Gaan op reis na wêrelde waar die magiese met die alledaagse vervleg word, na die surrealistiese wêreld van gastehuise op die platteland en Kersfees in klein dorpies. Ontmoet gemarginaliseerde karakters en kry ’n kykie hoe die Moslemgeloof saam met bygeloof en drome bestaan. Lees saam oor die lewe van expat-skrywers in die buiteland … verhale oor verlies aan die bekende, verlange en aanpassing. Sluit jou reis af met Kaapse stories wat die kwessies van identiteit, seksualiteit en gesinsdinamika van diegene aan die rand van die samelewing, ondersoek.
Kyk gerus op NB-Uitgewers se webblad vir hulle puik aanbod.
Bot
Carien Smith
ISBN-13: 9780624092872
Alles is ’n leuen. Niks is ’n leuen nie.
In hierdie ambisieuse bundel word die leser op reis geneem. Na wêrelde van verstommende – dog onmiddellik herkenbare – tegnologiese vooruitgang. Waar bespiegeling en die magiese skouers skuur met die “alledaagse”. Waar waarheid en versinsel nie meer onderskeibaar is nie. Waar nuwe, onthutsende eksistensiële vrae opduik, en in gesprek tree met die oerbekende een: Waar begin menswees, en waar eindig dit?
Bot is ’n verrassende, onderhoudende debuut wat ’n eiesoortige staanplek in die Afrikaanse verhalewêreld kry. Carien Smith is ’n skrywer van wie daar nog véél gehoor gaan word.
Help, help Stories
Nataniël
ISBN-13: 9780798184083
Nataniël is op sy stukke – wéér. In dié versameling van 29 stories (5 Engels, 24 Afrikaans) neem Nataniël ons op reis na die surrealistiese wêreld van gastehuise op die platteland, lapwinkels met geen mooi lap in sig nie, ’n toonbank met die mees asembenemende olyfolie, geglasuurde, kristalhelder koemkwats en vlesige vanieljepeule, en Kersfees in klein dorpies wat lyk soos ’n mini-heelal. Verskeie van die stukke maak oorspronklik deel uit van Nataniël-produksies oor ’n periode van drie jaar: Butterfly, Lovesick Tim, Moscow, Six in a Boat, Die Smitstraat Suite, Rome ’62 en Passi Passio.
Een voet innie kabr
Gaireyah Fredericks
ISBN-13: 9780795711008
Een voet innie kabr is ’n Afrikaapse kortverhaalbundel, polsend met Kaaps-Maleise invloede. Jy hoor die klanke van dié gemeenskap, musky en soet soes ryke yt die Jannat. Gaireyah Fredericks se debuutbundel kry dit reg om gemarginaliseerde karakters en vertellers op die voorgrond te plaas. Die tailor-dokter met sy briefcase vol sample-lappe, maatband en pen. Die pyn van ’n vrou wat haar pasgebore tweeling moet begrawe. Ennie stryd vannie pligsgetroue, prim en proper Marielda. En dan is daar oek Ghoemeira wat tradisionele waardes met moderniteit moet versoen. In dié wêreld wat Fredericks oepskryf, bestaan die Moslemgeloof saam met bygeloof en drome. Gaireyah Fredericks se bundel verryk die Afrikaanse letterkunde se skatkis.
Ver in die wêreld
Frederik de Jager
ISBN-13: 9780624089575
Die mens was nog altyd ’n rustelose wese. Om nomadies te wees is in ons bloed. Vandag het byna een miljoen Suid-Afrikaners reeds emigreer – van ons naby familielede en vriende. Ver in die wêreld, saamgestel deur Frederik de Jager, is 23 lekkerleesstories oor die lewe in die buiteland deur expat-skrywers soos Marita van der Vyver, Zirk van den Berg, Eben Venter en Chris Karsten. Sommige van die verhale is suiwer fiksie, en ander is intieme persoonlike ervarings. Dis verhale oor die verlies aan die bekende, die verlange huis toe, maar ook oor die aanpassing in die verre vreemde wat dikwels met ’n goeie skoot humor gepaard gaan.
Skop jou skoene uit, sit agteroor en laat jou wegvoer na Frankryk, Nieu-Seeland, Australië, Kanada, of na een van die ander plekke ver in die wêreld waar Suid-Afrikaners nesgeskrop het.
Misfit
stories vannie anne kant
Chase Rhys
ISBN-13: 9780795710520
Misfit: stories vannie anne kant bevat verwerkte rubrieke en kortverhale wat oorspronklik in Rapport gepubliseer is. Hierdie stories onnesoek issues van identiteit, seksualitieit, gesinsdinamika ennie daaglikse lewe van mense aan die rand vannie samelewing – die misfists. Ons leer ken vir Nana, ’n onverwagse geestelike gids (dink Boeddha met geperoxide hare in ’n updo) wat van drag races hou. Daar’s oek stories oor die lockdown-familiebraai oor Zoom, hoe seksualiteit innie bruin gemeenskap navigeer word en hul oupa se twie unsuspecting girlfriends wat by sy begrafnis ankom. En verhale oor die ervaring van gemarginaliseerde mense van Ocean View en binne die groter samelewing. In hierdie bundel, geskryf in Kaaps, weerklink die outentisiteit en humor waarvoo Chase Rhys bekend is.