Skrywer: Alita Steenkamp
ʼn Splinternuwe stem op RSG is die van Jaco de Waal wat voortaan op Vrydagaande tussen 18:00 en middernag met luisteraars sal gesels.
Hy sal ook oor naweke die kans kry om in die omroeperstoel in te skuif. Jaco het voorheen by stasies soos OFM en Overvaal Stereo uitgesaai. By OFM was hy een van die aanbieders van die ontbytprogram, The Good Morning Breakfast Show. Vir sy aanbieding van hierdie program is hy in 2023 aangewys as een van die finaliste in die SA Radio Awards.
Jaco vertel in ʼn onderhoud wat Kobus Burger met hom gevoer het, dat sy liefde vir die radio uit sy jong dae uit kom. In die Junie/Julie-skoolvakansie het hy saam met sy oom en tannie na die Wildtuin gegaan en op pad daarheen is daar altyd na RSG geluister. Vir hom lê die grootste waarde van die radio dat die moontlikhede legio is. ʼn Mens kan soveel bereik en jy kan ʼn hele nuwe wêreld vir die luisteraar skep en so lewens verander, sê hy.
Die twee mense in die mediabedryf vir wie hy die meeste respek het, is Riaan Cruywagen en Derek Watts wat verlede jaar oorlede is. Hy sien hulle albei as reuse in die bedryf en het veral waardering vir die manier waarop hulle professionaliteit respek onder luisteraars en kykers kon afdwing. Die twee se spore wat hulle gelaat het, sal nooit weggewaai kan word nie, sê Jaco. Jaco sien die Kruger-Wildtuin steeds as die ideale wegbreekkans, juis omdat sy liefde vir die radio daar gekweek is. Die Wildtuin het ʼn baie spesiale plek in sy hart, en daar het hy en sy nefie baie kattekwaad aangevang. Verkieslik sal hy eerder in ʼn tent wil kampeer as om in ʼn huisie tuis te gaan. Jaco sê hy is ʼn maklike mens om gelukkig te maak en jy gaan dit regkry met ʼn lekker bord kos en goeie, opregte geselskap. Hy is ʼn ywerige sjef wat baie van kosmaak hou en maak blykbaar heerlike crème brûlée. Sy werk maak hom ook besonder gelukkig en dit is vir hom ondenkbaar om nie by die radio betrokke te wees nie. Jaco het as seremoniemeester opgetree by BZN se laaste Suid-Afrikaanse vertoning by Carnival City in 2019. Luister Vrydagaande saam na hierdie nuwe jong stem op RSG.