Hierdie vegetariese eenpotgereg met groente, speserye, kekerertjies en klappermelk is ideaal vir ’n koue dag. Sny die groentes in ewe groot stukkies, dat dit egalig gaar word, maar moenie die eiervrug te klein sny nie, want dit krimp nogal baie soos dit gaar word.
Lewer 6 – 8 porsies
20 ml (4 t) olyfolie
2 uie, grof gekap
2 knoffelhuisies, gekneus
15 ml (1 e) fyngerasperde vars gemmer
1-2 klein rooi brandrissies, ontpit en gekap of na smaak
3 wortels, gehalveer en in dik diagonale skywe gesny
15 ml (1 e) matige kerriepoeier
20 ml (4 t) gemaalde komyn
300 g patats, in blokkies gesny
300 g botterskorsie, geskil en in blokkies gesny
250 g sampioene, in kwarte gesny
1-2 middelslag eiervrugte, met die skil aan, in blokkies gesny
500 ml (2 k) sterk Rooibos of flou groenteaftreksel
15 ml (1 e) fyngerasperde suurlemoenskil
1 x 400 g-blik kekerertjies of botterbone, gedreineer (sien wenke)
sout en peper na smaak
½ x 400 ml-blik klappermelk (sien wenke)
15 ml (1 e) suurlemoensap of na smaak
60 ml (¼ k) grofgekapte koljanderblare
ekstra koljanderblare vir garnering
- Verhit olie oor matige hitte in ’n groot kastrol of wye diep pan en soteer die uie, knoffel, gemmer, brandrissies en wortels vir ’n paar minute. Voeg kerrie en komyn by en soteer tot aromaties.
- Roer die patats, botterskorsie, sampioene en eiervrug by en soteer vir ’n paar minute. Roer die Rooibos of aftreksel en suurlemoenskil by. Sit die deksel op en verlaag die hitte.
- Prut 35-40 minute liggies of tot die groente net sag, maar nie pap is nie. Roer die orige bestanddele by en geur na smaak.
- Prut tot deurwarm en sit in bakkies met ekstra koljanderblare voor.
Resep uit Kos is op die tafel! deur Heleen Meyer | Fotokrediet: LiG Tydskrif | Fotograaf: Adel Ferreira
Wenk
- Klappermelk vries uitstekend – so bêre die res só vir ’n volgende ete.
- Vries die kekerertjies of bone se vloeistof en gebruik as aftreksel in ’n volgende sop of bredie.
Taalfokus
Hoor net hoe mooi is die woord ‘hutspot’ vir die winter-eenpotgereg, wat in Engels ’n ‘hotpot’ genoem word.