Skrywer: Lizette Murray
Die karakter van sukses
Een van die beste maniere hoe jy jou kind kan help om in die nuwe skooljaar – en die lewe – gelukkig en suksesvol te wees, is om sy karakter te bou. Dr. Jeanette de Klerk-Luttig (voorheen by Maties se fakulteit opvoedkunde) is die hoof van Karakter Werk/Character Works, ’n projek waardeur onderwysers, ouers en leerders opgelei word om kernwaardes te vestig en karakter te bou.
Jeanette sê: “Een van die belangrikste dinge wat ’n mens kan doen om skoolhou vir onderwysers aangenamer te maak, is om op karakteropvoeding te fokus.
Karakterontwikkeling het egter nie nét ’n positiewe invloed op die klimaat, verhoudings en prestasies in die skool nie; dit kring ook wyer uit. “Nadat ons opleiding by ’n plaasskool buite Stellenbosch gedoen het, het die ouers van ’n gr. 6-dogter met haar onderwyseres gaan gesels. Hul dogter het vertel dat sy by die skool geleer het van respek en hulle gevra om nie meer op haar of mekaar te skree nie. Hulle moes ook ‘asseblief’ en ‘dankie’ begin sê. Dit het so ’n groot indruk op die ouers gemaak dat hulle hul gedrag begin verander het.”
Brief aan ’n onderwyser
‘Help my seun die wonderwêreld van boeke ontdek, maar gee hom ook tyd vir stilwees om te kan nadink oor die ewige misterievan voëls in die lug, bye in die son en blomme op ’n groen heuwelrug.’ – gedig deur Abraham Lincoln (verkort)
’n Edel karakter
Toe daar aan die Japanse vioolmeester Suzuki gevra is wat sy grootste doelwit met elke leerder is, het hy gesê: “Om ’n mens met ’n edel karakter te vorm.”
Rooiappel-oomblik
Susan Potgieter (59 met BTW!), skoolhoof, Tygerberghospitaal-skool (2013) vertel:
“’n Graad 1-seuntjie in my klas kon destyds glad nie verstaan dat jy iets kan aftrek en dan word dit minder nie. Optel en meer word, ja. Dit was maklik. Op ’n dag het ek langs hom gaan sit en wéér aan hom verduidelik hoe minus-somme werk. In ’n stadium sien ek hoe sy oë helder word en ek weet: Hy het dit! Ek was so bly dat ek net aanhou verduidelik het. Net om seker te maak. Skielik druk hy sy ore toe en sê: ‘Juffrou, hou net op! Ek kan nie kondenseer nie!’ Ná al die jare bly dit een van my lekkerste skoolhou-oomblikke.”
Hou jou batterye gelaai
- Gun jouself genoeg
- Sit gereeld ’n stil tydjie vir jouself opsy.
- Bederf jouself met ’n lekkerlees-boek.
- Hou stiltetyd en skryf teksverse neer wat met jou hart praat.
- Vir inspirasie: Kyk na Paula Fox se Heart of a Teacher op YouTube
Hierdie verkorte artikel het oorspronklik in 2013 in Lééf-tydskrif verskyn.
Afrikaans.com bedank Lééf vir die vergunning om die artikel te plaas.