Skrywer: Alita Steenkamp
Tiener- of jeugvolwassene-fiksie
Net ’n week of wat nadat Fanie Viljoen aangewys is as die wenner in LAPA se 2023-Jeugromankompetisie, het hy ook NB-Uitgewers se kortlys gehaal vir die 2023 Jeugboekpryse. Sy manuskrip is getiteld Sny hulle in sterre uit.
Die ander twee skrywers op die kortlys vir Tiener- of jeugvolwassene-fiksie is Sandy Schoeman met Chakalaka uit ʼn blikkie uit en Celeste Loriston met Pagama vir die Six.
Kinderverhale
In die afdeling vir Kinderverhale het Celeste Loriston ook die kortlys gehaal met haar verhaal Kwini-Lee en die kuberkraker.
Die ander twee finaliste is Karla Cloete met Wikus se wetenskaplike dagboek en De Wet Hugo met Die doodgelukkige bure.
Daar sal een wenner in elke kategorie aangewys word met ʼn totale prysgeld van R100 000: R50 000 vir elke kategorie.
Die wenners sal op 15 April 2024 bekend gemaak word.
Die wentitels word onderskeidelik deur Tafelberg en Human & Rousseau uitgegee en sal teen die einde van die jaar verskyn.







