Gedurende Mei vier ons Moedersdag. ’n Dag waarop ons nie net die ongelooflike vroue in ons lewens vier nie, maar ook ’n dag om te reflekteer op die diepgaande invloed wat ma’s het om ons vroegste verhoudings en verbintenisse te vorm en te ontwikkel.
Bowlby se Verbintenisteorie (Attachment Theory) vorm die kern hiervan en werp lig op die diepgaande verbintenisse tussen ma’s en hulle kinders en die belangrikheid daarvan om veilige en hegte verbintenisse daar te stel.
John Bowlby, ’n Britse sielkundige, het die Attachment Theory in die middel van die 20ste eeu bekendgestel. Hierdie teorie het die belangrikheid van ’n kind se vroeë ervaring met hul primêre versorger beklemtoon. Volgens Bowlby word ’n hegte verbintenis gevorm wanneer ’n kind veilig, gekoester en geliefd voel.
Dit verskaf die grondslag vir lewenslange gesonde, emosionele ontwikkeling en verhoudings.
Hoekom is hierdie teorie so noodsaaklik om die ouer-kindverhouding te verstaan? Die antwoord berus by die diepgaande implikasies daarvan vir ’n kind se emosionele en sielkundige welstand. ’n Veilige verhouding bevorder ’n gevoel van vertroue, selfvertroue en veerkragtigheid. Dit stel kinders in staat om die wêreld rondom hulle met nuuskierigheid en selfversekerdheid te verken. Dit dien as ’n veilige basis waarvandaan hulle die uitdagings van die lewe kan navigeer, wetende dat hulle ’n liefdevolle en ondersteunende persoon het na wie hulle hul in tye van nood kan wend. Maar hoe kan ons hierdie lewensbelangrike band tussen ma’s en kinders versterk? Hier is ’n paar belangrike strategieë:
- Responsiewe ouerskap – wees daar vir jou kind: Om ingestel te wees op ’n kind se behoeftes, vorm die grondslag vir ’n stewige verhouding. Of dit is om aan hulle fisiese behoeftes te voldoen, of om emosionele versekering te verskaf, om teenwoordig te wees en op jou kind se behoeftes te reageer, bevorder ’n gevoel van sekuriteit en vertroue.
- Emosionele beskikbaarheid: ’n Koesterende omgewing waar emosies erken en bevestig word, help kinders om gesonde emosionele intelligensie te ontwikkel. Ouers wat sonder skroom hul liefde, empatie en begrip wys en oordra, skep ’n atmosfeer van emosionele sekuriteit en versterk so die band met hulle kinders verder.
- Konsekwente versorging: Konsekwentheid en voorspelbaarheid in versorgingsroetines gee aan kinders ’n gevoel van stabiliteit en versekering. Daaglikse rituele soos slaaptydroetines, maaltye en speelaktiwiteite skep ’n gevoel van veiligheid en roetine, wat mettertyd die band nog verder versterk.
- Moedig verkenning aan: ’n Veilige verhouding beteken nie dat kinders oorbeskerm word nie; dit is juis om hulle onafhanklikheid en selfstandigheid te ondersteun. Deur verkenning aan te moedig en daardeur ’n gevoel van toereikendheid aan te wakker, bemagtig kinders om selfvertroue in hulle vermoëns te ontwikkel, wetende dat hulle ma/ouer steeds daar is om leiding en ondersteuning te bied.
Die langtermyngevolge van ’n veilige verbintenis is diepliggend en vorm die grondslag vir verskeie aspekte van ’n kind se lewe tot lank nadat hulle volwassenheid bereik het. Navorsing het bevind dat individue met veilige en vaste verbintenisse waarskynlik gesonder verhoudings, beter emosionele regulering en ’n verhoogde gevoel van eiewaarde sal hê. Hulle is ook beter toegerus om stres en teëspoed te hanteer, wat net weereens die langdurige impak van daardie vroeë moeder-kindverhouding toelig.
Wanneer ons Moedersdag vier, laat ons opnuut besef hoe belangrik dit is om ouers met die hulpmiddele en kennis toe te rus sodat hulle gesonde en florerende verhoudings met hulle kinders kan bou. Doeltreffende ouerskapleiding bied aan ouers die leiding en ondersteuning wat hulle nodig het om sterk en veilige verbintenisse te vorm – verbintenisse wat ’n leeftyd sal bly voortbestaan.
Gelukkig Moedersdag aan al ons uitsonderlike en spesiale ma’s.
Gaan kyk gerus hierdie video:
The Attachment Theory: How Childhood Affects Life (youtube.com)
Gaan lees meer oor Parent & Educational Training se ouerskapkursus hier https://www.parents.co.za/parent-training
*Hierdie blog deur Heidi Malan van die maatskappy Parent & Educational Training, het oorspronklik in Engels op hulle webtuiste verskyn. Afrikaans.com plaas die bloginskrywing in Afrikaans met spesiale vergunning.
Heidi Malan is die stigter en direkteur van Parent & Educational Training (Pty) Ltd. ‘n Maatskappy wat persoonlike en professionele ontwikkelings- en kommunikasieprogramme aanbied. Heidi het meer as 20 jaar ervaring in die aanbied van die Doeltreffende Ouerskapleiding-kursus – spesifiek op ouers van toepassing.