Mediaverklaring: KKNK
Uitnemende artistieke bydraes by vanjaar se KKNK, geborg deur Absa, is Donderdag 9 Mei met Kannas bekroon.
Die KKNK se Kanna-pryse is tydens ’n glansgeleentheid by Leopard’s Leap Wynlandgoed net buite Franschhoek oorhandig. Veteraan-joernalis Marianne Thamm was die aanbieder.
Die stoele, Eugène Ionesco se klassieke tragi-klug, onder regie van Marthinus Basson, is met drie pryse bekroon. Dié debuutwerk is aangewys as beste toneelaanbieding, met Chris van Niekerk en Antoinette Kellermann wat onderskeidelik as beste manlike en vroulike speler in ’n hoofrol vir hulle vertolking in die stuk bekroon is. Kellermann is ook as beste vroulike speler in ’n ondersteunende rol bekroon vir haar spel in Philip Rademeyer se Goed wat wag om te gebeur.
Rademeyer het die Kanna vir uitnemende literêre bydrae ontvang vir Goed wat wag om te gebeur.
Karoo Kaarte se nuutste teaterproduksie en plekspesifieke drama, Die Swartmerrie, is bekroon as beste debuutwerk by die KKNK en Neil Coppen as beste regisseur vir dié produksie.
Die geselskap van die eksperimentele drama, Monsters, is bekroon met die Kanna vir beste ensemble, terwyl Jaco Bouwer die Kanna vir uitnemende tegniese bydrae ontvang het vir sy algehele ontwerp van die debuutdrama, Patmos.
Eldon van der Merwe, hierdie jaar ook vereer met die Kunste Onbeperk-prys vir jong stem, is bekroon met die Kanna vir beste manlike speler in ’n ondersteunende rol vir sy spel in Deon Meyer en Coenie de Villiers se Roem: ’n Musiekverhaal.
Vier Panado’s en ’n Chardonnay met Elzabé Zietsman en Tony Bentel op die verhoog het die Kanna vir beste musiekaanbieding ontvang. Richard Specs Ndimande en Dineke Orton se groepuitstalling, Becoming Animal, is aangewys as beste visuele kunsaanbieding.
Karli Heine is bekroon met die Kanna vir Beste Lucky Pakkie-aanbieding, terwyl Magnet Theatre se Bounced as beste kinderteateraanbieding aangewys is.
’n Nuwe Kanna gee vanjaar erkenning aan die groter aanbod komedie by die KKNK en die 2023 US Première Teaterfees-klug, Su’walla Kassam, is aangewys as beste komedie-aanbieding.
Angelique Filter is bekroon as beste opkomende kunstenaar of nuweling vir haar teks, regie en spel in The Old Man Who Thought He Had a Dog, ook ’n produksie van die US Première Teaterfees in 2023.
Dawid van Eeden het die Kanna vir uitsonderlike tegniese diens aan die KKNK ontvang. Van Eeden was deel van die eerste beplanningspan van die KKNK en het oor die jare nie net toegesien dat daar geen kragprobleme by venues was en dat stelle betyds gebou word nie, maar ook elke jaar sy jarelange ervaring met jong opkomende tegnici gedeel.
Verskeie spesiale Kannas is ook tydens die geleentheid oorhandig. Die dansteaterproduksie, Set in motion, van Figure of 8 Dance Collective, 2020 se ontvanger van die Kunste Onbeperk-prys vir Jong Stem, is bekroon met Die Herrie-pys vir ’n grensverskuiwende multi-sensoriese ervaring. Willem Anker het die Spesiale NATi-prys ontvang vir sy bydrae tot progressiewe werk van hoë artistieke waarde, vir sy verwerking en vertaling van Han Kang se Die vegetariër en die nuutgeskrewe drama, Patmos. Kobus Spies is vereer met die spesiale diens aan die KKNK vir sy jarelange diens en ondersteuning van visuele kunste by die KKNK.
Crispin Sonn, voorsitter van die KKNK se direksie van 2017 tot 2024 en Ismail Mahomed, direkteur van die KKNK van 2017 tot 2024, het elk ’n spesiale Kanna ontvang. Beide Sonn en Mahomed se termyne op die direksie van die KKNK eindig in 2024.
Vanjaar se baie spesiale kunswerke is ’n collage uit die KKNK se bekroonde Karoo Kaarte-projek, geskep deur Oudtshoorn-kunstenaars. Hierdie kunswerke is saamgestel uit Oudtshoorn-stories wat nie voorheen gedokumenteer is nie en vorm nou deel van ’n lewende argief, wat sedert 2021 deur dié projek geskep is.
Die 2024 onafhanklike Kannapaneel was Felicia Lesch (sameroeper), Frazer Barry, Amelda Brand, Diane de Beer, Ilza Roggeband, Marianne Thamm en Haddad Viljoen.
Die 29ste KKNK, geborg deur Absa, word van Dinsdag 1 tot Sondag 6 April 2025 op Oudtshoorn aangebied. Vir meer inligting, besoek kknk.co.za of kontak 044 203 8600, info@kknk.co.za of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.
Die volledige lys van Kanna-wenners is:
Kanna vir beste opkomende kunstenaar of nuweling, geborg deur Ton en Anet Vosloo
- Angelique Filter (The Old Man Who Thought He Had a Dog – teks, regie en spel)
Kanna vir beste aanbieding: visuele kuns, geborg deur Absa
- Richard Specs Ndimande en Dineke Orton – Becoming Animal (groepuitstalling)
Kanna vir beste ensemble, geborg deur Wicus Pretorius
- Monsters
Kanna vir uitnemende tegniese bydrae, geborg deur Herotel
- Jaco Bouwer (Patmos – algehele ontwerp)
Kanna vir uitnemende literêre bydrae, geborg deur NATi
- Philip Rademeyer – Goed wat wag om te gebeur
Kanna vir beste aanbieding: musiek, geborg deur Castle Lager
- Vier Panado’s en ’n Chardonnay
Kanna vir beste aanbieding: toneel, geborg deur die Het Jan Marais Nationale Fonds
- Die stoele
Kanna vir beste aanbieding: Lucky Pakkie, geborg deur Glenwood Travel
- Karli Heine
Kanna vir beste aanbieding: kinderteater, geborg deur die ATKV
- Bounced
Kanna vir beste aanbieding: komedie, geborg deur Checkers
- Su’walla Kassam
Kanna vir beste debuutwerk, geborg deur Franklin en Joan Sonn
- Die Swartmerrie
Kanna vir beste manlike speler in ’n hoofrol
- Chris van Niekerk – Die stoele
Kanna vir beste vroulike speler in ’n hoofrol
- Antoinette Kellermann – Die stoele
Kanna vir beste manlike speler in ’n ondersteunende rol
- Eldon van der Merwe – Roem: ’n Musiekverhaal
Kanna vir beste vroulike speler in ’n ondersteunende rol
- Antoinette Kellermann – Goed wat wag om te gebeur
Kanna vir beste regie, geborg deur Crispin en Lisa Sonn
- Neil Coppen – Die Swartmerrie
Die Herrie-prys
- Set in motion
Spesiale NATi-prys
- Willem Anker
Spesiale Kanna vir diens aan die KKNK
- Kobus Spies
Kanna vir uitsonderlike tegniese diens aan die KKNK
- Dawid van Eeden
Foto’s
- ’n Keur van foto’s geneem tydens die KKNK se Kannas by Leopard’s Leap Wynlandgoed net buite Franschhoek. © Natalie Gabriels Photography