Soos wat ons kinders grootword, raak hul wêrelde ook groter. Vanuit die gemak van ons ouerhuise na die speelgrond; saam met die druk van skoolwerk, bloei vriendskappe wat gepaardgaan met sosiale vaardighede wat ons kinders se toekoms sal vorm. Terwyl hulle hierdie nuwe omgewing ontdek, hoe kan ons, as ouers, hulle die beste ondersteun?
Om vriendskappe te smee, is meer as net pret en speletjies; dis ‘n noodsaaklike deel van kinderontwikkeling. Dit leer ons kinders waardevolle lesse in empatie, kommunikasie en samewerking.
As ouers is ons dalk bekommerd oor ons kind se vriendekring – en wonder ons of hulle darem al maats gemaak het. Voel hulle dalk uitgesluit? Hierdie bekommernisse is natuurlik, maar dit gee ons ook die geleentheid om ons kinders met deernis te lei.
Dr Thomas Gordon se Effektiewe Ouerskapopleiding verskaf waardevolle riglyne in die verband. Ons leer hoe kragtig aktiewe luister, empatie en selfversekerdheid is – vaardighede wat nie net ons verhoudings met ons kinders bevoordeel nie, maar ook aan hulle uitwys hoe gesonde vriendskappe behoort te lyk.
Wanneer moet ons ingryp as ons agterkom ons kind sukkel om maats te maak? Dit is ‘n fyn balans. Ons wil ons kinders die ruimte gee om te ontdek en hul sosiale vaardighede op hul eie te ontwikkel, maar ons wil ook ons ondersteuning en leiding gee wanneer dit nodig blyk te wees.
Hier is so ‘n paar maniere hoe ons ons kinders in die verband kan ondersteun:
- Luister aktief. Wanneer ons kinders na ons toe kom omdat hulle alleen en uitgesluit voel, kan ons aktiewe luister aanwend. In plaas daarvan om dadelik met oplossings vorendag te kom, kan ons empatie met hulle gevoelens toon en hulle verseker dat hulle nie alleen is nie.
- Ek-boodskappe. Ons kan ek-boodskappe gebruik om ons eie gevoelens en bekommernisse oor ons kind se sosiale ervaring te verwoord sonder om beskuldigings rond te gooi of te oordeel. Dit skep ’n veilige plek vir dialoog en begrip.
- Moedig jou kind aan om saam met jou te dink aan oplossings vir hul vriendskapuitdagings. Deur hulle te betrek by die probleemoplossingsproses, gee ons hulle vlerke om eienaarskap van hul sosiale interaksies te neem.
- Leer jou kind hoe belangrik dit is om empatie en deernis vir ander te hê. Moedig hulle aan om mooi te dink hoe hulle optrede en woorde hul vriende se gevoelens kan raak.
Onthou, ons rol as ouers is nie om ons kinders se vriendskappe voor te skryf nie, maar om hulle te lei met onvoorwaardelike aanvaarding en ondersteuning. Met behulp van oop kommunikasie, empatie en konflikhanteringsvaardighede, kan ons ons kinders wys hoe gesonde verhoudings behoort te lyk en bemagtig ons hulle terselfdertyd om die soms netelige vriendskaptameletjies van die lewe te hanteer.
Soos wat ons kinders se wêrelde oopgaan en wyer strek, is dit ons taak om hulle ankers te wees – daardie gebalanseerde teenwoordigheid waarop hulle altyd kan staatmaak tydens hulle vaart deur die soms stormagtige oseane van vriendskappe.
Gaan lees meer oor Parent & Educational Training se ouerskapkursus hier https://www.parents.co.za/parent-training
*Hierdie blog deur Heidi Malan van die maatskappy Parent & Educational Training, het oorspronklik in Engels op hulle webtuiste verskyn. Afrikaans.com plaas die bloginskrywing in Afrikaans met spesiale vergunning.
Heidi Malan is die stigter en direkteur van Parent & Educational Training (Pty) Ltd. ‘n Maatskappy wat persoonlike en professionele ontwikkelings- en kommunikasieprogramme aanbied. Heidi het meer as 20 jaar ervaring in die aanbied van die Doeltreffende Ouerskapleiding-kursus – spesifiek op ouers van toepassing.