NB-uitgewers boekekeur vir Junie 2024: Verlekker jou in ’n keur van agt topgehalte kinder- en jeugverhale.
Gedurende Junie vier ons die jeug. In hierdie keur van verhale besef ons weer dat die lewe gebeur en wat dalk soos ’n berg voor ’n mens lê ons uiteindelik louter en nuwe moontlikhede oopmaak. Lees ook hoe ’n onskuldige poets lei tot ‘n avontuur wat niemand voorsien het nie. En as jy gedink het jou week het sleg begin … lees dan wat alles kan verkeerd gaan op ’n baie goor Woensdag. Skater saam oor die avonture van die stoutste klas op aarde – dis nou volgens hulle skoolhoof – maar is hulle werklik stout of gebeur die goed net? Die Branderjaers is in matriek, maar in plaas daarvan dat die skooljaar rustig verloop, kom krap ’n ou bekende (of berugte) dinge deurmekaar en moet ons helde seker maak daar is nie nog slagoffers nie. Lees hoe onskuldige vakansiewerk om te spaar vir ’n oorsese reis, toe bloot ’n dekmantel is en kort voor lank word die drie maats omring deur al te vreemde gebeure op die gasteplaas waar hulle vir vakansiewerk aangemeld het. Slaan jou tande in ’n wetenskapsfiksie-spanningsverhaal wat afspeel op ’n plaas in die Klein-Karoo. Op die plaas is daar meer vrae as antwoorde. Wie kan jy vertrou? En gaan ons heldin oorleef? En laastens … speurhond Willem, die slimste hond op Aarde, moet weer al sy vernuf aan die dag lê … die keer in die Amasone waar daar na ’n sampioen met wonderkrag gesoek word.
Kyk gerus op NB-Uitgewers se webblad vir hulle puik aanbod.

Borrelgom
Jana du Plessis Müller
ISBN-13: 9780798184502
Bea Malan, oftewel, Koningin Bea, word met ‘n skok van haar troontjie afgestamp wanneer haar ma die nuus breek dat haar ouers gaan skei en dat hulle na Johannesburg verhuis. Groot poef emoji. Hier is alles en almal anders as in haar geliefde Stellenbosch, waar sy die hoof van haar swerm was. Nou moet sy sink of swem tussen vreemde kinders in ’n stad wat sy nie ken nie en ‘n skool wat sy nie verstaan nie. Maar namate Bea se geheim al swaarder op haar druk, beweeg sy nader daaraan om nuwe mense – en dinge – in haar lewe toe te laat. Selfs ook die rondloperkat Kol, die ligstraal-emoji Lea en die verantwoordelike Daniël. Maar Bea is nog lank nie gereed om te dans nie, en besef dat sy sal moet grootword as sy nie wil toelaat dat die lewe haar soos borrelgom kou en uitspoeg nie.

Kaptein Onderbroek #3
Kaptein Onderbroek en die inval van die koelbloedige kostannies uit die ruimte
Dav Pilkey
ISBN-13: 9780798184267
George en Harold het al vir amper almal in Leergierig Laer ’n poets of twee gebak. Wanneer hulle nuutste poets veroorsaak dat die skool se kostannies bedank, stel mnr. Mor drie ongewone tannies aan – wat boonop baie soos aliens lyk! Sal Kaptein Onderbroek, die held met die rooi mantel, die skool en kinders kan red? Of sal die drie kostannies uit die ruimte hom vir middagete verslind?

Die goorste week ooit: Woensdag
Matt Cosgrove, Eva Amores
ISBN-13: 9780798184298
Het JY al ooit ’n GOOR WEEK gehad? Justin Chase het MAANDAG en DINSDAG skaars oorleef, maar nou is dit . . . WOENSDAG!
Sy kat is steeds spoorloos weg. Hy word per ongeluk ’n internetsensasie. En op die oomblik swem haaie in sirkels om hom, want hy’s vasgekeer in ’n hart-gaan-staan, vel-word-hoendervleis, mond-hang-oop, lewe-op-die-spel SOS (sweet-op-sweet) situasie saam met sy ongelooflik irriterende aartsvyand!

