Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Datum: 15 Julie 2024
Angs en my kind en emosionele ondersteuning
Die bekende kliniese sielkundige (talle van julle sal hom al gehoor het op die RSG-program, Wie is ek?, Louis Awerbuck, gesels oor angstigheid by kinders en hoe ouers hulle emosioneel kan ondersteun, mits hulle verstaan waardeur hulle kind gaan.
Hoe weet ’n mens as jou kind ’n angstoestand het? Louis antwoord:
Angstigheid mag wys as oormatige vrees of bekommernis, maar onthou dit is relatief tot die ouderdom van die kind. Angstigheid kan kinders ook geïrriteerd of aggressief maak. Fisiese simptome soos hipertensie, oormatige sweet, uitputting, hoofpyn, of maagprobleme is algemeen. Herhalende, irrasionele vrese en nagmerries kan ook voorkom by kinders wat sukkel met angs. Pasop egter om net tot gevolgtrekkings te kom as jy sommige van die simptome in jou kind herken; dit is normaal vir kinders in sekere lewensfases om soms angstig te wees. Sommige kinders, veral tieners, kan egter simptome van angs wegsteek, wat dit moeilik maak vir ouers om te sien as hulle kinders sukkel.
Maar hoe moet die ouer sy kind se simptome van angs verstaan?
Louis sê dat ons in gedagte moet hou dat oormatige angs of stres primêr in die liggaam gesetel is, en nie in mens se gedagtes nie. Angs is dus niks anders as ’n oormatige of permanente veg-of-vlug-reaksie nie.
Kinders met oormatige simptome van angs se liggame is gevolglik vasgevang in die abnormale gewoonte om te veel streshormone, soos adrenalien en kortisol, af te skei weens veg-of-vlug-reaksies wat ’n gewoonte geword het. Hierdie proses het ’n negatiewe impak op onder andere bloedsuiker, bloeddruk, konsentrasie en gemoed. Die deel van die brein van die kind met angs wat as mens se “alarmstelsel” funksioneer (limbiese stelsel), is dus permanent aangeskakel en beïnvloed kinders se immuniteitstelsels. Gevolglik word angstige kinders ook meer siek.
Louis raai ouers aan om hulle kind op die volgende maniere met hul angstigheid te help sodat hulle dit beter kan hanteer:
Omdat die simptome van angstigheid meestal in die liggaam sentreer, help dit om die meeste aandag te gee aan fisiese insette. Hiervan is oefening verreweg die beste, en is die ideaal vir ’n kind om gereeld by ’n biokinetikus te oefen, selfs al is die kind nog in die laerskool. Indien moontlik sal konsultasies by ’n fisioterapeut ook goeie resultate oplewer. Tieners kan meditasie, of vorms van ontspanningsterapie aanleer, en daar is vele selfoontoepassings hiervoor.
In baie gevalle is dit van groot hulp vir kinders om terapie by opgeleide sielkundiges te ontvang. ’n Veilige en stabiele emosionele omgewing is van uiterste belang vir kinders om simptome van angstigheid teë te werk, en vir vele kinders (veral jonger kinders) is hulle angsverwante simptome eintlik ’n weerspieëling van wat in die ouerhuis aangaan.
Lees meer:
Hanteer angstigheid: Angstigheid by ons kinders. Hoe hanteer ons dit? Hier is wenke. – Afrikaans.com
Wenke om angstigheid te hanteer:Wenke om jou kind se vrese en angstigheid te hanteer – Afrikaans.com
Obsessief-kompulsiewe steurnis: Obsessief-kompulsiewe steurnis: ’n Komplekse toestand, maar daar is hoop. – Afrikaans.com
Neurodiversiteit: Riglyne: Neurodiversiteit: Riglyne vir ouers en onderwysers om die uitdagings te hanteer. – Afrikaans.com
Sensorieseprosesseringsdisfunksie (SPD) – verstaan jou kind beter: Sensorieseprosesseringsdisfunksie (SPD): Ons help jou om beter te verstaan hoekom jou kind “anders” reageer en optree – Afrikaans.com
Help jou angstige kind so: So help jy jou angstige kind. – Afrikaans.com