Ons is almal lief vir warm koesterkos en dié geurige sop is altyd ’n wenner. Dis ’n maaltyd-in-een met vleis en groente en die aromatiese geure van tamatie, paprika en gemaalde komyn. Maak dit vir ’n heerlike gesinsete of nooi vriende vir ’n gesellige winterkuier. Dit gaan ’n nuwe gunsteling word – ek waarborg jou.
Lewer 8-10 porsies
30 ml (2 e) olyfolie
750 g–1 kg ontbeende stowebees- of -skaapvleis, in blokkies gesny en oortollige vet verwyder
2 uie, in kwarte en dan dun skyfies gesny
2 knoffelhuises, gekneus
1 rooi soetrissie, ontpit en in dun repies gesny
2 selderystingels met blare, in dun skyfies gesny
40 ml (8 t) gewone paprika
10 ml (2 t) gemaalde komyn
2,5 ml (½ t) karwysaad (opsioneeel)
500 g botterskorsie of 2 middelslag-patats, geskil en in blokkies gesny
1 lourierblaar
1 x 410 g-blik gekapte tamaties
1 liter (4 k) hoender- of groenteaftreksel
500 ml (2 k) sterk Rooibos
150 g dun groenboontjies, diagonaal in derdes gesny
suurlemoensap, sout en varsgemaalde peper na smaak
50 ml grofgekapte Italiaanse pietersielie
125 ml (½ k) suurroom, ongegeurde jogurt of karringmelk
nog Italiaanse pietersielie om mee voor te sit
- Verhit ’n bietjie van die olie oor ’n matige temperatuur in ’n groot kastrol.
- Verbruin ’n kwart van die vleis. Skep uit en herhaal met die orige olie en vleis in sarsies tot alles verbruin is. Skep uit en hou eenkant.
- Soteer die uie, knoffel, soetrissie en seldery in dieselfde kastrol tot sag. Voeg speserye by en soteer vir 2-3 minute tot aromaties.
- Roer die botterskorsie of patats by en soteer vir ’n paar minute.
- Roer die vleis met die lourierblaar, tamaties, aftreksel en Rooibos by. Bring die mengsel tot kookpunt, verlaag die hitte en prut stadig, met die deksel, vir 1½-2 ure of tot die groente en vleis sag is. Die sop moenie te vinnig prut nie, want dit kan die vleis laat taai word.
- Roer die boontjies vir die laaste 15 minute van die kooktyd by. Geur na smaak met suurlemoensap, sout en peper en roer die gekapte pietersielie by.
- Sit met skeppies suurroom, jogurt of karringmelk en nog vars Italiaanse pietersielieblare voor.
Resep uit The AMC Cookbook deur Heleen Meyer | Fotokrediet: LiG Tydskrif | Fotograaf: Adel Ferreira
Wenke
- Vegetariese weergawe: Vervang die vleis met eiervrug, in blokkies gesny of nog botterskorsie en roer geblikte kekerertjies of witbone saam met die groenboontjies by. Die kooktyd sal dan net 30-40 minute wees, of tot die groente gaar is.
- Vervang die botterskorsie of patat met aartappel, maar onthou dat die sop dan nie gevries kan word nie. Blokkies aartappel word glaserig en onaptytlik as dit gevries word.