Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Baie van ons onthou nog die dae van ure in die biblioteek spandeer om navorsing vir ’n skooltaak te doen. Sommige van ons het die voorreg gehad om ensiklopedieë tuis te hê en toe ons eers toegang tot ’n persoonlike rekenaar gekry het en later in die laat negentigs en vroeë 2000 die multimedia- digitale ensiklopedie van Microsoft, Encarta, op CD-ROM of DVD kon aflaai, het skooltake ’n ander betekenis gekry. Nou ja … dit was toe. Vandag lyk die prentjie heeltemal anders en is die gebruik van tegnologie en die internet deel van die alledaagse lewe – selfs kleuters weet hoe om die tegnologie in te span.
’n Hele nuwe wêreld het oopgemaak en nou met die ontwikkeling van kunsmatige intelligensie (KI) is die moontlikhede legio en iets waarsonder ons nie meer kan klaarkom nie. Daarom dan ook dat kuberveiligheidskenner, Rianette Leibowitz, reeds in 2021 in ’n reeks video’s op Netwerk24 se LeerSaam-platform, gesê het dat die internet per se nie ’n slegte plek is nie en dat sosiale media talle geleenthede bied, MAAR dat dit elke ouer se verantwoordelikheid is om toe te sien dat ons kinders bewus is van die risiko’s en aanlyn veilig gehou word.
Rianette sê dat ons nie net onsself moet beskerm nie, maar ons kinders moet bemagtig om nie in die slaggate van kubermisdaad vasgevang te word nie. Afrikaans.com lig graag die volgende belangrike kwessies uit:
Aanlyn teenwoordigheid is hier om te bly – die goed en die sleg
Moenie jouself flous en dink jy kan jou kind weghou van die internet nie of hulle straf deur hulle toestelle weg te neem nie. Ja, daar moet grense en reels in plek wees, maar die onderrigmetodes het sodanig verander dat internetgebruik onafwendbaar is. Dit is ook aanlyn waar ons kinders met ander kontak maak (“connect”) – en dit is hierdie “connectedness” wat hulle laat tiek. Ongelukkig is dit ook hier waar hulle blootgestel word aan die gevare en kuberboeliery.
Hierdie realiteit noodsaak dus dat ons as ouers onsself moet bemagtig om seker te maak ons verstaan hoe die verskillende apps, webwerwe en so meer werk. Ons moet as’t ware die gevare of risiko’s sien voordat dit ons kinders negatief kan raak.
Bronne en lees meer:
Kuberveiligheid | Leersaam | Kyk + luister | Netwerk24
Help jou kinders om in nuwe jaar veilig te wees in kuberruim | Netwerk24
Kuberboeliery – Die gevaar op ons kinders se vingerpunte – Leerhulp (afrikaans.com)
Vyf wenke om kuberboeliery te hanteer – Afrikaans.com
’n Paar navorsingsfeite
Die maatskappy Digimune het in 2021 as deel van ’n navorsingsprojek vrae oor aanlyn veiligheid aan 200 ouers gestuur. Die resultate van die toetsgroep was onrusbarend:
- 51,5% van kinders was al slagoffers van kuberboeliery – dit is meer as een uit elke twee kinders in die toetsgroep.
- 54% van die kinders het al toegang tot onvanpaste inhoud op digitale platforms verkry.
- 43,5% van die kinders (dit is twee uit elke vyf kinders) het al persoonlike inligting op die internet gedeel.
- 36,5% van die kinders was al slagoffers van aanlyn vernedering of wraakpornografie.
- 35% van die kinders is al deur aanlyn bekruipers geteiken.
Bron: Kommer oor kinders se digitale veiligheid – studie | Netwerk24 – 10 Maart 202
Blootstelling
Blootstelling: Dit sluit kuberboeliery in. Maak seker jy weet wat dit is en wees bedag daarop. Dit is daarom belangrik om ’n goeie verhouding met jou kind te hê sodat hulle die vrymoedigheid sal hê om hulle bekommernisse met jou te deel. Ouerskapkenner, Heidi Malan van Parent & Educational Training, sê dat die soort boeliery selfs meer skadelik kan wees as tradisionele boeliery omdat dit heeldag en aldag kan voorkom en ’n baie wyer gehoor kan bereik. Dis moeilik om te identifiseer, veral as jy nie bewus is van wat op jou kind se sosialemediaplatforms gebeur nie. Kuberboeliery sluit aanlyn vernedering en negatiewe opmerkings in, en daar word dikwels foto’s en video’s geplaas waar die slagoffer geteiken word. Wat dalk vir jou as volwassene nie “so erg” lyk nie, is dikwels nie die geval vir ’n jong mens nie en vir so ’n kind voel dit asof sy hele wêreld inmekaartuimel – met soms ernstige gevolge.
Maak dus seker jou kind weet dat
- boeliery NOOIT aanvaarbaar is nie;
- hy daarteen MAG en MOET opstaan;
- hy nie op kwetsende boodskappe moet reageer nie;
- hy ander wat geboelie word, moet ondersteun; en
- hy daaroor moet praat.
