Aanlyn skoolgaan: Hoe om jou kinders te help om te floreer – wenke van ’n tuisskoolouer
Die besluit om jou kind se skoolopvoeding self te behartig, lyk dalk vir sommige ouers na ’n uitdagende taak, maar talle ouers doen dit reeds jare lank. Ons lewe in onseker tye en niemand weet wat die toekoms vir opvoeding inhou nie. Heidi Malan het met Vee Cowie, self ’n P.E.T.-instrukteur en tuisskoolouer, gesels. Sy deel nuttige insigte en advies.
Vee vertel meer oor haar persoonlike ervaring as tuisskoolouer
Ek onderrig my seun tuis vanaf sy vyfde jaar en soos dit maar die geval is met talle tuisskoolgesinne, was dit ’n proses om te bepaal wat vir ons as gesin werk. Tuisskool is baie anders as “skool by die huis” (soos wat die geval tydens die Covid 19-pandemie was). Baie min tuisskoolouers volg dieselfde kurrikulum, filosofieë of metodes. En juis daarom vind ons dit werk vir ons. Tuisskool is aanpasbaar en kan vir elke kind en gesin se verskillende situasies en behoeftes aangepas word.
My seun is op skool geboelie wat gelei het tot oormatige angstigheid. Op vyfjarige ouderdom het hy paniekaanvalle voor skool gehad. Hy het ook leerprobleme gehad, soos disleksie en sy oë het ook met moeite gefokus. Op daardie stadium het ons agtergekom daar is probleme, maar as gevolg van sy ouderdom kon ’n formele diagnose nie gemaak word nie. Dit, saam met die boeliery, was besig om my seun se gevoel van eiewaarde te vernietig.
Aanvanklik het ons beplan om hom net ’n jaar of twee tuis te onderrig om die stres te oorkom en ’n vlak te bereik waar skoolgaan en leer nie angs veroorsaak het nie. Hoe verder ons egter op die tuisonderrigreis gevorder het, en hoe meer navorsing ek gedoen het en begin verstaan het hoe die brein funksioneer en leer, hoe meer het ek besef ’n tradisionele skoolomgewing gaan nie vir ons werk nie.
Algemene wanopvattings/verwagtinge van ouers oor die aanlyn skoolomgewing
Dit is moeilik om die skoolopset tuis te skep – dit was byvoorbeeld duidelik tydens die Covid 19-pandemie toe leerders onder geweldige spanning verkeer het en mens kon nie help om te wonder hoeveel leer werklik plaasgevind het nie.
Tog is ’n skerm ’n doeltreffende leerhulpmiddel en ek gebruik dit deurgaans. Dit vergemaklik egter nie interaktiewe leer nie. Sessies op Zoom moedig nie bespreking en bevraagtekening aan nie. Om te verwag dat dieselfde vlak van leer tuis plaasvind wat in ’n klaskamer plaasvind, is dalk nie realisties nie.
Kinders is ook dikwels nie in staat om hulle gevoelens te verwoord nie. ’n Mens kan egter uit hulle gedrag agterkom dat alles nie pluis is nie. Hulle bied weerstand teen onderrig, hulle redekawel of raak depressief. Ons moet bewus wees hoe dit hulle affekteer en hulle help om hul emosies te prosesseer, in plaas daarvan om daaroor te raas of hulle te straf.
Die rol van die ouer in die kind se aanlyn leerproses
Die ouer is daar om die emosionele behoeftes van die kind te ondersteun. Kinders spandeer nie so baie tyd saam met skoolvriende nie en om boonop tuis te moet skoolwerk doen, kan oorweldigend wees. Jou kind het aanmoediging, ondersteuning en ’n ouer wat werklik luister nodig. Maak dus seker jou kind verstaan wat hy geleer het. Party kinders kan geïntimideer voel om vrae aanlyn te vra. Vra hulle om die werk aan jou te verduidelik en wys dat jy werklik belangstel.
Vaardighede wat toegepas kan word in die tuisskoolomgewing
Vee bied ’n kommunikasievaardigheidskursus aan en sê die volgende oor die nodige vaardighede:
Vir my is die belangrikste vaardigheid in die leerproses “Aktiewe luister”. In die P.E.T.-kursus word kursusgangers geleer dat ’n persoon nie kan hoor (luister) of sin maak as hulle nie self emosioneel gebalanseerd is nie. Dit geld ook vir ‘n kind wat probeer leer. ’n Kind wat gestres, ontsteld of oorstuur is, kan nie enigiets inneem of prosesseer nie en dit is ook nie die ideale omstandighede as leer moet plaasvind nie.
Sit tyd opsy en luister na jou kind en laat hulle toe om eers hul emosies te prosesseer. Dit versterk nie net hul emosionele intelligensie nie, maar dit skep ook geleentheid om terug te keer na ’n “denkende brein” wat natuurlik meer geskik is vir leer.
Tuisskool is meer as net fokus op die akademiese behoeftes van jou kind. Dit gaan daaroor om goed aangepaste individue te ontwikkel wat in staat is om enigiets waarmee hulle in die lewe gekonfronteer word, te hanteer. Ek vind ook dat ’n vaste stel kommunikasievaardighede ons gesin toerus met die vaardighede om enige situasie te hanteer – selfs die onbekende. Ons het die vaardighede om ons behoeftes, bekommernisse en konflikte te hanteer.
Word die tuisskoolleerder se sosialisering ingeboet?
Dit is ’n algemene vraag wat aan tuisskolers gestel word. Tuisskoolleerders het egter dikwels meer tyd tot hulle beskikking om aan allerhande klubs, sportspanne en aktiwiteite te behoort as hul skoolgaande eweknieë.
