Skrywer: Nicolette Kritzinger
Dit is ‘n fantastiese idee, dink ek. Om reeds ses-uur die oggend by die stembus te wees in my vlyendste sweetpakbroek, sodat ek vinnig my merkie kan maak en dan my duim kan gaan swaai vir ‘n gratis koffie by Wimpy.
En dit wás ‘n fantastiese idee. So fantasties dat almal in Bellville ook daaraan gedink het. Ek weet nie waar al hierdie mense vandaan kom nie. Dis baie stresvol … ek gaan definitief nou daai influenza-kiem kry wat die ronde doen in die Kaap. My keel krap al klaar.
Tog sien ek altyd uit na verkiesings. My gunstelingdeel is om die mense dop te hou. Niks stimuleer ‘n sinnelose praatjie soos om vir vier ure in ‘n ry te staan nie.
Die oom agter my praat reeds vir die afgelope twee ure oor hoe jy die beste ribs in ‘n Weber gaarmaak. Die geheim lê blykbaar in die sousie. Hy is in 1974 aangewys as die Braaimeester van Bredasdorp en is sedertdien onoorwonne. Daar is nie ‘n vleisie wat onaangeraak bly in sy teenwoordigheid nie.
Twee tree vorentoe.
Huis Herfsblaar daag op. Vir die eerste keer in my lewe wens ek ek was 80 en in die besit van ‘n kierie en ’n pensioenkaart.
Voor ek my kon kry, trek die tannie agter my los. Sy kla oor alles … die lengte van die ry, die potholes in Noordwes en die feit dat haar seun nie van kontaksport hou nie. Hy trek einde van die maand Potch toe saam met sy meisie van twee weke. Sy het ‘n onnatuurlike liefde vir Taylor Swift, crop tops en toonringe. “Dis die begin van die einde,” sê sy. “Dis ’n kwessie van tyd voor hy net swart begin dra en elektriese sigarette begin rook. As hy eers in een van daai Potch-potholes beland het, is dit verby.”
Foeitog, en dan is Kobus en sy vrou ook hier. Sy dra net beige en het drie jaar laas emosie getoon – toe Kobus een middag uit sy eie aangebied het om die gras te sny. Ek is wel bly hulle twee is vandag hier. Dan kan hulle nou ook ‘n slag oor iets saamstem.
Drie tree vorentoe. Die sonnetjie het uiteindelik sy kop uitgesteek.
Dis een te veel vir Charmoné. Sy doen nie son nie. Clicks se R64-spray tan is baie meer natuurlik. Sy het al op vyf mense voor my afgegee.
Een tree.
Die vrou voor my fluister. “Ons vorder darem nou vinniger.”
Dis ‘n leuen. Een van daardie belaglike goed wat jy sê om ‘n gesprek aan te knoop.
“Definitief. As dit so aangaan is ons voor nege hier uit,” lieg ek saam.
Ons begin gesels.
Stadig maar seker begin sy uit haar dop kruip. En net daar, op die sypaadjie voor ’n NG-kerk in die hartjie van Bellville vertel hierdie wildvreemdeling vir my alles. Van haar droom om ‘n huisie by die see te hê, haar man se obsessie met duiwe, haar kind se graad 4-juffrou en die moesie wat sy drie jaar terug laat verwyder het. Ons praat oor selluliet, die dikte van die stroop om ‘n koeksister, hoe duur tamaties by Checkers geword het en hoe om ‘n kerriekol uit ‘n wit hemp te kry. Ons praat en praat. Oor my geboortvlek, oor hoe spaghetti-moppe verban moet word, oor die onderlaag wat sy tans gebruik, oor –
100 tree later. Ons het dit gemaak.
“Sterkte,” sê ek, voor ek my ID ingee. Amper hartseer dat hierdie ontmoeting nou tot ’n einde kom.
Ek stap by die saal uit, my drie kruisies getrek. Vir ‘n oomblik stop ek. Ek het nooit haar naam gevra nie …
Dit maak nie saak nie, dink ek.
Vir vandag, in hierdie oomblik in tyd, was ons net twee mense. Naamloos. Twee Suid-Afrikaners wat tussen die koeksisters en die kerriekol, maar eintlik net hoop op dieselfde ding … ‘n toekoms vir ons land.