Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
“Obsessief-kompulsiewe steuring (OKS) is ’n psigiatriese toestand wat gekenmerk word deur wederkerige en indringende denke en beelde (obsessies) en/of herhalende gedrag wat gemik is daarop om die angs wat saam met die obsessies gaan, te verminder.” – uittreksel van opsomming, MA-verhandeling 2017, Universiteit Stellenbosch
’n Mens hoor dikwels iemand sê hulle ly aan “OCD” (obsessive compulsive disorder – OKS in Afrikaans), want hulle hou van orde, is perfeksionisties en nougeset. Ongelukkig is dit nie so eenvoudig nie, want al het die persoon sekere van die simptome wat tipies van die steuring is, is hulle nie noodwendig obsessief-kompulsief nie en het baie van hulle eerder ’n obsessief-kompulsiewe persoonlikheidsteuring, is op die outismespektrum, het AGHS of ’n stressteuring of het bloot net ’n probleem om van sekere gewoontes af te sien. Ware obsessief-kompulsiewe steuring kan uiters ontwrigtend wees en is dikwels moeilik om te behandel. Afrikaans.com het meer gaan lees en lig die belangrikste kwessies oor hierdie komplekse toestand uit. Ons het ook gesels met ’n ouer wie se jongste kind met OKS en angsversteuring gediagnoseer is en terapie ontvang.
Wat is obsessief-kompulsiewe steuring (OKS)?
Die Wêreld-Gesondheidsorganisasie (“WHO”) klassifiseer obsessief-kompulsiewe steuring (OKS) as een van die 10 mees uitmergelende steurings wêreldwyd. In die Verenigde Koninkryk alleen word beraam dat daar ongeveer 750 000 mense is wat elke dag saam met ’n erge graad van obsessief-kompulsiewe steuring saamleef. – www.ocduk.org/ocd/
OKS is ’n angssteuring wat gekenmerk word deur “wederkerige en indringende denke en beelde (obsessies) en/of herhalende gedrag (kompulsies) wat daarop gemik is om die angs wat saam met die obessies gaan, te verminder”. Kinders, tieners en volwassenes word deur OKS geraak en “sonder behandeling, affekteer OKS die individu se daaglikse funksionering (slaap, produktiwiteit, ontspanning, sosialisering), en lewenskwaliteit (gesin, vriendskap en verhoudinge, akademie en werk asook selfwaarde)”. Tussen 1 en 3% van kinders en adolessente word deur OKS geaffekteer en 75% van die kinders en adolessente wat hierdeur geraak word, het ook ander komorbiede toestande, soos onder andere depressie, ander angsversteurings, aandaggebrek-/hiperaktiwiteitsteuring en Tourette’s. Soveel as 30 – 50% van volwassenes wat aan OKS ly, sê dat simptome reeds tydens kinderjare kop uitgesteek het.
Hierdie gedrag lyk dikwels vir buitestaanders onsinnig, tydrowend en irriterend en kan die persoon met die steuring van ander mense vervreem omdat hulle nie begryp hoekom enige iemand so paranoïes en irrasioneel kan optree nie – trouens, die meeste OKS-lyers is heeltemal bewus van hulle obsessies en kompulsies, weet dit is irrasioneel, maar kan nie daarmee ophou nie en dit op sy beurt lei weer tot meer angs. Sodra die een kompulsie oorwin is, verskuif dit na iets anders. Dit is daarom meestal ’n toestand wat lewenslank voortduur. OKS kan wel verbeter en bestuur word met aanvaarding, die regte strategieë en behandeling en ook die nodige sosiale ondersteuning van die gesin, familie, vriende en kollegas.
Hoe lyk die tipiese kenmerke van die OKS-lyer?
Behalwe die obsessiewe gedagtes en beelde, word die steuring gekenmerk deur rituele (kompulsies). Hierdie kompulsies gee kortstondige verligting van angs, maar die persoon put geen plesier/genot daaruit nie. Meer spesifieke voorbeelde sluit die volgende in:
Obsessies:
Aanhoudende en indringende gedagtes wat keer op keer voorkom en wat ongemak en angstigheid veroorsaak.
- Kan die volgende insluit:
- Vrees vir kontaminasie of vuilheid – bang om aan sekere voorwerpe te raak.
- Twyfel en ongemak om onsekerheid te hanteer – twyfel of die deur gesluit is, of die stoof afgeskakel is.
- Behoefte aan orde en balans – intense stres as daar wel wanorde heers.
- Aggressiewe of aaklige gedagtes wat verband hou met die verlies van beheer of om jouself of ander skade te berokken – ontstellende beelde en gedagtes.