Ouers kan die volgende doen:
- Monitor jou kind se aanlyn aktiwiteit – “ek het nie geweet nie” is nie ’n verskoning nie! Gaan dus hul privaatheidinstellings na om seker te maak ongewenste persone kry nie toegang tot hul persoonlike inligting nie.
- Beklemtoon die belangrikheid van internetveiligheid. Dis sluit in:
- Aanlyn privaatheid en die beskerming van persoonlike inligting – moenie foto’s, video’s, id-nommers, telefoonnommers, ens. sommer net deel nie. Kyk maar mooi wat is in die agtergrond van jou foto – dit is dikwels moontlik om uit die agtergrond vas te stel waar jy jou bevind – net wat ’n persoon met slegte bedoelings nodig het.
- Moedig jou kind aan om te dink wat die gevolge van hulle woorde en/of optrede op ander kan hê – en hulle daarom eers moet dink voordat hulle ’n plasing maak.
- Beperk tegnologiegebruik. Dis sluit in die hoeveelheid tyd wat jou kind aanlyn en op toestelle spandeer, beperking van sekere webtuistes en apps en veral ook op die ouderdomsgepastheid hiervan sodat jou kind nie blootgestel word aan ongewenste inhoud nie. Sê vir jou kind hoekom die sekere app nie geskik is nie.
- Stel die voorbeeld en handhaaf goeie digitale gewoontes. Jy kan nie vir jou kind sê hy mag nie heeldag op sy foon wees nie en dan is jou foon permanent deel van jou hand nie. Daarom is reels ten opsigte van tegnologiegebruik belangrik.
- Leer hulle om nie alles op sosiale media vir soetkoek op te eet nie. As hulle onseker voel oor iets, hetsy morele kwessies of ander uitdagings en of iets die waarheid is, moet hulle eerder vir jou as ouer vra om te help.
- Dring aan op digitaalvrye aandetes. Toestelle word weggesit en daar word rondom die etenstafel gesels. Dalk ’n vreemde konsep vir sommige van ons tieners (en sekere volwasssenes), maar baie belangrik. Reanette sê dat dit ’n geleentheid is om wel oor hul sosialemediagebruik te gesels. Vra wat vir hulle snaaks was, wat hulle laat glimlag het of wat interessant was.
- Moedig persoonlike kommunikasie aan. Dit het te maklik geraak om vinnig ’n WA of stemboodskap te stuur, in plaas daarvan om van aangesig tot aangesig met vriende te kommunikeer – veral as dit iets is wat uitgepluis moet word.
- Praat met jou kind oor empatie. Maak hulle bewus daarvan dat almal nie eenders is nie en ook nie dieselfde reageer nie. Leer hulle dat “hulle manier” nie noodwendig die “regte” of “enigste manier” is nie en dat hulle maar gerus daardie maat sy plekkie in die son kan gun.
Ons kinders is kwesbaar
“Sexting” (seksuele uitbuiting). Ongelukkig is die uitbuiting van ons tieners en kinders die harde realiteit. Seksueel eksplisiete foto’s of boodskappe word digitaal gestuur. Dit hou ook verband met kinderpornografie, kindermishandeling, menshandel, “sexual grooming” (seksuele gereedmaking) en afpersing. Nog ‘n rede hoekom die verhouding met jou kind oop en eerlik moet wees – wees kuberslim.
Beveilig jouself
- Dink voor jy klik. Die kuberskelms wil ons uitvang. Wees daarom bedag op e-posse met vreemde adresse of spelfoute – tipiese “phishing”-e-posse/boodskappe. Daardie e-pos wat lyk asof dit van jou bank afkomstig is – met die “regte” logo – maar die adres gee hulle weg …
- Jy kan ook ’n miljoenêr wees. As jy baie geld kan wen, maar eers jou besonderhede moet bywerk, kan jy maar weet … dit is te goed om waar te wees. Die meeste van ons moet maar werk om den brode.
- Maak tog seker wat jy lees is die waarheid voordat jy dit met ander deel. Daardie video van die brand, is dalk drie jaar gelede geneem. (Tik “fake news” in jou soekenjin in om maniere te kry om na te gaan of iets waar of vals is.)
- Beskerm jou persoonlike inligting. Maak seker jy weet wat met jou inligting gedoen kan word. Jy kan die stellings op jou foon of rekenaar aanpas en slegs toestemming gee vir dit waarmee jy gemaklik voel.
- Bankdienste en aanlyn inkopies. Dit is te heerlik en gerieflik, maar weereens belangrik om bedag te wees op die gevare van kuberkraking (“hacking”). Een wenk is om nie jou inligting te “save” nie. Doen liewer elke keer die transaksie van vooraf.
’n Laaste gedagte
Jy is in beheer. Doen jou navorsing, wees op hoogte van die jongste tegnologie en in die geval van jou kinders, maak seker jy is deel van hulle aanlyn lewe sodat jy nie op ’n dag verras word omdat jy nie geweet het nie. Rianette Leibowitz sê tereg: “Elke klik laat ’n digitale voetspoor en lei tot ’n rimpeleffek.” Daarom, neem beheer, stel grense en onthou: die persoon langs jou in lewende lywe is baie belangriker as die een met wie jy tans aanlyn gesels!