Skrywer: Alita Steenkamp
Op Donderdagaand 7 Maart 2024 is die wenners van die kykNET Fiëstas by ʼn glansryke toekenningsaand by The Lookout in die V&A Waterfront in Kaapstad aangewys.
Hierdie toekennings het vanjaar vir die 14e keer plaasgevind en beloon uitsonderlike prestasies in die uitvoerende kunste wat in die voorafgaande jaar by die ses vervaardigende Afrikaanse kunstefeeste te sien was: Innibos, KKNK, Momentum Beleggings Aardklop, Suidoosterfees, Vrystaat Kunstefees en die Toyota US Woordfees.
Daar is in 2023 voorwaar weer ʼn ryk verskeidenheid van gehaltewerk tydens al hierdie feeste aangebied en die toekennings wat op Donderdagaand gemaak is, is welverdiend. Dit was veral die KKNK-produksie Droomkraan-kronieke wat uitgestaan het toe dit drie Fiëstas ontvang het: Beste produksie, Beste regie en Beste ensemble. Frank Opperman het ʼn Fiësta gekry as Beste akteur vir sy spel in Reünie, ʼn eenmanvertoning wat deur Dana Snyman geskryf is. Dit was nie Frank se eerste Fiësta nie. Lee-Ann van Rooi is bekroon as beste aktrise vir The woman who fed the dogs. Eben Genis (Mirakel) en Antoinette Kellerman (Goed wat wag om te gebeur) is vereer as Beste manlike byspeler en Beste vroulike byspeler.
Tydens hierdie geleentheid is Tobie Cronjé en dr. Ismail Mahomed ook beide as legendes vereer vir hulle lewensbydrae tot die kunste.
Die aanbieders tydens hierdie geleentheid was Vinette Ebrahim en Mandri Sutherland met Theodore Jantjies, David Kramer, Amanda Strydom, Cornelia Faasen, Wicus Pretorius, Reynard Slabbert en Laetitia Pople as gasaanbieders. Waldimar Pelser, M-Net se direkteur van Premium-kanale, het namens kykNET die wenners en benoemdes gelukgewens en ook die prys vir Beste feesproduksie oorhandig. In ʼn kort toespraak het Waldimar onder meer gesê dat ons nie meer dieselfde mense is wanneer ons uit een van hierdie produksies stap nie. “Ons is op ’n hoe klein ook al skaal getransformeer. Ons kyk bietjie anders na onsself en dalk selfs mekaar. Ons vergeet vir ’n ruk ons sorge en onthou wat regtig saak maak.”
Hiermee ʼn volledige lys van die wenners:
Beste produksie
Droomkraan-kronieke (KKNK)
Beste akteur
Frank Opperman vir Reünie (Innibos)
Beste aktrise
Lee-Ann van Rooi vir The Woman Who Fed the Dogs (Suidoosterfees)
Beste manlike byspeler
Eben Genis vir Mirakel (KKNK)
Beste vroulike byspeler
Antoinette Kellermann vir Goed wat wag om te gebeur (Momentum Beleggings Aardklop)
Beste regie
Neil Coppen, Craig Leo en Carlo Daniels vir Droomkraan-kronieke (KKNK)
Beste ensemble
Droomkraan-kronieke (KKNK)
Beste nuutgeskepte teks, verwerking of vertaling
Lynthia Julius en Veronique Jephtas vir My kroon se krank (KKNK)
Beste teaterontwerp
Wolf Britz vir Tuis, ek’s liefie (Toyota US Woordfees)
Beste oorspronklike musiek
Mbuso Ndlovu vir Echoes of Heritage (Vrystaat Kunstefees)
Beste prestasie in visuele kuns
Tafadzwa Tega vir Chisi Hachieri Musi Wacharimwa – A Seed Will Take Its Time to Grow (Momentum Beleggings Aardklop)
Beste prestasie in klassieke musiek
Erik Dippenaar en Ralitza Macheva vir Variations (Klein Karoo Klassique)
Beste musiekgedrewe produksie: Buitelug of podium
Echoes of Heritage – Universiteit van Johannesburg-koor (Vrystaat Kunstefees)
Beste musiekgedrewe produksie: Teater
David Kramer – Ver in die wêreld Kittie (Suidoosterfees)
Beste kinder- of opvoedkundige teater
Braam en die engel (Momentum Beleggings Aardklop)
Beste opkomende kunstenaar
Kerscha Titus vir Jantjies and the Pearls (KKNK)