Persverklaring
Die “Maak My ‘n Miljoenêr“-Entrepreneur van die Jaar-kompetisie, wat ook op ViaTV, kanaal 147, uitgesaai word, is ‘n landswye kompetisie vir hoërskoolleerders en het ‘n tweeledige doel:
- Bewusmaking van entrepreneurskap onder die jeug van Suid-Afrika.
- Om jong entrepreneurs op hoërskool te vind, te bemagtig met entrepreneursvaardighede en dan te mentor om van hulle miljoenêrs te maak.
Die “Maak My ‘n Miljoenêr”-Entrepreneur van die Jaar-kompetisie is ‘n inisiatief deur Albert van Wyk in samewerking met ATKV-Kletskringe, Atterbury Trust, Akademia, Afrikaans.com, die MOS-inisiatief en ATKV-oorde.
Vroeër vanjaar het Albert en sy span 51 hoërskole besoek en meer as 55 000 leerders toegespreek. Daar was altesaam 125 inskrywings en hieruit is die Top 60 nou gekies. Die hoofdoel van hierdie skoolbesoeke is om hoërskoolleerders aan te moedig om vroeg in hul lewe besighede te begin. Albert het self sy eerste miljoen op die jong ouderdom van 22 gemaak. Sy praatjies tydens hierdie skoolbesoeke waarin hy meer oor sy eie reis vertel, dien as verdere motivering en aansporing vir hierdie jong entrepreneurs om dieselfde te doen.
Die 2022 en 2023-wenners, Matthew Blauw en Shaniqua Steenkamp maak vanjaar deel uit van die span mentors vir die volgende generasie van Suid-Afrikaanse entrepreneurs wat deelneem aan die “Maak My ʼn Miljoenêr”-kompetisie.
Werkswinkels
Die Top 60 het op Saterdag, 4 Mei 2024, die geleentheid gehad om ‘n entrepreneuriese werkswinkel by te woon, waartydens sterk netwerke gebou is. Hierdie werkswinkels word persoonlik deur Albert van Wyk, Shaniqua Steenkamp en Matthew Blauw aangebied. Gedurende hierdie sessie het die “Maak My ‘n Miljoenêr”-span ‘n volle agt ure spandeer om besigheidsvaardighede en entrepreneuriese wenke aan die jong entrepreneurs oor te dra wat hulle dan in hulle besighede vir die kompetisie kan implementeer.
Die dag het afgeskop met ‘n opwindende rondskarrel vir foto’s en onderhoude vir opnames van die ViaTV-reeks. Die opwinding was voelbaar en die entrepreneurs het die geleentheid gehad om die ander deelnemers te ontmoet. Albert het elke deelnemer persoonlik ontmoet en daar was geleentheid om foto’s saam met hom te neem vir hul skool- en plaaslike koerant. Dit was ook die ideale tyd om sterk bande met te vorm en te gesels oor hulle bestaande besighede en strategieë vorentoe. Die res van die dag is gewy aan opleiding om hulle voor te berei vir wat vir hulle voorlê in die res van die kompetisie.
Daar is nog twee werkswinkels oor voor die jong entrepreneurs die Brandbank gaan aandurf waar hulle hul staal gaan moet wys. Die Brandbank is ‘n fisiese rooi bank waar elke entrepreneur ondervra gaan word deur ‘n paneel beoordelaars om te toets of hulle hul besighede goed genoeg ken.
Top 30 en Top 20
Na die Brandbank-sessies word die Top 30 gekies wat dan gaan deelneem intydse besigheidsuitdagings. Hierdie uitdagingsrondte dien as ʼn elimineringsrondte om die Top 20 te kies.
Gala-aand
Die finale byeenkoms is ʼn statige gala-aand waar die wenner bekend gemaak gaan word. Die uiteindelike wenner gaan wegstap met ‘n “Maak My ‘n Miljoenêr”-trofee, R30 000 kontant, asook n verskeidenheid pryse geskenk deur ons borge. Die kersie op die koek, is ‘n jaar lange mentorskapprogram saam met Albert van Wyk.
So word die wenner gekies
Die wenner word gekies gebaseer op die punte wat elke entrepreneur behaal. Hierdie punte word bymekaargemaak tydens die Brandbank- sessies, die besigheidsuitdagings en sy/haar finansiële state wat winste, omset en groei van die besigheid wys.
Ons is opgewonde om te sien hoe hierdie hoërskoolentrerpeneurs gaan vaar en gaan groei in hierdie seisoen van die “Maak My ‘n Miljoenêr”-Entrepreneur van die Jaar-kompetisie en ViaTV-reeks.
Vir meer inligting oor die kompetisie, besoek https://www.maakmynmiljoener.co.za/ of kyk na verlede jaar se reeks op www.youtube.com/@maakmynmiljoener. Die reeks sal ook op Woensdae om 19:30 op ViaTV, kanaal 147, uitgesaai word. Uitsendings begin op 28 Augustus 2024.