Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Die Wysigingswetsontwerp oor Basiese Onderwyswette is reeds lank in die nuus en tydens die jongste sitting van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) wat op 14 Mei gehou is, het agt uit die nege provinsies die gewysigde weergawe aanvaar. Slegs die Wes-Kaapse provinsiale wetgewer het daarteen gestem. Die wetsontwerp word vervolgens na die Nasionale Vergadering verwys vir goedkeuring, nadat die NRP wysigings aan die wetsontwerp aangebring het.
In April 2024 het Fedsas in ‘n mediaverklaring gesê dat beheerliggame met die wysingswetsontwerp kan werk nadat die wysigings aangebring is. Dit is nou hierdie sogenaamde D-weergawe wat deur die NRP aanvaar is. Dr Jaco Deacon, uitvoerende hoof van Fedsas (die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole) sê egter dat dit weer deur die Nasionale Vergadering goedgekeur moet word omdat daar wesenlike wysigings op die Nasionale Vergadering se B-weergawe was. Die NV sit weer op 16 Mei. Daar is dus op Woensdag, 15 Mei ‘n spesiale vergadering van die Nasionale Vergadering se Portefeuljekomitee oor Basiese Onderwys om die weergawe te bespreek met aanbeveling na die NV. “As ons na die vorige stemming van die NV kyk, kan ons verwag dat die ANC hulle meerderheid sal gebruik om die konsepwet goed te keur. Dit is dan in die hande van die President om dit te onderteken of nie. Daar is nog Grondwetlike vrae van verskillende organisasies en hy sal dus moet seker wees dat die konsepwet aan alle Grondwetlike vereistes voldoen,” aldus Deacon.
Afrikaans.com hou die proses dop.