Skrywer: Persverklaring
Die 21ste Suidoosterfees, van 26 April tot 1 Mei in Kaapstad, se NATi Teaterfeesprogram sorg vir groot bederf vir dramaliefhebbers. Onder ’n bloedrooi hemel, gebaseer op Annemarié van Niekerk se aangrypende memoir oor liefde en geweld in Suid-Afrika, is die fees se vlagskip-dramaproduksie.
“Ons is baie opgewonde oor Onder ’n bloedrooi hemel,” sê Jana Hattingh, die feeshoof. “Die Hertzogpryswenner Nicola Hanekom het die boek in opdrag van die fees in ’n pragtige dramaproduksie omskep. Cintaine Schutte, Daniel Mpilo Richards en Deon Lotz is in die rolverdeling, en Marí Borstlap is die regisseur.”
Onder ’n bloedrooi hemel bied ’n diepgaande besinning oor die verskynsel van geweld in Suid-Afrika en die boek het Nederlanders en Suid-Afrikaners sedert publikasie gaande gehad.
Die Nederlandse uitgawe is met die Henriëtte Roland-Holtsprys vir betrokke literatuur bekroon, en die Afrikaanse weergawe het verlede jaar op topverkoperlyste geboer.
Die boek vertel die verhaal van die wreedaardige moorde op ’n plaas naby Elliot, en hoe dit Annemarié op ’n reis neem die verlede in. ’n Reis waarin sy bestek opneem van haar grootwordjare, ’n liefdesverhouding met ’n swart kollega Denzel, en haar pa wat haar ten alle koste teen die wêreld wil beskerm – alles binne die hartverskeurende konteks van Suid-Afrika se bitter geskiedenis.
Cintaine Schutte speel die rol van Annemarié, wat na Suid-Afrika terugkeer vir die begrafnis van die moordslagoffers, Ruben en tannie Hermien Gouws. Deon Lotz vertolk Annemarié se pa en Daniel Mpilo Richards is te sien as Denzel, Annemarié se minnaar.
Onder ’n bloedrooi hemel het plaaslik en internasionaal hoë lof ontvang. Volgens Deborah Steinmair vang die boek die “skoonheid en die waansin van ons bestaan” aangrypend vas.
Die skrywer Bettina Wyngaard prys die memoir vir die manier waarop die skrywer “die geykte plaasmoord-narratief met behendige, deernisvolle vernuf” systap.
Die Nobelpryswenner J.M. Coetzee loof die teks as ’n “deurwinterde insig in die lewe soos wat dit was en soos wat dit is in die Suid-Afrika van ons tyd”. En Antjie Krog beskryf dit as ’n “verhaal vertel met finesse, empatie en verbysterende moed”.
Dramaturg Nicola Hanekom sê dat dit ’n voorreg was om die boek vir die verhoog te kon verwerk. “Die memoir is intens, eerlik en bo alles braaf. Ek vertrou dat die toneelstuk ook so direk en dapper met mense se harte en koppe gaan praat, veral onder Marí Borstlap se regie. Hierdie is ’n ontblotende reis wat niemand moet misloop nie.”
Van Niekerk, wat in Den Haag woon, sterk sedert verlede jaar by haar suster Ilse in Kaapstad aan nadat sy ’n terugslag met haar gesondheid tydens die boekbekendstellingstoer gehad het. “Ek is so trots dat die toneelverwerking van die boek by die Suidoosterfees gaan première, ’n pragtige fees wat vanjaar haar mondigwording vier,” sê sy.
“Ek is ook ontsettend trots op die formidabele span agter die feesproduksie, deur die bank bekroonde kunstenaars – ’n kragveld van kreatiwiteit wat beloof om uitmuntende teater op te lewer.”
Die verhoogproduksie van Onder ’n bloedrooi hemel word moontlik gemaak deur die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (NATi) en Het Jan Marais Nationale Fonds. Dit is by die Suidoosterfees op die planke op 29 April 14:30, 30 April 18:30 en 1 Mei 10:00. Kaartjies kos R130 en kan deur Webtickets bespreek word, of skakel Artscape dial-a-seat: 021 421 7695. Die volledige NATi Teaterfees-program is beskikbaar op suidoosterfees.com.
Onder ’n bloedrooi hemel is in Suid-Afrika deur Tafelberg gepubliseer, en in Nederland is die oorspronklike uitgawe, Om het hart terug te brengen, deur Atlas Contact uitgegee. Die boek is beskikbaar by alle goeie boekhandelaars en aanlyn. Vir meer inligting, besoek NB-Uitgewers se webblad.
Die Suidoosterfees word geborg deur die Departement van Sport, Kuns en Kultuur; die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport; Stad Kaapstad; Netwerk24; Die Burger; NATi; kykNET; die ATKV en Artscape.
EINDE