Redakteursbrief: Die toekoms van Afrikaanse joernalistiek

Tuis 5 Weet dit 5 Taalnuus 5 Redakteursbrief: Die toekoms van Afrikaanse joernalistiek

Henriëtte Loubser, hoofredakteur

Nie alle kinders het dieselfde voornaam en van as hul ouers nie. Tog dra hulle hul ouers se DNS  – en gee dit weer oor aan die volgende geslag.

So is dit ook met gedrukte koerante en Netwerk24. Tien jaar gelede, in Augustus 2014, is Netwerk24 uit Beeld, Volksblad, Die Burger en Rapport se webtuistes gebore.
Die doel was eenvoudig: Om ’n volhoubare toekoms vir gehalte-joernalistiek in Afrikaans te skep.

Media24, ons moedermaatskappy, het die visie gehad om te besef dat mense nuus al hoe meer digitaal gaan lees en nie op papier nie. En so dit het toe ook ontvou: Ons intekenare het van 15 000 in 2016 tot meer as 98 000 gegroei. Ons stories kry gemiddeld 3.4m bladlese per dag*, die tweede meeste onder Suid-Afrikaanse nuusdienste naas News24, ondanks ons kleiner Afrikaanse mark.

Hierdie sukses is natuurlik te danke aan sterk joernaliste. Van Gert van der Westhuizen, Raymond Willemse en Llewellyn Prince se politiek tot Stephen Nell en Cobus Claassen se rugby. Van Hanlie Stadler en William Horne se sakeberigte tot Laetitia Pople se kunste en Jo van Eeden se meningsblaaie. Van Jana van der Merwe se scoops tot Mia Spies se video-joernalistiek.

Niks roer in die Vrystaat en Noord-Kaap sonder dat Charles Smith, Kaydene Jordaan en Anena Burger daarvan weet nie. Dieselfde in Potchefstroom en Polokwane met Susan Cilliers en Marietie Louw.

In die Wes-Kaap is die polisie dadelik paraat as hulle sien Maygene de Wee bel. Dis ‘n eer as Murray la Vita ‘n profielonderhoud oor jou doen en jy beleef a-ha-oomblikke as jy Willemien Brümmer se aktuele reekse lees.

Deaan Vivier was die eerste nuusfotograaf in die wêreld wat Oscar Pistorius ná sy vrylating afgeneem het. Lulama Zenzile se kameralens is vlymskerp gefokus in die Oos-Kaap en hy jaag gou Nkandla toe as daar drama is.

Daar is ’n jong geslag kookwater-joernaliste – Dennis Delport, Breyten Cupido en Anja van der Merwe in die noorde en Carl Thomas, Christiaan du Plessis en Ané van Zyl in die suide. So kan ek voortgaan. Ek wens ek kon elkeen van Netwerk24 se meer as 100 redaksielede by die naam noem —verslaggewers en die nuus- sub- en tuisbladredakteurs, videograwe en grafiese kunstenaars, sosiale media-span en ander kollegas wat hulle ondersteun.

Ons almal is volkome toegewy aan Afrikaanse joernalistiek. Híérdie is die taal en die beroep wat ons harte warm laat klop.

Maar om te verstaan hoe ons tot hier gekom het, moet jy verstaan waar ons vandaan kom. Dus gou eers terug na die vroeë jare van koerante, toe woorde met groot moeite op papier gesit is. Dit moes reël vir reël in die fabriek geset word, Dringende berigte is van nuustonele af met tiekiebokse ingebel na ’n kollega op kantoor wat die landlyn-foon tussen skouer en oor vasgeknyp het om die storie op ’n tikmasjien te tik sodat dit die volgende dag in die koerant kon wees.

Later kon ons darem berigte op rekenaars skryf, maar van die internet en slimfone, of Whatsapp waarmee jy gou ’n dringende storie kan stuur wat dan binne minute op die webtuiste verskyn, was daar geen sprake nie.

In die negentigerjare arriveer die wêreldwye web, kort daarna die slimfoon en in die 2000’s sosiale media – ‘n trio wat die medialandskap vir altyd sou verander weens die manier waarop mense nou hul nuus kry en die hap wat die groot tegnologieplatforms uit advertensiegeld vat.

