Skrywer: Alita Steenkamp
Wanneer jy die Monument kom besoek en by Ontvangs aankom, kan jy seker wees jy gaan die vriendelike Rebecca Letsoene daar raakloop. Rebecca wat al elf van ons nasionale tale kan praat, en ook nou besig is om Gebaretaal, ons land se amptelike 12de taal, onder die knie te kry. Asof dit nie genoeg is nie, sal sy die Franse gaste met ʼn vriendelike Bonjour! en die Duitsers met ʼn Guten Tag! groet. Rebecca is die ontvangsdame by die Voortrekkermonument wat al vir meer as 22 jaar by hierdie kultuurtuiste werk. In hierdie 22 jaar het sy in verskeie afdelings gewerk, maar sy huiwer nie om jou te vertel dat sy bloot as ʼn skoonmaker begin het nie. Rebecca het grootgeword in Atteridgeville en matriek geskryf aan David Hellen Peta Secondary School. Dit was moeilike grootwordjare vir die meisie wat daarvan gedroom het om eendag ʼn graad te bekom.
“Ek wou baie graag ʼn maatskaplike werker word, maar as jy uit ʼn familie kom wat dit nie kan bekostig nie, dan kies jy iets wat jy wel kan bekostig. Ná skool het ek gaan studeer om ʼn administratiewe assistent te word en my heel eerste werk was by die Hyperama, Centurion. Dit was die dae toe Centurion nog Verwoerdburgstad was. Hierna het ek by ʼn maatskappy gaan werk wat skoonmaakdienste by die Voortrekkermonument gedoen het. Op ʼn dag het my baas vir my gesê van die pos wat oopgegaan het vir ʼn administratiewe assistent by die Voortrekkermonument. Hy het gesê ek moet aansoek doen daarvoor. Ek was eers huiwerig, maar hy het my aangemoedig om die kans te waag, en ek is toe aangestel by die Voortrekkermonument. Ek sê nog altyd ek is spesiaal deur God uitgekies om daar te gaan werk,” vertel Rebecca.
Sy lag en sê dit was in die dae toe genl. Gert Opperman nog aan die stuur van sake gestaan het. Wanneer hy in die oggende daar opgedaag het met sy bos rooi hare wat regop staan, het hulle geweet vandag gaan die poppe dans! Vandag gaan hulle hard werk.
Rebecca noem haarself ʼn personifikasie van die reënboognasie. Die vriendelike vrou raak selde kwaad en sy gee baie om vir die mense om haar. Sy is ook die moederfiguur by die werk en almal voel soos haar kinders. Met Rebecca wag jy nie vir iemand om die gesprek te begin nie, dit is sy wat dit gaan doen! Rebecca se Tswana-naam is Lehlohonolo wat “gelukkig” beteken.
Een van die lekkerste dinge van haar werk, sê sy, is wanneer iemand met ʼn kwaai gesig by die Monument opdaag, sy so ʼn bietjie gesels en hy dan ʼn rukkie later vanuit die Voortrekkermonument kom met ʼn breë glimlag op die gesig. Dan weet sy haar werk is gedoen. Al die gidse wat gereeld groepe na die Voortrekkermonument bring, werk ook baie graag saam met Rebecca. Afgesien van haar werk by ontvangs, reël sy ook al die skooltoere wat na die Voortrekkermonument kom. Sy doen ook toerismeskakeling en gaan jaarliks na die groot toeriste-indaba wat in Durban gehou word.
Vra ʼn mens vir Rebecca wat dit vir haar beteken om by die Voortrekkermonument te werk, kom die antwoord gou: “Soos hulle in Engels sal sê: It means the world to me. Ek is gelukkig en voel soos ʼn uitverkorene. Ek voel dit was die Here se plan om my daar te sit. Dit beteken vir my so baie om by die Monument te kan werk en dan ook in ons pragtige taal Afrikaans te kan werk. Ek is so lief vir Afrikaans. Ek het my eie moedertaal, maar ek is lief vir Afrikaans en ek geniet dit om deel te wees van die Afrikanerkultuur. Ek werk nie by die Monument net vir die salaris nie. Ek werk hier omdat ek dit geniet en ek het al soveel geleer. In die tyd toe ek nog met die bus geloop het werk toe, het die mense my dikwels gevra: “Hoe werk jy by daardie plek? Is daar nie rassisme nie?” Dan het ek altyd vir hulle gesê ek het nog nooit rassisme hier by my werkplek ervaar nie. Ek voel ook nooit uitgesluit nie, maar ten volle deel van almal hier.”
Foto: Facebook
Rebecca het ʼn seun, Thabo, wat by ʼn maatskappy in Sandton werk. Sy is besonder dankbaar dat hy mylpale bereik het waaroor sy net kon droom en dit is alles te danke aan haar werk by die Voortrekkermonument. Die appel van haar oog is klein Kgosi, Thabo en sy vrou, Philwe, se seuntjie. Sy het sommer groot planne vir klein Kgosi en hoop hy kan eendag die geleentheid kry om aan die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria te studeer.
Oor haar vermoë om elf tale te praat, lig Rebecca bloot haar skouers. “Ek het grootgeword in Atteridgeville en daar kry jy ʼn mengsel van al die mense van Suid-Afrika. Ek self is ʼn Tswana soos my ma en my pa was ʼn Tsonga, maar ek het hom nooit as kind geken nie, die eerste keer wat ek my pa gesien het was op sy begrafnis. Wat vir my hartseer was, is dat ek graag sy stem wou hoor, maar daai kans was ongelukkig van my weggevat. As jy iemand in Atteridgeville by die Mall ontmoet, of selfs by die skool, moet jy al die tale kan praat. Dit is vir my so jammer dat so baie mense in Suid-Afrika hulle moedertale weggooi en oorskakel Engels toe. Ek sou graag wou sien dat ons almal ons moedertaal met trots moet kan praat, en dat dit oral erkenning sal kry.”
Rebecca sonder die Europese reis wat sy verlede jaar saam met ander werknemers van die Voortrekkermonument onderneem het uit as ʼn besonderse hoogtepunt in haar lewe en ook iets waarop sy werksgewys besonder trots voel. Hulle het verskeie lande besoek en dis oomblikke soos haar besoek aan die Sacré Cœur in Montmartre Parys, die sjokoladefabriek in België, die kabelkarretjies en sneeu van Switserland en Salzburg se onweerstaanbare sjarme wat uitstaan as hoogtepunte. Nog iets wat haar vir ewig sal bybly, is toe sy in Haarlem, Nederland, in ʼn kerk ingestap het en oorval is deur die gewydheid van die atmosfeer. Net daar en dan het sy ʼn geestelike lied begin sing en almal om haar sprakeloos gelaat.
Die een ding wat Rebecca graag sal wil sien, is dat die mense van Suid-Afrika die geskiedenis van ons land sal eer.
“As ʼn mens so na die Suid-Afrikaners kyk, lyk dit asof hulle glad nie meer ingestel is op die geskiedenis nie. In Europa het ek geleer jy kan nie jou geskiedenis afskryf nie. Jy laat dit agter jou en bou voort aan ʼn nuwe toekoms, maar jy ken jou geskiedenis. Mense moet meer leer oor ou Suid-Afrikaanse geskiedenis. Bring onse kinders na die Voortrekkermonument sodat hulle kan weet waar ons vandaan kom. Hulle moet ook weet waarheen hulle op pad is. Vir my is elke dag by die werk ʼn spesiale dag en ek hoop om nog aan baie mense se lewens hier ʼn verskil te maak!”