- Vermy situasies wat obsessies sneller ten alle koste.

Kompulsies:
Herhalende gedrag gedryf deur die behoefte om angs wat verband hou met obsessies te verminder. Dit is dikwels irrasioneel en hou nie direk verband met die kwessie wat hulle wil oplos nie. Die persoon skep dus rituele of reëls om die angstigheid te beheer.
- Simptome kan insluit:
- Was en skoonmaak. Weens die vrees vir kontaminasie of oordrag van siektes, en om dit te voorkom, sal die persoon aanhoudend hande was – soms op ’n baie spesifieke manier, oormatig stort of bad, tandeborsel, ens., skoonmaak van huishoudelike toestelle.
- Roetine-aktiwiteite, soos om in en uit by deure te gaan, of trappe op of af te gaan, of om liggaamsbewegings uit te voer, soos om vingers te tik, iets aan te raak, oë te knip, of om take in “veelvoude” uit te voer, bv. doen iets drie keer, want drie is gelyk aan “goed”, “reg”, “veilig”.
- Psigiese/geestelike kompulsies. Bid, tel terwyl taak uitgevoer word, kansellering, of om iets ongedaan te maak deur bv. ’n “slegte” woord met ’n “goeie” woord te vervang om dit te kanselleer.
- Ander kompulsies. Orden voorwerpe totdat dit “reg voel”, praat, vra vrae – alles om die versekering te kry dat dit oukei is.

Wat is die oorsake?
Ten spyte van talle teorieë en navorsing, kon wetenskaplikes nog nie bepaal wat die presiese oorsaak is hoekom ’n persoon OKS ontwikkel nie. Van die teorieë (en dit is al wat dit is) wat die potensiële oorsake van OKS ondersoek, is kortliks die volgende:
- Biologiese faktore. Veranderinge in die chemie en funksionering van die brein, hormonale veranderinge en genetiese defekte, MAAR hoewel dele van die OKS-lyer se brein anders is in vergelyking met iemand wat nie OKS het nie (volgens skanderings), is daar steeds nie sekerheid presies hoe OKS funksioneer nie.
- Genetiese faktore. ’n Neiging tot angstigheid wat in families voorkom, kan ’n bepaler wees en van die navorsing toon dat ’n OKS-lyer in alle waarskynlikheid ’n famillielid met OKS sal hê. Navorsing het tot dusver bevind dat genetiese faktore dalk nie die enigste oorsaak van OKS is nie en dat van die gedrag aangeleer kan wees.

- Omgewingsfaktore soos sekere infeksies kan glo ook OKS aan die gang sit, bv. sommige kinders toon OKS-simptome na ’n ernstige streptokokkus-keelinfeksie omdat die liggaam se natuurlike reaksies op infeksie is om teenliggaampies te produseer en dit kan dus verband hou met Pediatriese Outoimmuun-neuropsigiatriese steurings (Engels: Paediatric Autoimmune Neuropsychiatric Disorders – PANDAs). Sodanige simptome sal egter binne een of twee weke voorkom en daar word beweer dat die kind reeds weens ander redes vatbaar vir OKS was. ’n 2004-studie kon egter nie die verband tussen infeksie en verergerende simptome (wanneer infeksies herhalend voorkom) staaf nie.
- Chemiese wanbalans met spesifieke verwysing na die neuro-oordraer, Serotonien is die chemikalieë in die brein wat boodskappe tussen die breinselle stuur en word beskou as die chemikalieë wat angs, geheue en slaap reguleer. Vandaar medikasie soos selektiewe serotonienheropname-inhibeerders (SSHI’s) – in Engels SSRIs – selective serotonin reuptake inhibitors. Interessant: Terugval of insinking in die toestand hou gereeld verband met die onttrekking van SSHI-medikasie in OKS – meer as ander toestande – veral as daar nie terselfdertyd gedragsterapie plaasvind nie. Daarom is dit belangrik om die medikasie altyd met die aangewese terapie te kombineer.
- Sielkundige teorieë. Navorsing het getoon dat daar ander faktore is wat ’n rol in OKS kan speel, naamlik gedrags-, kognitiewe en omgewingsfaktore. Die persoon ontwikkel dus aangeleerde negatiewe denke en gedragspatrone – hierdie rituele gedrag is dus ’n vorm van aangeleerde vermyding van spesifieke situasies.
