Skrywer: Alita Steenkamp
ʼn Opwindende nuwe reeks, Vreemder as fiksie het op Maandagaand 1 April sy debuut gemaak op kykNET.
In hierdie dokumentêre reeks word die verstommende verhale van doodgewone mense vertel. Mense wie se lewens heeltemal omvergegooi is deur een of ander bisarre gebeurtenis of ʼn donker geheim wat op die lappe gekom het. In hierdie reeks kry die betrokkenes en familielede die kans om hulle ongelooflike wedervaringe te deel.
Die vervaardiger, Izelle Venter, sê in hierdie reeks word daar gefokus op die tipe verhale wat jy gewoonlik langs ʼn braaivleisvuur hoor en dan wonder jy of die verteller dalk die kat aan die stert beet het. “Die reeks delf dieper in dapper mense se lewens wat gekonfronteer is met gebeure en karakters wat jy dink net in storieboeke voorkom. Hul naastes en ook kenners werp lig op hul ervarings: van rare siektes en bonatuurlike gebeure tot wrede familiegeheime. Dis raar maar waar. Inderdaad vreemder as fiksie.”
Daar is 13 episodes in hierdie reeks en elke episode fokus op ʼn ander familie se storie wat voorwaar vreemder as fiksie klink.
Gʼn skrywer sou ooit hierdie tipe verhaal kon uitdink nie!
Vreemder as fiksie word op Maandagaande om 20:00 uitgesaai op kykNET (DStv-kanaal 144). Dit is ook op DStv Stream en DStv Catch Up beskikbaar.