Skrywer: Lizette Murray
Wat sou die wêreld wees sonder onderwysers wat ons leer om die lewe met albei hande aan te gryp …
Pousetyd met … Jakkie Louw, sakestudie-onderwyseres en atletiekafrigter en -organiseerder, Suncrest High, Vanderbijlpark – 2012.
Hoekom is jy ’n onderwyseres?
Dis in my bloed. As kind het ek in die garage skoolgehou. Ek het sommer op die mure geskryf! Skoolhou is my roeping. Dis waar ek wil wees.
Wat’s jou grootste taak?
Om kinders die belangrikheid van wedersydse respek te leer. Deurdat ek hulle respekteer, leer hulle ook om my – en ander – te respekteer. Nadat ek eenkeer ’n dogter oor drankmisbruik gekonfronteer het, het sy my ’n tyd lank vermy. Ek’t bloot aangehou om haar met respek te hanteer. Haar houding het geleidelik verander en in haar matriekeindeksamen het sy ’n onderskeiding by my gekry.
Wat is ’n kind se grootste onuitgesproke behoefte?
Sekuriteit. Daarom moet onderwysers konsekwent wees in wat hulle sê en doen. Ek vra ook verskoning as ek verkeerd is.
Hoe leef jy jou oortuiging in jou klas uit?
Ek leer die kinders om nie moed op te gee nie – ook al sien ’n mens nie resultate nie. Mens sien dalk eers jare later die resultate. Ek besef hoe hulle gegroei het as ek op sosiale media of ’n blog lees wat my oudleerders bereik het. Dit is my grootste beloning as onderwyseres.
Wat’s jou grootste uitdaging?
Om aan te pas by verandering. Om sterk en vasberade op te tree.

Dink en doen nuut!
- Herrangskik jou klaskamer een middag na skool.
- Sit vir elke kind wat deur die loop van die dag by jou klas het, ’n lekkertjie met haar naam en ’n inspirerende gedagte daarby op ’n bank.
- Doen moeite om ’n nuwe leerder spesiaal te laat voel. Vra ’n paar oulike kinders om hulle oor hom of haar te ontferm.
- Speel van tyd tot tyd klassieke musiek in jou klas.
- Begin soms ’n periode deur ’n oulike stukkie voor te lees.
Rooiappel-oomblik
Delina Lombaard, sangonderwyseres van Plettenbergbaai vertel:
“Jare gelede het ek een middag inkopies gedoen. Ek was moeg en moedeloos met ’n gesin wat versorg moet word en leerlinge, leerlinge en nogmaals musiekleerlinge. Skielik het ’n dreunende bas in my ore gesing: ‘Hallo, mevrou Lombaard … onthou u my? Ek is Thomas. U het jare gelede vir my musieklesse gegee.’
“Ek onthou die middag toe ek sy musiekboeke in die drom gegooi het en hy gepleit het vir nog net een kans. Ek het vir hom ’n pak jazz-boeke gaan koop, en ons het uitbundig saam begin musiek maak. En vandag doen hierdie pragtige jong man dít wat hom eindelose plesier verskaf. Hy sing in die Weense Staatsopera!
“Ek is so dankbaar vir die insig wat ek daardie dag ontvang het sodat ek vir Thomas tot nut kon wees.”
Hierdie verkorte artikel het oorspronklik in 2012 in Lééf-tydskrif verskyn.
Afrikaans.com bedank Lééf vir die vergunning om die artikel te plaas.