers saam met hul kind ’n soort ooreenkoms opstel. Hierdie ooreenkoms sit uiteen dat die gebruik van ’n skerm, ’n voorreg is en nie ’n reg nie; dit stipuleer die hoeveelheid tyd wat die kind op daardie skerm mag spandeer; ouers neem eienaarsposisie in dat hulle, soos in die geval van slimfone, die foon se boodskappe en foto’s en internetsoektog mag nagaan; en dit verduidelik dat indien die skerm ’n rede is vir die verbreek van die gesin se waardes, daar gevolge is, soos dat die toestel afgeneem kan word. Soos wat die kind ouer word, word die ooreenkoms hersien, en soos met meeste aspekte van kinderopvoeding, word die grense, na mate die kinder ouer word gestrek sodat die kind ook meer selfverantwoordelikheid leer.
Sy beveel ook aan dat ouers ’n afspraak maak by ’n opvoedkundige sielkundige in hul area; of leesstof bekom wat spesifiek handel oor kinders se skermtydgebruik.
Lees meer:
Gesonde skermgewoontes: Gesonde skermgewoontes, gelukkige gesin: Drie basiese wenke – Afrikaans.com
Tegnologie in die klaskamer:Fokus: Tegnologie in die klaskamer – Afrikaans.com
Skermtyd in die vakansie:Dis vakansie, maar hoe bestuur ons ons kinders se skermtyd. Hier is raad. – Afrikaans.com