Geen ouer hou daarvan om hulle kinders te sien stry nie. Nog minder as hulle by die geskil betrek word. Tog bevind ouers hulle gereeld in die middel van hulle kinders se struwelinge en word hulle óf gedwing om kant te kies, óf regter te speel óf daar word van hulle verwag om beheer te neem. Ouers is ook bekommerd oor hulle kinders se verhoudinge met mekaar en wonder wat hulle kan doen om die situasie te hanteer.
Die goeie nuus is dat ouers kan help sonder om deel van die harwar en struwelinge te word. Dit verg egter hope geduld. Die ouer moet ook emosioneel en geestelik sterk wees, maar uiteindelik en met die regte vaardighede, kan ouers leer hoe om hulle kinders doeltreffend te help sodat hulle self hul probleme kan oplos.
Hoekom dit voordelig is om net te fasiliteer
Die probleem bly tussen die kinders.
As ouer-fasiliteerder is jou primêre doel om jou kinders aan te moedig om direk met mekaar te kommunikeer en nie van die ouer te verwag om as bemiddelaar op te tree nie. Dit sal heelwat aktiewe luister-vaardighede van die ouer verg, veral tydens ’n hewige argument.
Georgina Watson het gesê: Aktief luister is ’n spesiale manier om te reflekteer wat die ander persoon gesê of gedoen het om hom/haar te laat weet dat jy geluister het en om te wys dat jy verstaan het wat hy/sy bedoel.
Die ouer-fasiliteerder se doel is om die kinders te help om hul argument (kwaai woorde) te dekodeer en betekenis daaraan te gee. Op dié manier kom hulle by die oorsprong van die argument uit. Sodra die boodskappe vanuit albei oorde duideliker is, sal die kinders dit makliker vind om die probleem op hul eie op te los.
Kinders leer doeltreffende probleemoplossingsvaardighede
Kinders moet die geleentheid gegun word om hul eie probleme op te los. Hoe anders sal hulle leer om toekomstige verhoudingsprobleme te bestuur? Daarom is dit belangrik dat ouers nie eienaarskap van hulle kinders se probleme neem nie, maar eerder as bemiddelaar optree. Kinders is in elk geval geneig om hul eie probleme op te los en sal net soms leiding van die ouer nodig hê om die groter kwessie te hanteer.
Wedersydse respek
Kinders leer om eienaarskap van hul probleme te neem en nie van ander of hul ouers te verwag om hulle probleme namens hulle op te los nie. Daarenteen word ouers nie emosioneel belas met skuldgevoelens en wrokkigheid omdat hulle kant gekies het, of hulle magsposisie laat geld het nie. Elke lid van die gesin het ‘n verantwoordelikheid om verhoudings van wedersydse respek in stand te hou en te bou, selfs wanneer daar meningsverskille is.
Gaan lees meer oor Parent & Educational Training se ouerskapkursus hier https://www.parents.co.za/parent-training
*Hierdie blog op Heidi Malan van die maatskappy Parent & Educational Training se webtuiste, het oorspronklik in Engels op hulle webtuiste verskyn. Afrikaans.com plaas die bloginskrywing in Afrikaans met spesiale vergunning.
Heidi Malan is die stigter en direkteur van Parent & Educational Training (Pty) Ltd. ‘n Maatskappy wat persoonlike en professionele ontwikkelings- en kommunikasieprogramme aanbied. Heidi het meer as 20 jaar ervaring in die aanbied van die Doeltreffende Ouerskapleiding-kursus – spesifiek op ouers van toepassing.
