Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Datum: 22 Julie 2024
Die bekende spraakterapeut en skrywer, Christien Neser, het gesels oor hoekom dit so belangrik is dat ons kinders taalvaardig moet wees. Ouers is dikwels verward oor die taal waarin hulle hul kinders moet grootmaak, veral in ons kosmopolitaanse samelewing. Hoekom is dit nodig om ons kinders in enige taal, buiten Engels groot te maak? Die wêreld is tog Engels! Mens het sekerlik net een taal nodig om mee oor die weg te kom?
Volgens Christien is dit wel so, maar … net omdat Engels die wêreldtaal is, beteken dit nie dat dit jou huistaal ook hoef te wees nie. Ouers is dikwels onder die indruk dat hulle ’n kind iets kosbaars GEE wanneer hulle die kind in Engels grootmaak, veral waar dit nié hul huistaal of moedertaal is nie. Maar hulle moet dalk vandag saam met ons stilstaan en vra: Wat neem ek WEG as ek die kind net één taal gee. Wat neem ek WEG as ek nie in my hartstaal met die kind praat nie? Wat neem ek WEG as ek die kind afsny van ’n deel van hul familie-agtergrond. En wat neem ek WEG as die brein nie die kans kry om meertalig te raak nie. Want ja, ons kinders word in ’n sop van Engels groot. Tussen Peppa Pig en die kleuterskool en die oppasser tuis is die lingua franca dikwels net Engels. So leer kinders van Afrikaans-, Zulu-, Xhosa- en Sotho-sprekers asof vanself Engels aan. Derduisende ouers kan hiervan getuig: Op ’n mooi dag praat die bloedjie Engels, sonder dat iemand hulle dit doelbewus geleer het.
As Engels dan so ’n dominante taal is, en die kinders dit buitendien aanleer, hoekom moet ’n mens dan moeite doen met ’n huistaal, soos byvoorbeeld Afrikaans of Xhosa? Christien gee vyf redes:
Die eerste is intelligensie. ’n Kind wat tuis in ’n minderheidstaal grootgemaak word, wat vir meeste van ons Afrikaans is, se brein raak meer aktief. Die vertalingsaksie begin baie vroeg en hou nooit weer op nie. Hierdie kinders vorm meer konneksies in hul taalarea, aangesien elke taal in sy eie klein deeltjie van die brein geprosesseer word. Hulle is aanliggend, so hulle skakel met senuweebane. Hoe meer senuweebane, hoe beter die konnektiwiteit en hoe effektiewer die brein. Dis in wese ’n verhoging van die brein se potensiaal, dus ook ’n verhoging van intellek.
Tweedens, intimiteit. Ek praat hier van innigheid. Mens is net meer innig en opreg in jou eie taal. Om ’n kind in jou tweede taal groot te maak, is om iets van daardie snoesigheid en egtheid te verloor. Die oumas en oupas en uitgebreide familie se unieke insette word ook so verskraal.
Derdens: Jou identiteit. Die tale wat jy praat, bepaal tot ’n groot mate jou identiteit. Veral hier vanaf 12 tot 16 jaar, vestig kinders hul identiteit. Dan beweeg hulle tussen twee pole: ’n Sterk identiteit teenoor verwarring. En ’n verwarde tiener is moeilikheid. As mens jou huis se taal ontken, ontken jy ook jou eie identiteit.
Vierdens:Interpersoonlike verhoudings. Met jou moedertaal as jou basis, gaan jy meertalig raak. Dis ’n gegewe. Die Switsers noem dit MLA- Minority Language at Home. In Switserland is meeste mense 4- tot 5-talig, alles omdat hulle hul huistaal tuis praat, of dit Duits, Frans, Italiaans of Romaans is. En mense wat meer as een taal praat, kan met ander mense se harte praat, nie net hul verstand nie.
Laastens: Die geheime wapen van meertaligheid. Meertaliges kan beter in chaos funksioneer. As gevolg van die chaos in die brein, die ekstra netwerke wat gevorm word omdat die kind heeltyd vertaal, kan meertaliges geraas en chaos beter hanteer. Dit maak van die meeste Suid-Afrikaners gesogte werkers oorsee.
Nou wat maak ons as daar twee tale in die huis is, want ma en pa praat nie dieselfde taal nie?
Volgens Christien is daar een van twee metodes om dit te hanteer.
- Simultane tweetaligheid. Dis wanneer ma en pa hul eie taal met die kind praat, reg van die begin af. Die kind sal weliswaar ’n bietjie later begin praat, maar dan vlot in beide tale. Dit hang natuurlik ook af hoeveel tyd elke ouer het om hul taal met die kind te praat. Die taal wat die meeste met die kind gepraat word, sal eerste ontwikkel.
- Opeenvolgende tweetaligheid. Dan kies ma haar taal en beide gee die kind kans om vlot te praat, voordat die tweede taal aangebied word. Dis so rondom 24 tot 36 maande. Onthou OPOL: one parent, one language.
Onthou egter: Die wêreld gaan vir jou kind Engels leer. Maar net jý kan vir die kind jou hartstaal gee.

Links: Milanie Vosloo (Afrikaans.com-projekbestuurder) en regs Christien Neser (spraakterapeut en skrywer).