Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Die impak op ons kinders wanneer ouers voortdurend ernstig rusie maak.
Geen verhouding is net altyd maanskyn en rose nie. Mense verskil en dit is ons elkeen se reg om ons gevoelens te verwoord, maar … hoe ons konflik hanteer, ons gevoelens wys of geskille oplos, is wat saakmaak. Die meeste van ons het dalk ook al gehoor: “Moet nooit kwaad vir mekaar gaan slaap nie!” Nogal ’n moeilike versoek soms – veral as jy jou wederhelf se nek by die stuitjie wil omdraai. Afrikaans.com wil graag in hierdie artikel spesifiek kyk na die impak wat ouers se konflik op hulle kinders het. Ons praat nie hier van die mindere geskille tussen ouers waaraan ons kinders soms blootgestel word nie – op sigself is dit “normale” optrede en ’n mens wil glo dat dit hulle nie werklik emosioneel kan skaad nie – deels omdat die saak gewoonlik vinnig opgelos word en die kind kan sien mamma en pappa is steeds lief vir mekaar en behandel mekaar met respek. Dit is egter die ernstige konflik tussen ouers (met of sonder geweld) wat ons kinders beslis nadelig kan beïnvloed. Daardie rusies wat skynbaar nooit ophou nie … Om van ons vrae hieroor te beantwoord, het ons gesels met dr Rhona van Niekerk, ’n traumaterapeut en forensiese kriminoloog van Modimolle (Nylstroom), Limpopo.
Dr Van Niekerk sê dat haar grootste bekommernis die langtermyngevolge van hierdie blootstelling aan konflik is en veral die niesigbare impak. Daardie gevalle waar emosionele manipulasie en verbale aftakeling, met of sonder geweld, deel uitmaak van die kind se daaglikse bestaan. So ’n kind raak as’t ware gedesensiteer (hy sluit hom daarvan af sodat dit lyk asof dit hom nie raak nie) en dit raak deel van wie hulle is en veral ook wie hulle word as hulle self eendag in ’n verhouding is. Die patrone waaraan hulle as kinders blootgestel word, versterk en dit raak vir hulle die norm. M.a.w. hulle ken niks anders nie en dit is vir hulle “normaal”.
’n Tipiese geprogrammeerde patroon
Hierdie wanfunksionele omgewing waarin die kind grootword, word deel van die kind se optrede as volwassene – dit word aangeleer en so ontstaan daar hierdie bose kringloop van een generasie tot die volgende. Dr Van Niekerk noem die volgende voorbeeld: Die situasie waar die man namens sy vrou antwoord. Hy kom dit nie agter nie (dis waaraan hy gewoond was), sy raak gewoond daaraan of kom self uit ’n omgewing waar die man die dominante rol gespeel het en die patroon herhaal. Kom so ’n egpaar dan by ’n berader uit, is dit moeilik om hierdie “gewoontes” eerstens raak te sien en te erken en dan af te leer. Dieselfde geld vir geweld. Dit word “normaal” om jou geskille of ontevredenheid met die vuiste te besleg.
Kinders wat gedurig moet luister en sien hoe hulle ouers baklei, word op verskillende maniere geraak:
- Verhoogde stres. Die kind raak angstig, onttrek, of ontwikkel vrese. So ’n kind sal byvoorbeeld begin bed natmaak, sy naels tot in die lewe afkou, sy hare uittrek, huilerig wees en sukkel om te slaap of nagmerries kry. Dit is ook tipies jou kind wat kla van maagpyn (en ja, soms is dit wel ’n maagseer!), migraines/hoofpyn. Die verhoogde adrenalienvlakke in hulle liggame weens die alomteenwoordige spanning en disfunksionele gesin, is die wortel van talle liggaamlike reaksies.
- Emosionele impak. Dit kan die kind se selfbeeld en emosionele welstand beïnvloed. Die kind voel nie goed genoeg nie, voel ontmagtig omdat hy nie die situasie kan beheer nie en hy ontvlug dan van die realiteit deur sosiale kontak met maats te vermy.
- Die kind kan aggressief raak. Mens moenie vergeet dat kinders oor ’n ongelooflike stoorvermoë beskik om hulle gevoelens as’t ware weg te pak. Wanneer daardie emosiestoor dan oorvol raak, sien ons die onaanvaarbare gedrag wat gepaard gaan met kru taalgebruik, boeliegedrag of opstand teenoor gesag. Volgens dr Van Niekerk, is daardie boelie of opstandige kind eintlik ’n stukkende kind wat goed gesien en ervaar het wat die meeste van ons onsself nie kan indink nie. Daarom soek hy nou ’n uitlaatklep en laat hy sy “gesag” geld deur ’n maatjie te boelie.