Die stoutste klas op aarde raak wild!
Joanna Nadin
ISBN-13: 9780798184281
Volgens die skoolhoof, mev. Brombom-Bredeboud, is 4B die stoutste klas op aarde. Sy sê skool gaan nie oor leeglê en lyf wegsteek, of pret hê nie. Dit gaan oor leer en dis hoogtyd dat 4B harder dáárin probeer uitblink. Maar Alex en Manjit het nie letterlik bedoel om Tanne vir ‘n War of the Wizards-speelkaart te verruil en hom in die skool los te laat nie. En hulle het ook nie letterlik bedoel om skuim oral in die klaskamer en oor mev. Brombom-Bredeboud te laat ontplof nie. Hierdie goed gebeur net!
Die vierde boek in hierdie reeks deur topverkoper Joanna Nadin bevat twee skreeusnaakse avonture en is die perfekte leesstof vir kinders wat gereed is vir hulle eerste hoofstukboeke.

Kanniedood: Branderjaer-sage #3
Joha van Dyk
ISBN-13: 9780798183802
Dis die Branderjaers se matriekjaar en Ben “Kannie” Palmer was van plan om sy kop laag te hou. Maar dinge loop van die begin af vir hom skeef. ’n Ou bendeleier is terug in Breekwater en Ben en sy suster Kalla word gekonfronteer met ’n legacy waarvoor hulle nooit gevra het nie. En ‘n oorlog wat die gemeenskap in chaos dompel. Kalla kon nog nooit die verlede afskud nie. Die nag wat sy in Niemandsland aangeval is het haar lewe verander. Nou het sy dalk ‘n kans om dinge reg te stel. Om seker te maak daar is nie nog ’n slagoffer nie. Al moet sy alles om haar afbrand.

Die Sproetebessies en die skedel in die spookmis
Sproetebessies #2
Troula Goosen
ISBN-13:9780798183628
Die Sproetebessies spaar vir ‘n reis na Italië en kry vakansiewerk op Spookkuil, ’n gasteplaas in Bobbejaanskloof. Milan, Andante en Nova het gemengde gevoelens oor hulle akkommodasie, ’n boomhuis naby die kuil wat aan die plaas sy naam gegee het en waaruit daar snags ‘n grillerige mis opstyg. Gou besef hulle dat die vakansiewerk net ’n dekmantel is: hulle is eintlik daar om uit te vind wie van die eksentrieke gaste met die eienaar se raar fossielversameling peuter. Andante voel veral geaffekteer deur die vreemde gebeure op die plaas. Wie is die geheimsinnige ou wat sy by die kuil ontmoet en waarom fassineer hy haar so? En watter raaisel is opgesluit in die sterretjiesdagboek wat sy in die ou huis se solder ontdek?

Waar jakkalse huil
Elrien Scheepers
ISBN-13: 9780624094128
Waar jakkalse huil is ’n wetenskapsfiksie-spanningsverhaal wat in die Klein-Karoo en Kaapstad afspeel. Die agtienjarige Laela Nix, ’n valkenier, se pa het haar net voor sy dood gevra om ‘n belangrike kriokapsule by ‘n vertroueling op Stellenbosch te besorg. Sy en haar swerfvalk Intsimbi beland op die plaas Swartfontein, ’n insekteelstasie wat kos aan die oorlewendes na die Hongersnood voorsien. Sy leer die bestuurder van die plaas, Finian, en sy twee mak rooijakkalse ken. Maar die vrae bly knaag, oor haar sending om haar pa se laaste versoek uit te voer, oor haar ouers se dood, oor haar vervreemde, beeldskone en gewetenlose suster Jessi. Wie kan sy vertrou? Haar lewe word bedreig toe ’n onwelkome besoeker op die Karooplaas opdaag, en sy vertrek op ‘n desperate vlug na Kaapstad. Gaan sy oorleef, wanneer donker onderstrominge haar oor en oor bedreig?

Speurhond Willem in die Amasone
Elizabeth Wasserman, Chris Venter
ISBN-13: 9780624094388
Die aartsskelm Brummel is weer op vrye voet, en op die spoor van ‘n sampioen wat in die Amasone groei en glo ‘n wonderkrag het: die mens wat dit eet, raak net slimmer en slimmer. Die avonturier William Travis wil dit eerste vind, maar vir weke het niemand van hom gehoor nie. Het die oerwoud hom ingesluk? Dis immers vol gevare: anakondas, poemas, krokodille . . . Brummel besluit hy’t hulp nodig, en wie beter om aan sy kant te kry as die slimste hond op Aarde? Maar Willem maak nie ‘n gewoonte daarvan om saam met boewe te werk nie. Hy moet Brummel eers oortuig hy’s aan sy kant, en so beland Adriaan ook in Manaus, die poort na die Amasone. Gelukkig het hulle vir Tito as gids en die apie Gonzales om hulle te help. Want die laaste ding wat die internasionale boewewêreld nodig het, is dat Brummel nog slimmer en sluwer word as wat die geslepe ou skelm reeds is.