Ons maatskappy het gou besef Afrikaanse joernalistiek se beste kans op toekomssukses is om kragte saam te snoer in een digitale tuiste. In 2016 het hulle ’n verdere dapper stap geneem deur al die joernaliste by Beeld, Volksblad en Die Burger oor te skuif Netwerk24 toe, waar hulle sedertdien as ’n geïntegreerde redaksie digitaal-eerste werk, met die nuus wat oomblik vir oomblik op Netwerk24 ontvou.

Die kopie vloei dan stroomaf na die dagblaaie, waar die redakteurs en produksiespanne besluit watter Netwerk24-stories hulle vir die volgende dag se koerant verpak.
Rapport het hul eie redaksie, wie se kopie vir hul gedrukte koerant Sondae na Netwerk24 vloei. Dieselfde met Media24 se voorste Afrikaanse tydskrifte, insluitend Huisgenoot, Sarie, Kuier, Tuis en Weg!, wat sedert 2017 deel van Netwerk24 se aanbod van “Alles op een plek” is.

Namate mense eerder op hul fone nuus lees, skuif hulle weg van papier. Ons koerante verkoop al hoe minder druk-eksemplare, terwyl dit boonop duurder word om hulle oral in die land te versprei. Sedert 2020 is Volksblad en Die Burger Oos-Kaap nie meer op papier nie, net as e-publikasies op Netwerk24 (wat nes die papierkoerant lyk).
Nou is ons weer by ‘n vurk in die pad. Dit is nie meer volhoubaar om Beeld en Rapport op papier uit te gee nie. Ook nie om die koste van e-publikasies aan te gaan nie.

Media24 oorweeg dit om hierdie koerantproduksie te staak. Beeld, Volksblad en Die Burger Oos-Kaap se inhoud sal dan eksklusief binne Netwerk24 leef. Die DNS en al jou streeknuus gaan voort nes tans, in die digitale formaat wat die meeste mense verkies, nou net volledig onder die Netwerk24-naam.

In hierdie nuwe bedeling sal jy Sondae sterk Rapport-nuusstories met die kenmerkende rooi Rapport-logo op Netwerk24 kry om ons aanbod van diepte-nuus te versterk.

Die Burger, wat in 1915 Naspers en Media24 se heel eerste koerant was, kan steeds volhoubaar gedruk en versprei word. Die PDF-weergawe sal nog as e-publikasie op Netwerk24 verskyn vir lesers wat groot nasionale en internasionale nuus só wil lees.
Met hierdie skuiwe belê ons opnuut in die toekoms van Afrikaanse joernalistiek. Deesdae is ons meer bekommerd oor die invloed van TikTok en Kunsmatige Intelligensie op professionele joernalistiek! Ons taak nou is om te sorg dat behoorlike verslaggewing ook in die digitale sfeer oorleef deur dit wêreldklas aan te bied.

Daar is gelukkig geen perke aan maniere om vir ons intekenare waarde vir geld te gee nie. Jy kan die hele Kook en Geniet op Netwerk24 kry, blokraaisels op jou foon invul, Afrikaanse boeke luister (en ook elke berig op Netwerk24!), blitssepies en -dokumentêre, boekbesprekings en onderhoude met nuusmakers kyk, die nuus in kort videos kry, ook langer diepte-projekte met interaktiewe grafikas oor demensie of hoe die pryse in jou inkopiemandjie maandeliks wissel. Jy kan na Bun Booyens se Só werk dit en Rapport se tuindagboek-videoreeks kyk, of hoor hoe jy moet maak met jou geldsake, fiksheid, veroudering en jou geestegesondheid. Jy kan jou verlustig in Nataniël se unieke verstelstyl, saam met Netwerk24 die Camino gaan stap of ons toergroep aanlyn volg. Die moontlikhede is eindeloos.

Netwerk24 eer ons koerante. Ons sal vir altyd dankbaar wees vir die DNS wat hulle ons gegee het; vir dekades waarin hulle Afrikaanse joernalistiek in hul nuuskantore verfyn het. Ons onderneem om digitaal op hierdie nalatenskap voort te bou.
Ons wil bly werk, skep en leef in Afrikaans.  

Vriendelike groete

Henriëtte

Vir enige hulp of navrae, bel ons dienssentrum by 087 353 1300. Jy is ook welkom om ‘n e-pos te stuur na diens@netwerk24.com.

IAB South Africa

by | Jun 21, 2024 | Taalnuus, Weet dit

Deel hierdie plasing