- Dikwels is die kind depressief en afgestomp. So ’n kind sluit homself af en “voel oënskynlik niks” – traak-my-nie-agtigheid. Depressie word ook geken aan talle ander simptome, soos slapeloosheid, swak eetlus, of ooreet, moegheid en in die uiterste gevalle selfdoodgedagtes.
- Soeke na erkenning. Weens die ouers se konflik raak die kind stil en onttrek hy na sy eie wêreld. Die kind weet nie waar hy inpas nie, maar het steeds erkenning en aandag nodig. Daarom soek hy dit dikwels op die verkeerde plekke. Dr Van Niekerk noem hier dat dit tipies die kind is wat betrokke raak by die “verkeerde” mense (met of sonder sosiale media) en dan in die kloue van mensehandel- of pornografiesindikate beland of selfs deel word van ’n bende. Binne hierdie ongesonde verhoudings voel jy geliefd, is jy deel van ’n groep en is selfs negatiewe aandag aanvaarbaar.
- Selfmutilasie/selfskending. Dit is dikwels moeilik om te sien, omdat die kind wat homself seermaak dit onder hulle klere kan wegsteek. Selfmutilasie neem verskillende vorme aan, maar so ’n kind sal homself byvoorbeeld sny of brand – net sodat hy iets kan voel – al is dit dan pyn.
- Internalisering. Dit verwys na die onderdrukking van emosies of gedagtes. Die kind hou dit vir homself en kan of wil nie daaroor praat nie. Juis omdat hulle nie geleer het om hulself emosioneel te reguleer nie. Dr Van Niekerk sê dat daar verskeie redes hiervoor is, maar een daarvan is dat die kind nie sy ouers wil benadeel nie, want hy glo tog dat alles sal regkom en op die manier troos hy homself. Ongelukkig lei dit tot ‘n uiters plofbare situasie en is die kind soos ‘n dreigende vulkaan wat op een of ander stadium tot uitbarsting moet kom.
- Akademiese prestasie. Die verhoogde spanning tuis kan die kind se konsentrasie en leer beïnvloed en ’n direkte impak op prestasie hê. Daarom is onderwysers dikwels van die eerste mense wat agterkom dat iets skeel en dan begin vrae vra.
- Kinders ervaar konflik anders as volwassenes. Dalk speel die een ouer die ander een af teen die kinders, of wanneer daar geweld by betrokke is, sal die kind geneig wees om die slagoffer te ondersteun omdat hy voel sy of hy kan homself nie beskerm nie. Dit lei daartoe dat die verhouding met die een ouer benadeel word – iets wat ’n mens veral sien in egskeidings.
Kommunikasie is belangrik
Kinders verstaan nie altyd hoekom sekere goed gebeur nie. Hulle formuleer dan hulle eie redes vir die situasie waaraan hulle blootgestel word. Daarom is dit belangrik om met die kind te gesels en te verduidelik hoekom ouers rusie maak of dalk skei. Hulle moet gerusgestel word dat dit nie hulle skuld is nie en dat hulle ouers steeds lief is vir hulle.
Kinders moet geleer word hoe om hulle emosies en die van ander raak te sien en te hanteer. Hulle moet weet dat dit oukei is om van ander te verskil. Dit is hoe ‘n mens daarop reageer om hierdie verskille of geskille te hanteer en op te los, wat saakmaak. Om selfgeldend op te tree, is aanvaarbaar, solank ‘n mens steeds met empatie teenoor ander optree.
Slotgedagte
‘n Gelukkige en goedaangepaste kind sal eendag ‘n tevrede volwassene wees. Ouers doen hulle kinders ‘n groot onreg aan as hulle hul ouerlike plig versuim en toelaat dat hulle kind binne ‘n disfunksionele gesin grootword. Moet ook nie dink dat dit net in jou minder gegoede omgewings plaasvind nie. Ook in jou gegoede huise en buurte word kinders in disfunksionele gesinne groot. Daarom is dit ons elkeen se plig om toe te sien dat ons kinders gekoester word en toegelaat word om net kind te wees. Dalk te veel gevra in ons huidige samelewing, maar ons moet êrens die streep trek en ons kinders teen alle koste beskerm.