Geskryf namens die AON deur Lizette van Huyssteen
Dis verstaanbaar dat kleuters maklik onveilig voel omdat hulle so weerloos is. Jong kinders het ‘n diep emosionele behoefte om deurentyd in die sorg van ’n bekende volwassene te wees wat hulle kan vertrou om hulle liefdevol te versorg en beskerm sodat hulle veilig kan voel, speel en ontwikkel.
Hulle het ook ’n behoefte aan ’n bekende roetine en is bang dat iemand wat hulle nie goed ken nie hulle dalk nie sal kan verstaan nie. Dit is dus verstaanbaar dat dit vir hulle moeilik kan wees om Mamma en Pappa te sien gaan wanneer hulle ’n nuwe skool begin bywoon, of terugkom na ’n vakansie waartydens hulle aan ’n ander roetine gewoond geraak het.
Wenke
- Maak ’n belofte aan die kleuter se ouers terwyl die kind teenwoordig is en hy of sy hoor en verstaan wat julle vir mekaar sê. Mamma of Pappa kan sê: “Juffrou, ek gaan nou ry. Ek wil net seker maak jy na___ sal kyk totdat ek terugkom. Wanneer ___ iets nodig het of iets wil weet kan hy mos vir jou vra, nè? Sal jy hom help?” Waarop jy dan natuurlik met groot oortuiging instem. Hierdie tegniek werk om twee redes:
- In die konkrete, tasbare wêreld waarin kleuters leef, is dit vir hulle baie gerusstellend om eerstehands te beleef hoe Juffrou persoonlik vir Mamma of Pappa belowe dat sy mooi na hom sal kyk en nie ongeduldig sal wees nie.
- Hulle beleef hul ouers as die hoogste gesag, en glo dat iemand wat vanuit daardie oord ’n opdrag gekry het, sal doen wat gevra word.
- Stel voor dat ouers *foto’s gebruik om hul kinders te help om aan te pas. Dink hoeveel makliker dit is om na ’n vakansie uit te sien wanneer ’n mens foto’s gesien het van die plek waarna jy op pad is. Op dieselfde trant is dit makliker vir ’n kind om ’n skool as “my skool” te begin beskou wanneer Mamma hom of haar op verskillende sleutelplekke in die skool afneem – soos op die speelgrond, op die mat waar daar stories gelees word, by die hokkies waar die kinders se skoolsakke gebêre word, in die badkamer, by die sandput, saam met Juffrou en saam met een of meer maats.
* Dit sou ideaal wees om die foto’s uit te druk en in ’n boekie te laat bind, maar dit kan ook op ’n selfoonskerm bekyk en bespreek word. Hierdie tegniek werk die beste as die kind daagliks tuis aangemoedig word om na die foto’s te kyk en te gesels oor wat op die plekke gebeur, asook hoe die dagprogram verloop.
Hierdie artikel is met vergunning van die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON) geplaas.
Vir navrae en meer inligting, kontak gerus vir Wilna van Rooyen via wilna@aonetwerk.co.za
Webwerf: www.aonetwerk.co.za