Skrywer: Jeannette Ferreira
Jeannette Ferreira skryf in ’n blog op SA Vryskutskrywer dat sy dikwels gevra word of ‘n mens self jou boek kan publiseer. Haar antwoord hierop is:
“Ja, jy kan. Maar, die ding van geld, vaardigheid en kennis is ‘n probleem.”
Jeannette skryf verder:
Eerstens moet jy ‘n groot kontantbedrag neersit voordat jou boek wins oplewer. Vir ‘n boek van 128 bladsye kyk jy na ‘n drukprys van sowat R22 000 – dus, jou grootste enkeluitgawe. En jy sal waarskynlik die helfte van die drukprys vooraf moet betaal.
Ander uitgawes:
- Uitlegkunstenaars (R32 – R42 per bladsy).
- Omslagontwerpers (R4 500 – R12 000)
- Foto’s is gewild vir omslae en ‘n foto by ‘n agentskap kan maklik tussen R3 000 – R10 000 beloop. Die resolusie moet minstens 300 dpi wees.
- ‘n Gesoute bemarker om die boek te versprei en te versend.
Selfpublikasie
Tik die woord “selfpublikasie” op ’n soekenjin in. Daar is talle agentskappe wat dit namens jou sal hanteer, maar teen ‘n prys – dis nou as jy nie self poskantoor toe wil ry om bestellings te versend nie, of jou kattebak vol boeke wil laai en van boekwinkel na boekwinkel wil ry nie.
Skeptiese boekhandelaar. Die meeste boekhandelaars en resensente koester ‘n gesonde agterdog jeens selfgepubliseerde boeke – en nie sonder rede nie. Die meeste selfgepubliseerde boeke is op die goedkoopste moontlike manier gedruk en die papier is soms so dun dat bladsy twee op bladsy een deurskyn – dus nie iets waarvoor ‘n boekhandelaar bekend wil staan nie.
Sulke boeke wemel dikwels van spelfoute en lomp stelwyses – want ‘n kennersoog of redakteurshand was nie naby die manuskrip nie.
Is die manuskrip goed genoeg?
Dikwels word daar gewonder of die outeur op selfpublikasie besluit het omdat geen uitgewery die manuskrip wou publiseer nie. Afgesien daarvan dat vriende en familie van mening is die uitgewer het waarskynlik geen waardering vir die storie en veral die “pragtige” omslag nie.
Moet ‘n mens dan maar liewer nie self publiseer nie?
Jeannette skryf dat haar bedoeling met die artikel is om voornemende selfpubliseerders mooi te laat dink voordat hulle die selfpublikasieperd opsaal. Sy sê dat skryftalent nie genoeg is om self ‘n boek suksesvol te publiseer nie.
Haar voorstel
Betaal twee of meer bekende keurders wat met die mark vertroud is om jou manuskrip te evalueer. Koste hieraan verbonde beloop gemiddeld R1 500 (vir die verslag).
Goeie raad is om hul bedenkinge en aanbevelings ter harte te neem. ‘n Keurder wat sy sout werd is, vind nie fout nie, maar maak aanbevelings om die manuskrip te verbeter.
Betaal dan ‘n vaardige redakteur om jou maunskrip te help ontwikkel en behoorlik te redigeer. Dit sal jou ‘n verdere R110 – R150 per 1 000 woorde uit die sak jaag. Hou in gedagte: So ‘n redakteur kan nie aan ‘n uitgewery verbonde wees nie, weens kontraktuele beperkings. Jy sal dus ‘n vryskutredakteur moet nader.
Omslagontwerp en uitleg
Hier is die mense wat weet hoe, die aangewese beginpunt. Hoe ’n boek lyk (en voel) is die eerste stap om die voornemende koper te oortuig om die boek aan te skaf.
Dit is ook raadsaam om ’n redakteur te vra en te betaal om vir die boek se agterblad ’n omvattende inligtingstuk te verskaf sodat jy jouself kan vergewis van die tegniese sake en onkoste daaraan verbonde om ’n goeie stuk reklame oor die boek te skryf.
Moenie die kar voor die perde inspan nie
Alvorens jy selfpublikasie en die gepaardgaande koste oorweeg, meen Jeannette ’n goeie skryfkursus met ’n deeglike mentor is dalk ’n beter en goedkoper besluit. As jy ná so ’n skryfkursus self wil publiseer, is jou kanse op sukses soveel groter.
Maak seker jy skryf in vir ’n skryfkursus met bewese resultate. Vra ander of hulle voel hulle het waarde vir hulle geld gekry. Maak seker die inhoud voldoen aan jou verwagtinge en dat jy individuele aandag gaan kry.
Oefen, oefen, oefen
Om te skryf moet jy oefen en gekritiseer word, oefen en geleer word. Iemand wat nie lees nie kan nie skryf nie. Jy sal waarskynlik ook die beste kan skryf in die genre wat jy die graagste lees.
Nog ‘n moontlikheid vir selfpublikasie?
Hierdie opsie gee jou die geleentheid om die boek self te finansier, maar onder ‘n gevestigde uitgewery uit te gee. Dalk is daar so ‘n uitgewery? In die geval sal jy jou uitgawes en inkomste uit die verkope van die boek goed moet bestuur.
Soos Jeannette sê: Dalk daag die dag dat selfpublikasie gevestigde uitgewerye verdring nog op. Maar dit sal afhang van hoeveel tyd en geld selfpubliseerders bereid is om aan kundigheid te bestee sodat daar uiteindelik nie meer stigma aan selfpublikasie kleef nie.
(Bron: Rapport Boekeblad)
Hierdie verkorte en aangepaste blog het oorspronklik op SA Vryskutskrywer verskyn en is met vergunning op Afrikaans.com se webtuiste geplaas. Lees die volledige blog op SA Vryskutskrywer – SA Vryskutskrywer