Skrywer: Alita Steenkamp
Hou jy van poësie en is jy iemand wat daarvan droom om gedigte te skryf wat werklikwaar die hart raak?
ʼn Heerlike geleentheid om meer oor die skryf van gedigte te leer, is nou beskikbaar met ʼn aanlyn kursus deur Skryfnet, die Afrikaanse skryfskool.
Die ervare digter Daniel Hugo het die aanlyn kursus ontwikkel wat oor ses weke aangebied gaan word en waarin al die deelnemers die geleentheid sal kry om ʼn gedig of gedigte te skryf en met ʼn afgeronde produk te spog na afloop van die kursus.
Hierdie is ʼn baie praktiese kursus wat sal fokus op al die belangrikste elemente van die digkuns. Die “Skryf ʼn Gedig”-kursus is nie bloot net daar vir mense met ervaring in die skryf van gedigte nie. Dit is daar vir enigeen wat graag met woorde en verse wil woeker. Van die temas wat aangeraak sal word, is dinge soos waar ʼn gedig vandaan kom, wat van iets ʼn gedig maak, beeldspraak en klank. Daar sal ook gekyk word na die verskillende digsoorte.
Daniel Hugo, wat die digkursus ontwerp het, is self ʼn baie ervare digter en vertaler. Hy beskik ook oor ʼn doktorsgraad in vernufspoësie. Uit Daniel se pen het daar al 16 digbundels verskyn. Vir sy laaste bundel, Klinkklaar wat in 2021 verskyn het, het Daniel in 2022 ʼn ATKV Woordveertjie ontvang. Hy is ook reeds twee maal deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns bekroon vir sy vertaalwerk uit Nederlands.
Die kursus kos R2 500 per persoon. Om in te skryf, klik hier. Inskrywings sluit op 4 April 2024. Deelnemers wat die kursus voltooi ontvang ʼn sertifikaat van Akademia. Die kursus skop op 8 April met ʼn aanlyn verwelkomingsessie af.