- Kognitiewe teorieë. Almal van ons het soms indringende gedagtes, maar die OKS-lyer is geneig om hierdie gedagtes te misinterpreteer en sien dit as iets gewigtig wat katastrofale gevolge kan hê. Daarom lei dit tot obsessies en omdat die gedagtes so ontstellend is, gaan die persoon oor in kompulsiewe gedrag om hierdie obsessiewe gedagtes te weerstaan, te blokkeer of te neutraliseer. Hieruit het kognitiewe gedragsterapie ontstaan ofskoon dit nie altyd die gewenste resultaat met kompulsies het nie, juis omdat dit die interpretasie van die situasie is wat hier ’n rol speel.
- Blootstelling- en responsvoorkoming (exposure and response prevention – ERP). Dit is wanneer die persoon blootgestel word aan stimuli wat die obsessiewe reaksie sneller (“trigger”) en dan met behulp van die terapie gehelp word om vermyding te voorkom. Op die manier word die kompulsiewe reaksies vrygespring. Hierdie terapie het ook tot gevolg dat angstigheid vanself verdwyn.
- Stresvolle gebeurtenisse in die lewe – hier dink ons byvoorbeeld aan die Covid 19-pandemie wat veral by kinders groot angs veroorsaak het – veral traumatiese gebeurtenisse kan OKS ontketen in iemand wat ’n geneigdheid toon, maar is nie noodwendig die oorsaak nie. As dit egter nie behandel word nie, kan daaglikse angs en stres die simptome van OKS vererger.
- Ander geestesgesondheidstoestande soos depressie kan beslis OKS-simptome vererger, maar talle kundiges glo dat depressie dikwels die gevolg van OKS en nie die oorsaak is nie.
Waaroor daar geen twyfel bestaan nie, is die feit dat obsessief-kompulsiewe steuring ’n chroniese, maar mediese toestand is wat met die regte behandeling verbeter en beheer kan word. Elke dag is ’n nuwe dag in die behandeling van OKS en daarom moet elke dag en elke individu uniek hanteer word.
Behandeling*:
Onthou om NOOIT ’n selfdiagnose te maak nie en ALTYD professionele hulp te kry. Behandeling kan doeltreffend wees en vroeë ingryping verbeter uitkomste. Dus word dringende mediese aandag aanbeveel.
Wat jy moet weet:
- Diagnose moet deur ’n mediese kundige gemaak word. Laboratoriumtoetse of skanderings maak dikwels deel hiervan uit.
- Psigoterapie en medikasie word algemeen aanbeveel, mits deur ’n professionele mediese persoon voorgeskryf.
- Hoewel navorsing bewys het dat selektiewe serotonienheropname-inhibeerders, wel ’n mate van sukses in die behandeling van sowat 30% van kinders toon, is daar nog nie voldoende bewys dat dit wel ’n merkbare verskil maak nie. Daarom word ’n kombinasie van kognitiewe gedragsterapie en medikasie aanbeveel – indien van toepassing. In die geval van kinders, is bevind dat kognitiewe gedragsterapie die beste resultate lewer.
- Blootstelling en responsvoorkoming (“exposure and response prevention”) stel pasiënte bloot aan dit wat hulle vrees of die situasies wat hulle angstig maak – en maak deel uit van kognitiewe gedragsterapie.
- Selfsorg, sosiale ondersteuning en begrip vir die toestand is noodsaaklik.
- OKS kan jare voortduur en selfs lewenslank deel van ’n persoon se lewe wees.
- Familiegeskiedenis kan ’n bydrae lewer.
Uit die perd se bek.
Klik hier as jy wil weet hoe ’n mamma haar kind se OKS en angs ervaar en hanteer.
Bronne:
The daily functioning and quality of life of adults with obsessive compulsive disorder: a qualitative inquiry (sun.ac.za) – Opsomming: 2017-MA-tesis, Universiteit Stellenbosch
International OCD Foundation | Obsessive Compulsive Disorder (OCD) (iocdf.org)
Article: Cognitive behavioral and pharmacological treatments of OCD in children: A systematic review and meta-analysis (Journal of Anxiety Disorders, Vol. 43, Ocober 2016 – pp.58 – 69).
*Die inligting in hierdie artikel is verkry uit ’n persoonlike vertelling en gerekende webtuistes, maar is geensins bedoel om in die diagnose van OKS gebruik te word nie. Nie een lyer is presies dieselfde as ‘n volgende nie en bogenoemde inhoud is slegs riglyne. Indien jy vermoed dat jy of ’n gesinslid van die kenmerke van die steuring toon, word dit sterk aanbeveel om jou mediese praktisyn te raadpleeg wat jou na die nodige kundige (sielkundige/psigiater) sal verwys sodat jy volgens die aanvaarde voorskrifte geassesseer en gediagnoseer kan word.