Saamgestel deur: Annelie van Jaarsveldt
“Almal wat enige vorm van skeppende werk verrig, is ewe kwesbaar en sekere bedrywe gaan dit vroeër as ander voel, maar uiteindelik gaan dit almal raak.”
– Gys Visser, hoof van kontrakte en regte by NB-uitgewers in gesprek met Naomi Meyer van LitNet.
Die wysigingswetsontwerp van die kopieregwetgewing sorg tans vir hittige en hewige gesprekke en ofskoon die wetgewing al lank in die tand is (en reeds uit 1978 dateer) en hersien moet word, word die voorgestelde wysigings wyd gekritiseer. Hoekom is uitgewers, inhoudskeppers en skrywers so ongelukkig? Is dit net omdat hulle geld gaan verloor of is daar ander redes daarvoor. Afrikaans.com som dit soos volg op uit ‘n artikel op LitNet:
In ‘n neutedop
- Die wysigingswetsontwerp maak voorsiening vir ‘n uitsondering vir opvoedkundige gebruik. Byvoorbeeld: ‘n Party wat besluit om ‘n handboek gratis beskikbaar te stel, sal nie gedagvaar kan word vir outeursregskending sou die boek uit druk uit wees of indien die staat reken die koste soos deur die uitgewer vasgestel, is te hoog nie. Akademiese uitgewers en diegene wat die leermateriaal ontwikkel sou dan aansienlik geraak word. Nog ‘n rede is die feit dat tussen 60 en 80% van uitgewers in Suid-Afrika se inkomste vanuit die opvoedkundige sektor kom en hulle daarom baie groot verliese kan ly. Dit spoel dan oor na die inhoudskeppers, trouens, almal wat direk en indirek betrokke is by die
- Die “fair use”-leerstuk wat uit die Amerikaanse regstelsel voortspruit en wat nou na die wysigingswetsontwerp oorgedra word, is ook hier ter sprake. “Dit behels dat enige persoon of maatskappy inhoud onderworpe aan outeursreg kan gebruik soos hulle goed dink en wanneer die outeursreghouer hulle dagvaar vir die skending, kan hulle net die verdediging opper dat hulle glo die gebruik kan geklassifiseer word as ‘fair use’. Die laaste besluit lê dan by ‘n hof en die kunstenaars trek altyd aan die kortste ent, veral ook omdat die wysigingswetsontwerp ‘fair use’ in meer vae taal as elders fraseer en ons kunstenaars dus meer blootgestel is as diegene in ander lande.” Aldus Gys Visser, hoof van kontrakte en regte by NB-Uitgewers in gesprek met Naomi Meyer van LitNet (28-02-2024)
- Die probleem is, die gewone outeursreghouer het nie die geld om duur hofsake te befonds nie en die geskil kan jare lank duur voordat die hof finaal besluit daaroor. Visser brei hierop uit en vertel meer oor die konsep van “fair dealing” wat wel in Suid-Afrika toegepas word en die “fair use”-beginsel dus onnodig maak. “Dit sorg vir ‘n lys gebruike van werke onderworpe aan outeursreg wat dan dien as uitsonderings op outeursregbeskerming. As jy byvoorbeeld dele uit ‘n boek wil gebruik as deel van jou navorsing, word jy in die bestaande wet teen eise beskerm. Albei partye weet dus wat toelaatbaar is.”
Die skrywer, Joha van Dyk, voel ook sterk oor die wysigingswetsontwerp en volgens haar is intellektuele eiendom vir alle skrywers belangrik, maar dit is nie net die skrywers wat daaronder gaan ly nie – dit raak almal met wie so ‘n skrywer saamwerk en die wysigingswetsontwerp sal die uitgewersbedryf groot skade berokken. Van Dyk voel dat die skrywer of kunstenaar van elke unieke skeppende stuk werk, beskerm behoort te word en dat dit hul absolute reg is om vir hul harde werk vergoed te word.
Bron:
Lees gerus die volledige artikel op LitNet hier: Wysigings aan die kopieregwetgewing: Gys Visser werp lig op die probleme met die “fair use”-leerstuk – LitNet
Lees ook: