Mediavrystelling & Afrikaans.com
Fotokrediet: Nardus Engelbrecht
Die gewilde liedjieskrywer en sangeres Luna Paige het vroeër vanjaar besluit om iets groots aan te pak. In die era waarin daar meestal enkelsnitte uitgereik word, het Luna besluit om nie net een vollengte album nie, maar twéé op te neem en op dieselfde dag uit te reik. Die resultaat? Luna se Afrikaanse nuutskepping “Dis die dors”, asook haar nuwe Engelse album “Harmony.” Dit is ook die eerste keer in 10 jaar wat Luna nuwe solowerk bekendstel.
“Dis die dors” is Luna se tweede Afrikaanse solo-album. Paige het die snit “Dis die dors” as titelsnit vir die album gekies omdat sy glo dié lied vang die essensie van die album vas.
“Harmony” is Luna se vyfde Engelse solo-album. “Harmony” is as titelsnit vir die album gekies omdat die lied op sy beurt weer die Engelse album in geheel vasvang. “Harmony” is geskoei op die filosofieë van Plato en Heraclitus, en speel met die tema van teenoorgesteldes: lig, donker, goed, sleg, heel- en gebrokenheid.
Luna vertel meer oor die besluit om so `n groot uitdaging aan te pak: “Ná ietwat van ‘n hiatus het ek ‘n hele paar liedjies opgehoop – in my moedertaal en in Engels. Na ‘n introspektiewe tydperk tydens die pandemie, en baie onvermydelike waarnemings as gevolg van globale gebeure en die ontploffing van die digitale era – het ek gevind dat die liedjies wissel tussen meer intieme en introspektiewe temas oor mens vs natuur; maar ook meer uitlokkende temas wat die dualistiese aard van die self in verhouding tot ander aanspreek. Dit lyk of die Afrikaanse album na die meer introspektiewe neig, terwyl die Engelse album ‘n meer dinamiese aanslag (tematies en musikaal) het – wat vir my nogal opwindend is. Aangesien ek van plan is om vir die res van die jaar oorsee te reis, het ek gedink dit is gepas om my aanhangers met genoeg materiaal te los, totdat ek terugkom met my knapsak vol nuwe liedjies. Ek is bly dat ek dit alles kon vermag. Dit voel soos ‘n groot wen om my visie om twee albums tot lewe te bring, te sien realiseer.”
Die musiek? ‘n Eklektiese mengelmoes van invloede uit verskeie genres soos folk, pop, blues, wêreldmusiek, ska/reggae, gypsy musiek en rock.


Om die mens agter die musiek van nader te leer ken, het Afrikaans.com Luna gevra om ’n paar vrae gebaseer op Tim Ferris se Tribe of Mentors, te beantwoord. Hier is haar antwoorde:
Wat is die boek (of boeke) wat ’n groot invloed op jou lewe gehad het en hoekom?
Life of Pi (Yann Martel) het ‘n groot impak op my gehad. Ek het die fliek net so baie geniet. Op die stadium wat ek dit gelees het, het dit soveel gedagtegange by my oopgemaak, dat ek sommer ‘n ellelange blog daaroor geskryf het. Met idees rondom vrees, rasionele denke, spiritualiteit, fantasie en mystical, oorlewing en lyding, mens en natuur.
Die sneeuslaper van Marlene van Niekerk. Sjoe, ek het bladsye volgeskryf na ek dié reeks verhale gelees het. Wens ek kan die notaboek kry waarin ek al my gedagtes neergepen het na ek dié boek gelees het. Sy is net eenvoudig ‘n ongelooflike skrywer. Wat my getref het (daar is so baie temas aangeraak) was veral die stories oor onsigbare mense. Die verdwaaldes. Hoe ons onsself in die samelewing kan verloor. Kunstenaarskap. Dit het my laat wonder oor brutalisme, nie net in argitektuur nie, maar in hedendaagse films, oor waarheid en fiksie. Dit het my nuuskierig gemaak oor filosofie – om myself verder daarin te skool. Ek het die boek geleen en met groot sorg terugbesorg. Ek sal dit lief om die boek te besit. Ek vermoed dit is een van daai wat jy oor en oor kan lees en elke keer iets nuuts raaklees.
‘n Boek wat ek so wyle terug gelees het en wat ook die titelsnit van my Engelse album, “Harmony”, geïnspireer het, is “A Gentleman in Moscow” (deur Amor Towles). Dit het my meegevoer, bygebly, en soos ek noem, sy pad gevind tot in een van my liedjies op my nuwe album.
