Samegestel: Annelie van Jaarsveldt
Kyk hoe ver het ons gekom” – só, ongeveer, lui een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog. Dié veldtog het die viering van ’n eeu van Afrikaans as amptelike taal ten doel, met 8 Mei 2025 as feeshoogtepuntdatum.
Ter viering van dié ryklik klinkende taal kondig PEN Afrikaans en die webtuistes LitNet en Versindaba ’n gedig- sowel as ’n kortverhaal-skryfkompetisie aan.
Kortverhaal- en gedigskeppers word uitgenooi om die “Kyk hoe ver het ons gekom”-gedagte met eiesoortige invulling en in eie Afrikaanse woordeskat vas te vang. Dus: Dié breë tematiek kan vanuit enige invalshoek en met benutting van watter tongval(le) van Afrikaans ook al toepaslik is, benader word.
Inskrywings kan per e-pos gestuur word aan die volgende adres: penkortverhaalkompetisie@gmail.com. Maak asseblief in die onderwerp van jou e-pos duidelik vir watter kompetisie jou inskrywing is.
Inskrywings sluit op 8 Januarie 2025
Die laaste datum waarop inskrywings aanvaar sal word vir die keuringsproses, is 8 Januarie 2025 waarna ’n span beoordelaars drie kortverhaal- en drie gedig-weninskrywings sal kies. Die kompetisie-uitslag sal vanaf 8 April 2025 bekend gemaak word. Die prysgeld in beide inskrywingskategorieë beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.
Kompetisiereëls en riglyne:
- Die kompetisie is oop vir alle skrywers.
- Slegs eeninskrywing per skrywer sal per kompetisiein ontvangs geneem word.
- Slegs Afrikaanse kortverhale en gedigte sal aanvaar word. Alle variëteite van Afrikaans is welkom.
- Kortverhale moet uit 1500 – 3000 woorde bestaan. Die lengte van gedigte moet beperk word tot ’n maksimum van 25 versreëls.
- Elke inskrywing moet die skrywer se eie, oorspronklike en ongepubliseerde werk wees. Indien die inskrywing KI gegenereer of voorheen gepubliseer is, in enige formaat of op enige platform, sal dit nie vir die kompetisie in aanmerking kan kom nie. Outeursreg moet soos volg onderaan die ingeskrewe teks verklaar word: © Skrywersnaam, 2024.
- Outeursreg van die inskrywings berus by die skrywers, maar PEN Afrikaans en kompetisievennote sal geregtig wees om die gekeurde inskrywings aanlyn te publiseer en te versprei. Indien van die inskrywings later ook elders gepubliseer word, moet dit geskied met skriftelike kennisgewing aan PEN Afrikaans sowel as volledige erkenning met publikasie.
- Taalversorging van verhale en gedigte mag in lyn met die publikasieplatforms se stylriglyne gedoen word, met goedkeuring van enige inhoudelike redigering deur die skrywer.
- Inskrywings moet in MS Word-formaat aangebied word en elke bladsy moet genommer wees. Gebruik jou naam en van, die kompetisiekategorie, en die titel van die verhaal of gedig as titel van die dokument (Byvoorbeeld: Catrina Wessels.Kortverhaal.Kompas.docx). Let wel: Geen PDF’s sal aanvaar word nie.
- Keuring sal uitsluitlik deur die gekose keurders en beoordelaarspaneel behartig word en daar sal geen korrespondensie oor die keuringsproses of die toekenning van die pryse gevoer word nie.
- Inskrywings wat na 8 Januarie 2025 ontvang word, sal nie in aanmerking kom nie.
Bron: Kyk hoe ver het ons gekom: ’n gedig- en kortverhaalkompetisie – LitNet