En hier is @heleenmeyerfood se VINNIGE PASTASOUS vir daardie aande wat aandete vinnig moet klaar wees.
Eenvoudige tamatiesous
Lewer 4 porsies
30 ml (2 e) olyfolie
1 groot ui, fyn gekap
1-2 knoffelhuisies, fyn gedruk
1 rooi soetrissie, ontpit en in blokkies gesny
200 g kersietamaties, gehalveer
1 x 410 g-blik gekapte tamaties
30-45 ml (2-3 e) gekapte vars gemengde kruie, bv. basiliekruidblare, origanum, tiemie en Italiaanse pietersielie
suurlemoensap, sout en peper na smaak
- Verhit helfte van die olyfolie oor matige hitte in ’n groot pan. Soteer ui, knoffel en soetrissie tot sag.
- Roer kersietamaties by en soteer vir ’n paar minute tot aromaties.
- Voeg orige bestanddele, behalwe orige olyfolie, by en bring tot kookpunt. Roer af en toe, verlaag hitte en prut sonder ’n deksel vir 15-20 minute of tot sous verdik.
- Roer orige olyfolie by, geur na smaak en meng met warm pasta. Die sous is genoeg vir 250 g rou pasta, soos fusilli, penne of enige pasta van jou keuse. Roer ander bestanddele soos gaar spek, hoender of steakrepies by en sit met ’n harde kaas van jou keuse, ’n skeut olyfolie, suurlemoenwiggies en vars kruie voor.
Resep deur Heleen Meyer | Fotokrediet: LiG Tydskrif | Fotograaf: Adel Ferreira
Taalfokus
Daar is heelwat bestanddele wat soms onnadenkend met die Engelse woord aangedui word, sonder dat mense onthou dat daar ’n mooi Afrikaanse woord daarvoor is.
Twee voorbeelde uit die resep hier bo, is knoffel (garlic) en soetrissie (sweet pepper of party verwys na ’n salad pepper).