Skrywer: Alita Steenkamp
Madelein Rust skryf nog ʼn naelbytnovelle
Skrywers se verbeeldings loop soms op heel interessante paaie. Wanneer laas het jy ʼn boek gelees waarin die hoofkarakter ʼn hoogswanger vrou is? Weliswaar ʼn sexy, bekwame en baie fikse vrou? Dit sal jy kry as jy Madelein Rust se Siembamba nader trek. Hierdie boek van Madelein wat verlede jaar in Augustus verskyn het, kry baie goeie resensies en is steeds op topverkoperlyste. Die lesers hou dus baie duidelik van wat Madelein hiermee geskep het. “Ek het nog niemand gekry wat wou weet hoekom die hoofkarakter hoogswanger is nie,” lag sy.
In Siembamba leer ons vir Mindie Rochebrandt ken. Sy verwag haar eerste baba. Dan word sy gekonfronteer met die ontstellende nuus van haar identiese tweelingsussie, Mandelien, se dood. Beide Mandelien en dié se ongebore baba is slagoffers van ʼn grusame moord. Vir Mindie is hierdie die begin van die soektog om die skuldige aan te keer en sy laat nie toe dat haar swanger lyf ʼn stokkie voor enige van haar planne steek nie..
“Terwyl ek aan Moederland geskryf het, het ek besef watter vreemde maniere daar is waarop babas sterf. Ek het begin navorsing doen om te sien hoe ver misdadigers sal gaan en was verstom oor die resultate. Dit het aan my die idee vir ʼn volgende boek gegee en so is Siembamba gebore.
Soos baie van Madelein se boeke, speel Siembamba in Bloemfontein af. Madelein het grootgeword in Bloemfontein en vir jare daar gebly en het dus ʼn sagte plekkie vir hierdie stad al is die verval en agteruitgang in Bloemfontein tragies om te aanskou. Vir haar was dit dus maklik om die hele storie te plooi en te weet presies waar is wat. Sy lag en sê met die redigeerproses het hulle wel agtergekom hier en daar het ʼn straat ʼn laan geword, maar die klein foutjies is uitgehaal voordat die boek drukkers toe is. Madelein se hart is seer wanneer sy deesdae deur Bloemfontein ry en die onkruid op die sypaadjies staan kniehoogte. Jy kan duidelik sien die munisipaliteit is bankrot en sy word hartseer wanneer sy dink aan die tyd toe Bloemfontein die Stad van die Rose was. “Ek weet nie wat dit gaan kos om die dorp te red vanuit die moeras van armoede en korrupsie waarin hy nou op die oomblik is nie,” sug sy.
Mindie Rochebrandt is ʼn karakter wat sommer net op die voorgrond getree het, sê Madelein. “Ek het aanvanklik nie gedink ek gaan ʼn boek skryf waarin die hoofkarakter ʼn hoogswanger vrou is nie. Ek hou daarvan om boeke te skryf waarin die hoofkarakters vreeslike sexy, maar sterk vrouens is. Toe dink ek by myself: Weet jy wat, swangerskap is nie ʼn siekte nie. Dis nie ʼn toestand nie. Jy kan nog net so sterk en sexy wees, al is jy swanger. Ek het gevoel dit gaan daai bietjie deernis by die leser wakker maak wat dit ook by my wakker gemaak het toe ek die karakter beskryf het. Mindie was eintlik nog ʼn bietjie sterker as in die boek, maar die uitgewer het gesê: “Madelein, kom ons tone dit ʼn bietjie down.”
“Ek het egter gedink aan die tyd toe ek hoogswanger was met my eerste kind. My gewese man het radiobeheerde renmotortjies gery en ek was die werktuigkundige wat in die kuipe gewerk het. Soms het die renmotors se seine gekruis en dan jaag dit sommer net die veld in. Ek onthou hoe het ek met my swanger boep rondgehardloop en deur drade gekruip het agter wegholkarretjies aan. Dit het vir my gevoel as ek so sterk en ʼn willewragtig kon wees terwyl ek hoogswanger was, dan kan ʼn ander vrou dit ook sowaar doen.”
Madelein is tans aan die skryf aan ʼn boek oor ʼn kind wat in ʼn kultus grootword. Haar ouers dink egter glad nie dat dit ʼn kultus is nie, maar sien dit bloot as ʼn gemeente. Die verhaal speel af in ʼn denkbeeldige nedersetting sowat 127 km van Bloemfontein af. Vir die skryf van die boek het Madelein ontsaglik baie navorsing gedoen oor kultusse. Sy het sommer haar eie kultus opgemaak uit ʼn klomp verskillende kultusse se eienaardighede.
Goeie nuus is dat daar in die middel van die jaar ʼn splinternuwe boek van Madelein gaan verskyn. Die boek, sê sy, is in ʼn genre wat sy nog nie voorheen aangepak het nie, maar baie lankal wou skryf. Sy mag egter nog niks meer van die boek verklap nie.
ʼn Mens kan nie anders as om met die grootste respek na Madelein Rust te kyk wat ten spyte van aggressiewe kanker, baie pyn en ongemak weens die behandeling, steeds aanhou skryf nie. Sy vertel dat sy daarvan hou om by haar roetine van soggens vier uur te hou. Dan staan sy op en gaan sit agter die rekenaar. Sommige oggende, wanneer die pyn fel is, sal sy bloot ʼn paragraaf of twee skryf, maar skryf sal sy skryf.
“As jy wil skryf en daar is ʼn storie binne jou, kan jy nie toelaat dat chemoterapie jou keer nie,” sê sy. “Dis mos nou maar een ding wat waar is van enige skrywer. Wanneer daar ʼn ding in jou kop is en hy wil uitkom, gaan hy nie vir jou rus gee totdat hy nie uit is nie. Ek is geweldig dankbaar dat die stories hulleself elke keer by my kom aanmeld. Dan moet ek opstaan en aanhou skryf. Ophou, die gaan ek nie.”
Siembamba Madelein Rust
ISBN: 9780798183765