Dié sop is regtig vullend en ’n maaltyd op sy eie, so daar is regtig nie nog brood ook saam met die sop nodig nie.
Lewer 6-8 porsies
20 ml (4 t) olyfolie
5 varkworsies of 100 g chorizo
2 uie, gekap
2 knoffelhuisies, gekneus
2-3 selderystingels met die blare, in skyfies gesny
4 wortels, grof gerasper
4 murgpampoentjies, grof gerasper
1 groot aartappel in die skil, grof gerasper
2 liter (8 k) hoender- of groenteaftreksel
2 lourierblare
30 ml (2 e) gedroogde gemengde kruie of origanum
150-200 ml rou gort (barley)
1 x 410 g-blik gekapte tamaties
125 ml (½ k) suurroom en ekstra om mee voor te sit
sout en peper na smaak
vars origanumblare vir garnering
Verhit helfte van die olie oor ’n matige temperatuur in ’n groot kastrol en braai die worsies tot goudbruin en amper gaar (moenie die chorizo te ver braai nie, want dis reeds gaar). Skep uit en hou eenkant.
Verhit die orige olie in dieselfde kastrol en soteer die uie, knoffel en seldery tot goudbruin. Voeg die wortels, murgpampoentjies en aartappel by en soteer vir nog ’n paar minute.
Voeg aftreksel, lourierblare, gedroogde kruie, gort en tamaties by en bring tot kookpunt. Roer deur, verlaag temperatuur en prut stadig met die deksel vir 1-1½ uur of tot die gort gaar is.
Sny die worsies in dun skyfies of blokkies en roer saam met die suurroom by.
Prut nog 5 minute, geur na smaak en sit met lepelsvol ekstra suurroom en vars origanum voor.
Resep uit Onthoukos deur Heleen Meyer | Fotokrediet: LiG Tydskrif | Fotograaf: Adel Ferreira