Skrywer: Persverklaring
ONDERWȆRELD – 4 APRIL TOT 15 MEI.
Daar is geen twyfel dat ‘n lewende opvoering van ‘n voorgeskrewe werk ‘n onmisbare hulpmiddel is wanneer leerders hul voorgeskrewe werk onder die knie moet kry. Die reaksie van leerders is ook deurgaans baie positief en hulle spreek gereeld hulle dankbaarheid uit dat hulle die betowering van lewendige teater kon ervaar.
Onderwêreld: 2024 Nasionale Toer
ASP toer vanjaar vanaf 4 April tot 15 Mei weer landswyd met die produksie: ONDERWêRELD.
Rolverdeling:
Die rol van Greg Owen word deur Connor McGill vertolk. Connor het matriek in 2023 voltooi en is ’n bekende gesig in tienertoneel.
Francois Lensley speel Greg se pa, Chris. Francois is veral bekend as Marko van 7de laan. Hy was ook te sien in Getroud met rugby en Binnelanders.
Greg se ma, Rina, word vertolk deur Marijke Coetser. Van haar vroeër werk sluit in Villa Rosa, maar die meeste TV-kykers sal haar herken as Maryke Beltrame van Getroud met Rugby.
Die rol van Eckardt Wilken, die nuwe graad 12-leerder by Lawson Kollege en ‘n kuberkraker, word deur Dante du Plessis vertolk. Hy het verlede jaar sy dramagraad by die Universiteit van Pretoria voltooi.
Die kleinseun van die stigter van die skool, TJ Lawson, word verolk deur Jacques Erasmus. In 2020 behaal hy sy dramagraad by die Universiteit van die Vrystaat en het intussen sy buiging in Binnelanders en Diepe Waters gemaak. Net soos Connor en Dante is hierdie sy heel eerste professionele rol op die verhoog.
Jaco Schoeman speel vir die derde agtereenvolgende jaar Mark Gibbons, beter bekend as Plank.
Sedert die eerste jaar wat Onderwêreld opgevoer is (2017), is Pierre Retief die grootste steunpilaar vir hierdie produksie. Nie net het hy gehelp om baie van die oudiovisuele materiaal te skep nie, maar hy het ook gesorg vir die klankbaan en beligting.
Hierdie produksie – wat gebruik maak van multimedia om die ‘onderwêreld’ van kuberkrakers verder uit te beeld – was in 2017 die wenner in die Naledi Theatre Award: Best Youth Production 2017.
Die Onderwêreld-Geselskap:
Francois Lensley
Marijke Coetser
Connor Mcgill
Dante Du Plessis
Jaco Schoeman
Jacques Erasmus
Pierre Retief
Andre Stolz
Andre Stolz Produksies (ASP) is hoopvol dat ons vir nog lank kan voortgaan om hierdie belangrike diens aan Afrikaanse jeugdiges te bied en te help om liefde en respek vir Afrikaans – en teater – te kweek.
Vir enige navrae, stuur ’n e-pos na productions@andrestolz.com
Na raming gaan daar vanjaar 50 vertonings wees en ’n totaal van 270 skole sal hierby betrek word.
Klik hier vir die toerskedule.
Meer oor Andre Stolz Produksies
ASP het sy ontstaan in 2004 gehad toe die eerste Tsjechof-fees in Johannesburg aangebied is. Sedertdien is verskeie nasionale kunstefeeste besoek met onder meer Tsjechof se Oom Wanja, Hedda Gabler (Henrik Ibsen), Harry Kalmer se Parkamampoer, Drie Dosyn Rose & The Good Candidate (beide deur Hans Pienaar), Die Nagloper (Riaan Malan) en Draadwerk (Daleen Kruger). ‘n Tweede Tsjechof-fees is in 2014 by Joburg Theatre (die ou Johannesburg Civic Theatre) aangebied.
In 2009 het die fokus verskuif en het ASP besluit om met vollengte produksies van Afrikaans Huistaal voorgeskrewe werke skole regoor Suid-Afrika te besoek.
Die eerste produksie (2009) was Mis (geskryf deur die befaamde Reza de Wet). In 2016 is Mis genomineer vir die Naledi Theatre Award: Best Youth Production.
Krismis van Map Jakobs deur Adam Small was in 2012 aan die beurt met opvoerings by die Roodepoort Teater, die Springs Teater en Kunstekaap Teatersentrum, Kaapstad.
MY JAPAN (deur Schalk Schoombie) word in 2016 deel van die repertorium. MY JAPAN is ook genomineer vir die Naledi Theatre Award: Best Youth Production 2016.
Vanaf 2017 toer ASP landswyd met ‘n vierde produksie – ONDERWȆRELD. Hierdie roman, deur die gewilde jeugromanskrywer Fanie Viljoen, is vir die verhoog aangepas deur Andre Stolz – wat ook die regie behartig.