Skrywer: Lizette Murray
Wat sou die wêreld sonder onderwysers wees wat ons leer om die lewe met albei hande aan te gryp …
Jou woorde tél
Mary Ann Bird vertel in haar memoir, The Whisper Test, hoe sy met ’n gesplete verhemelte en haaslip haar pad as uitgeworpe kind deur die lewe moes vind. Daar was nie geld vir ’n operasie nie en sy kon nie vrede maak met hoe God haar gemaak het nie. Wanneer mense haar na haar gebrek vra, het sy dan maar altyd gesê dat sy in ’n ongeluk was. Op ’n dag het ’n onderwyseres ’n gehoortoets gedoen om vas te stel of van die kinders gehoorprobleme het. Sy het ’n entjie van elke kind af gestaan en dan iets gefluister wat hy of sy moes herhaal, soos: “Jy het pragtige skoentjies aan.” Toe Mary Ann se beurt kom, fluister die onderwyseres: “Ek wens jy was my dogtertjie.”
Die eerste keer in haar lewe het sy aanvaarding beleef – en daarmee saam hoop. Sy het uiteindelik ’n suksesvolle sakevrou geword wat ander kon inspireer om met hoop te leef.
Juffrou …
- Skryf elke week ’n inspirerende spreuk op ’n vasgestelde plek op die bord of plak dit waar almal dit kan lees.
- Moet nooit vergeet watter invloed jy op die jong gemoed van ’n kind het nie.
Aanhaling:
“’n Onderwyser se invloed kring uit tot ver buite die klaskamer. Dit raak aan die some van die ewigheid.” – Henry Adams
Rooiappel-oomblik
Mien de Wet, ’n hoërskoolonderwyseres vertel:
“Ek moes onverwags ’n matriekklas oorneem nadat die vorige onderwyseres ’n senu-ineenstorting gekry het. In dié klas was ’n groep seuns wat die klas onregeerbaar probeer maak het. Ek was gereed om te bedank… Een oggend lê daar ’n briefie op my lessenaar, geteken deur ’n paar dogters uit dié klas: “Juffrou, ons sien die moeite wat Juffrou doen, al kry Juffrou swaar. Ons waardeer dit.” Ek’t besluit om deur te druk. Mettertyd het die belhamels die aftog geblaas.”
Hierdie verkorte artikel het oorspronklik in November 2012 in Lééf-tydskrif verskyn.
Afrikaans.com bedank Lééf vir die vergunning om die artikel te plaas.