As daar ’n misdaad in jou dorp gepleeg word, watter een van dié gewilde Afrikaanse speurders sal jy kontak om jou saak op te los?
Afrikaans.com het vir vyf van NB-Uitgewers se misdaadfiksieskrywers gevra om hul speurders vir ons op te som om jou te help om jou keuse te maak.

Kaptein Kassie Kasselman
Kaptein Kassie Kasselman is in sy middelvyftigs en ’n speurder verbonde aan die SAPD se Spesiale Spookeenheid in Kaapstad. Met sy verweerde rooi windjekker, hoogwaterbroeke en onindrukwekkende liggaamsbou, skep hy nie die beeld van ’n formidabele speurder nie. Maar misdadigers wat hom op sy voorkoms takseer, vind gou uit hy het ’n vlymskerp brein. In sy private lewe is hy ’n liefhebber van boeremusiek en ’n fanatiese posseëlversamelaar. Hy dien nie net op die Wes-Kaapse Boeremusiekgilde nie, maar is ook voorsitter van daardie streek se filatelievereniging. Hy lei ’n sober lewe en verkies Cream Soda bo alkoholiese drankies.
Om vir Kassie beter te leer ken, lees Dwelm deur Rudie van Rensburg

Adjudant-sersant Petunia Moraleng
Adjudant-sersant Petunia Moraleng van die Mooibaai Polisiestasie moet op 43-jarige ouderdom haar lewe en haar loopbaan van niks af weer probeer opbou. Na 20 jaar se ondervinding sit sy nou met ‘n junior se rang. Dit keer haar egter nie en al kom sy van die Vrystaat af en bevind haarself nou in die volksvreemde Wes-Kaap, laat sy die skelms les opsê. Petunia is nie op haar mond geval nie en meeste mense sien haar as ‘n soort chili: Sy gaan vir jou brand as sy jou beetkry. Haar familie sal jou vertel dat Petunia eintlik ‘n hart van goud het. Solank jy nie ‘n skelm is nie.
Om vir Petunia beter te leer ken, lees Bloedsomer deur Sidney Gilroy.

Adjudant Beer Henning
Soms is ’n aantreklike voorkoms bedrieglik. Adjudant Beer Henning, een van die voorste privaatspeurders in Mpumalanga, word dikwels vlak gekyk. En dis sy sterkpunt. Mense onderskat hom en dink hy kan maklik gemanipuleer word. Maar hy het ’n geniale insig in die menslike psige en verstaan presies hoe veral moordenaars se koppe werk, want hy was self al in ’n situasie waar lewe en dood in sy hande was. Nadat hy een keer te veel oorgesien is vir bevordering in die polisie, gebruik hy sy nuwe vryheid om profiele op te trek en in die koppe van sy verdagtes te kom. Hy wórd hulle met sy verkleurmannetjie-persoonlikheid en bedrieglike rustigheid. Want as jy klippe gekou het, verstaan jy die frustrasie van ’n moordenaar wat net op een vlak funksioneer. Frustrasie met wraakgedagtes. Hy was al daar. Nou pas hy daardie kennis eerstehands toe.
Om vir Beer beter te leer ken, lees Duiwelsroos deur Leon van Nierop.

Adjudant-offisier Storm van der Merwe
Adjudant-offisier Storm van der Merwe is ’n perfeksionis en soos met die meeste perfeksioniste raak sy gefrustreerd wanneer sy dinge nie kan beheer nie. Soos wanneer dit dol gaan by die werk. Soos haar woeste krullebol. Soos wanneer sy gesondheidsprobleme optel van waarskynlik te veel slaptjips en stres. Soos wanneer haar beste maat, Andreas Moerdyk, nie meer met haar wil praat nie.
Maar Storm het baie innerlike krag en word gedryf om die boewe op haar tuisdorp, Hermanus in die Wes-Kaap, uit te roei. Soms is sy kort van draad en staan eerder as om te sit, maar sy leef vir haar ou skaaphond en familie kom altyd eerste, soos haar jonger, weerbarstige sussie, Georgie, en haar uiters gegroomde Engelse enkelma, Rowena.
Sy is gebore uit ’n affair tussen ’n gemengde paar – en het ’n gespanne verhouding met haar biologiese pa gehad. Agttien maande ná sy dood kom sy af op dinge weggesteek in sy werktas wat haar so ontstel dat die polisiebaas haar stuur vir berading. En dit alles in die besigste week van haar loopbaan.
Om vir Storm beter te leer ken, lees Kwaaiwater deur Irna van Zyl.

Bennie Griessel
My naam is Bennie Griessel en ek is ’n alkoholis. Ek is nege-en-veertig jaar oud, en al vyfhonderd-en-twee dae lank op die waterkar. Ek is lid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens se speurspan by die Misdaadondersoekeenheid op Stellenbosch. Ná ’n dissiplinêre verhoor weens my en my kollega Vaughn Cupido se optrede teen lede van die Staatsekuriteit-agentskap, is ons range tot adjudant-offisier verlaag. Ek is verlede jaar getroud met Alexa, ’n oud-sangeres en ook ’n alkoholis. Ek het twee kinders uit ’n vorige huwelik, Carla (24) en Fritz (22). Ek speel baskitaar vir ’n orkes met die naam van ROES, maar ek is nie baie goed nie. Ek ry soms met ’n Giant-bergfiets vir oefening. Ek is ook nie baie goed daarmee nie. My enigste aanleg is vir speurwerk, maar dit neuk met my kop. Dis hoekom ek wil suip.
Om vir Bennie beter te leer ken, lees Leo deur Deon Meyer.