Besoeke aan museums, opvoedkundige toere, ens. maak ’n integrale deel uit van die lewens van die meeste tuisskoolgesinne en daar is ook altyd tuisskooluitstappies, byeenkomste en sosiale geleenthede wat gereël word.
Streng skedules is dikwels nodig om seker te maak dat daar ’n balans gehandhaaf word. Die ouer moet dus dikwels goed kophou oor wat gebeur waar en wanneer. Die meeste tuisskoolkinders het volgens my (Vee) ’n baie meer gevarieerde sosiale lewe as die gemiddelde skoolgaande kind. Hulle word blootgestel aan ’n baie diverse groep mense en word aangemoedig om met kinders van alle ouderdomme en agtergronde te meng. Daar bestaan nie ’n “standaard normaal” nie – elke gesin is uniek en verskillend en dit gee kinders die vryheid om net te wees wie en wat hulle is.
*Aanlyn leerplatforms
Die Departement van Onderwys se webtuiste (https://www.education.gov.za/) het ’n uitgebreide lys van vereistes vir die verskillende grade asook aflaaibare werkkaarte en aktiwiteite. Die beste is om spesifiek te google waarna jy op soek is, bv. graad 3, deelsomme, gratis werkkaart. Daar is ook ’n hele aantal gratis leerwebtuistes. Dit is dalk nie 100% met die KABV- of IEB-kurrikulums belyn nie, maar hulle dek ’n groot verskeidenheid onderwerpe en jy kan jou lesse kies.
Of gaan kyk op YouTube. Daar is letterlik duisende opvoedkundige video’s om uit te kies en is dikwels ’n waardevolle hulpbron om te raadpleeg.
My aanbeveling is om dit so eenvoudig moontlik te hou. Soek na dit wat jy spesifiek nodig het, in plaas van ’n algemene kurrikulum.
Ouers stres oor hulle kinders se toekoms en ons wil hulle toerus met die beste moontlike geleenthede. Tuisskool met ’n meer ontspanne leeromgewing, kan nie jou kind se toekoms skade berokken nie. Inteendeel. Die meeste laerskooltuisskoolleerders voltooi hulle skoolwerk binne 3 – 4 ure daagliks. Die grootste gedeelte van die dag word afgestaan aan “toevallige leer”. Soos byvoorbeeld:
- Om te bak (wiskunde en wetenskap)
- Tuinmaak (lewensvaardighede, ekologie, biologie)
- Stap in die natuur (biologie, wetenskap, ekologie)
- Deel van stresvolle tye – soos tydens die pandemie (lewensvaardighede, kommunikasievaardighede, emosionele intelligensie, selfregulering, empatie, gemeenskapsbetrokkenheid)
- Lego bou (ingenieursvaardighede, probleemoplossing)
- Bordspeletjies (beurte neem, strategie, probleemoplossing)
- Kunsvlyt (kreatiewe denke, fynmotoriesebeheer), ens.
Leer hoef dus nie skoolboeke en vooruitbeplande lesse te behels nie. Laer- of hoërskoolleerders kan baat vind by bogenoemde.
As tuisskoolouer kry jy die geleentheid om die wêreld waardeur jou kinders omring word en aan blootgestel word deur hulle oë te ervaar.
Kostebesparingswenke
Wees versigtig om aan te sluit by aanlyn kurrikulumverskaffers alhoewel dit ’n nuttige hulpbron is as jy permanent tuisonderrig doen. Dit kan duur wees. Kyk gerus by van die gratis hulpbronne. Daar is ’n hele paar biblioteekapps, soos Libby (https://www.overdrive.com/apps/libby/). As jy ’n biblioteekkaartjie het, het jy toegang tot honderde e-boeke aanlyn en dit is gratis. Daar is fantastiese hulpbronne vir kinders beskikbaar.
Ruil idees uit met ander ouers. Of doen ’n vakuitruil – een ouer vind hulpbronne vir wetenskap en die ander vir geografie – en dan ruil julle uit.
Laastens …
Leer vind nie net in klaskamers plaas nie. Ons kinders leer die hele tyd by ons. Hulle sien hoe ons stres hanteer, hoe ons kommunikeer, hoe ons ander mense behandel en hoe ons tyd maak vir onsself om ons batterye te herlaai en asem te skep. Dit is die goed wat hulle gaan onthou. Die wandelinge in die tuin, piekniek onder die sterre en die tyd wat hulle tuis saam met hulle geliefdes spandeer het.
Gaan lees meer oor Parent & Educational Training se ouerskapkursus hier https://www.parents.co.za/parent-training
*Kyk op Afrikaans.com vir nog inligting oor tuisskoolonderrig.
Tuisskool: Kies ek aanlyn of tuisonderrig? – Afrikaans.com
Tuisskool … waar begin ’n mens? – Afrikaans.com
https://afrikaans.com/2022/12/19/onderig-debat/
*Hierdie blog op Heidi Malan van die maatskappy Parent & Educational Training se webtuiste, het oorspronklik in Engels op hulle webtuiste verskyn. Die blog is deur Vee Cowie geskryf ten tyde van die Covid 19-pandemie. Hoewel daar aanpassings gemaak is, by die inligting steeds relevant. Afrikaans.com plaas die bloginskrywing in Afrikaans met spesiale vergunning.
Heidi Malan is die stigter en direkteur van Parent & Educational Training (Pty) Ltd. ‘n Maatskappy wat persoonlike en professionele ontwikkelings- en kommunikasieprogramme aanbied. Heidi het meer as 20 jaar ervaring in die aanbied van die Doeltreffende Ouerskapleiding-kursus – spesifiek op ouers van toepassing.