Watter aankoop van ‘n R1000.00 of minder oor die afgelope 12 maande het ‘n groot impak op jou lewe gehad?
Canva. Vir diegene van ons wat gereeld moet ontwerpe doen om geleenthede en/of produkte op sosiale media te bemark, is Canva ‘n wonderlike hulpmiddel om grafiese ontwerpkostes te beperk. Dit maak die lewe soveel makliker om vinnige, professionele ontwerpe uit te stoot.
Watter mislukking of skynbare mislukking het later vir jou sukses ingehou?
Ek wens ek kon sê ‘n vorige mislukking het vir my sukses ingehou. Ek reken dit hang seker maar af wat mens as “sukses” bestempel. Ek verwys nou sommer hier na Towles (uittreksel uit A Gentleman in Moscow) – “I have had them all” (conveniences) – “in the end, it has been the inconveniences that have mattered most.”
Miskien het dié frase met my geresoneer, omdat ons so hard is op onsself, en so gefokus is op sukses, dat ons baie van wat in ons lewens gebeur se waarde onderskat. Meeste van die foute wat ek gemaak het, het nie noodwendig enige iets opgelewer buiten selfverryking nie. Daar is mislukkings wat my sterker gemaak het, my vaster op my voete laat staan het, my dinge met groter sekerheid laat aanpak het, wat my met meer kennis en vaardighede gelaat het. Geen van my mislukkings verdien in my oë die naam mislukking nie, bloot omdat hulle uiteindelik vir my so baie gegee het – al was dit by tye, bloot om iets vir die eerste keer te beleef!
As jy ‘n massiewe advertensiebord (billboard) iewers kon opsit wat miljoene mense sou bereik, wat sou dit sê en hoekom?
Stop. Pause. Think: When last did you spend quality time with you?
Ek onthou toe ek deur ‘n moeilike tyd was, het ek ‘n sielkundige gaan sien. Hy het aan my genoem hy wil my graag aan iemand spesiaal voorstel. Ek dink toe, “wil dié man my nou wraggies op ‘n blind date stuur”?! Dit was darem nie dit nie, maar wel dat hy my aan myself wou voorstel. Nou ja, ek weet dit klink dalk simpel, maar die uitdaging was om myself te leer ken soos ek iemand anders graag sou wou leer ken. Daar begin my reis toe. Inwendig. Die pandemie het die wêreld daai tyd ook getref, so my taak was ook aangehelp met geforseerde alleentyd. My bewuswording was dat so baie van ons diep gesprek met onsself vermy, omdat ons nie altyd gemaklik is met wat in daardie gesprek gaan uitkom nie. Ons is maar bang om die waarhede oor onsself te sien. Daar is magic in deeglik binnetoe kyk, goed en indiepte-gesels met die self. Dit lei tot aanvaarding, nie net van die self nie, maar uiteindellik almal anders vir wie mens lief is.
Wat is een van die beste beleggings wat jy al ooit gemaak het?
Ek is ‘n liedjieskrywer en ‘n sangeres. Vir die meeste van my lewe het ek my tyd, geld en energie hieraan spandeer. Daar was twee kere wat ek die werksmag (buite die musiekbedryf) betree het. Een keer as maatskaplike werker by ACVV (2007-2010), en een keer in bemarking, borgskappe en fondswerwing by Paul Roos Gimnasium (2021-2024). In beide van die gevalle het ek as mens ongelooflik gegroei. Ek het geleer dat ek veerkragtig is, dat tersiêre studies nooit ‘n fout is nie, dat ‘n lewe in die kunste soveel meer vaardighede kweek as wat meeste mense besef, dat passie vir en trots op ‘n mens se werk die één element is wat verseker dat mens sukses bereik, dat geen bedryf maklik is nie, én dat elke ervaring en geleentheid in die lewe, die pad vorentoe steen vir steen ooplê, of jy dit kan raaksien of nie.
Wat is ‘n ongewone gewoonte wat jy het of iets skynbaar absurds wat jy mal oor is om te doen?
Ek het so paar maande terug by ‘n Dungeons & Dragons-groepie aangesluit. My vriende vind dit vreeslik snaaks! Dit gee my oneindige vreugde om saam met die groep mense te verdwaal in ‘n verbeeldingswêreld. Dit is snaaks, kreatief, by tye belaglik, en ongelooflik pret. Ek is spyt dat ek die groepie verlaat wanneer ek nou oorsee gaan reis. Dit is ‘n wonderlike manier om te ontspan en van die alledaagse te ontsnap. En mense wat D&D speel is nooit vervelig nie!
In die laaste vyf jaar, watter nuwe insig of gewoonte het jou lewe die meeste verbeter?
Hier het insigte gekom, maar die implementering is maar nog ‘n “work in progress”. 😉 In hierdie sukses- en geldgedrewe samelewing waar onmiddellikheid van ons vereis word – is dit soms moeilik om balans te handhaaf. Tog is dit vir my iets wat belangrik is en wat ek hoop ek in die volgende vyf jaar gaan bemeester. Dit is juis hoekom ek vir die volgende paar maande op reis oorsee gaan. Ek beskou dit as ‘n reboot – ‘n skoon blaadjie waar al die insigte van die afgelope vyf jaar ingeleef moet word. BALANS. Tussen werk, speel, natuur, alleenwees, met mense wees, lekker eet, gesond eet, fiks wees, kuier, pret hê, die lewe vier, maar altyd met respek vir my liggaam. Om die liggaam by die kop uit te bring. Dat die twee altyd met mekaar kan praat. Dit is die uiteindelike doelwit.
So van onmiddellikheid in die vinnige baan gepraat – ek het hoeka ‘n tong-in-die-kies lied op my nuwe Afrikaanse album Dis die dors geskryf hieroor. Sy naam is Immediate Molly.
Watter advies sal jy vir ‘n jong gedrewe persoon gee wat op die drumpel is om die sogenoemde regte wêreld te betree? Watter advies moet hulle ignoreer?
Glo in jouself. Niemand anders gaan as jy nie in jouself glo nie. Kies ‘n paar mense wat jy vertrou en wie se opinie vir jou belangrik is. Gebruik hulle as jou klankbord en basta met die res. Meeste mense se advies is bloot projeksies. Moet nooit dink dat jy klaar geleer of gegroei is nie. Hou jou oë op rolmodelle wat jou inspireer, en luister wanneer geluister moet word. Neem tyd om te verteer, korrigeer en beweeg opnuut vorentoe. Werk hard. Verdien jou plek. Dit het soveel meer waarde.
Oor die afgelope vyf jaar, wat het jy beter geword om voor “nee” te sê? Watter nuwe insigte het jou gehelp om dit te doen? Enige ander advies?
Dit neem sommiges van ons langer as ander om by die goue woordjie “nee” uit te kom. My onvermoë om “nee” te sê, het al tot baie onaangenaamhede gelei. “Nee” is bevrydend. Daai ontmoeting met die self wat ek hierbo genoem het, dit het gehelp. Om die self goed te leer ken en lief te hê. Om te erken dat ander se liefde en respek nie beheer kan word deur die self ondergeskik aan eie behoefte te stel nie. “Nee” is ‘n grens, en ons almal het grense nodig as ons gesonde verhoudings wil handhaaf.
Wanneer jy oorweldig of ongefokus voel, wat doen jy om dit te oorkom?
Ek vat time out. Ek loop soek die natuur. Ek gaan sit daar, stap daar, ry in my kar rond waar dit mooi is. Ek skryf sonder om te dink. Soms slaap ek. Die brein is ongelooflik – hy sorteer soms dinge in jou slaap uit. As selfs dit nie help nie, praat ek met iemand wat ek weet saggies met my gaan werk wanneer ek ‘n wobble vang.
Lees gerus die blog wat Luna oor die boek, Life of Pi geskryf het, klik hier.
So het Luna gepost uit die Wildtuin nadat sy die boek, A gentleman in Moscow gelees het, klik hier.
Kyk die video’s van die snitte hier:
Luister na die tong-in-die-kiesliedjie, Immediate Molly op die album Dis die dors – oor hoe ‘n mens balans kan handhaaf in ‘n wêreld waar onmiddellikheid en in die vinnige baan lewe van ons vereis word: https://youtu.be/NhZCWHPF1Y0
Stroom die twee albums hier:
Aanlyn winkel:
Bestel die volgende produkte aanlyn op Luna se webwerf: www.lunapaige.com
100 USB-stokkies met beide albums, lirieke, plakkaatontwerpe en 2 musiekvideo’s teen R450 elk.
100 USB-stokkies met al Luna se musiek (2003-2024), lireke, plakkaatontwerpe en musiekvideo’s teen R1000 elk.
100 Luna Paige-notaboekies met lirieke uit “Dis die dors” en “Harmony”.
Volg haar op sosiale media:
Instagram: @lunapaigesa
Facebook: @lunapaige.singersongwriter
Twitter: @lunapaige
YouTube: @discoverlunapaige
